- Edward de Búrca is 'n Ierse bewonderaar van Karel Schoeman se skryfwerk.
Ek het altyd gedink Karel Schoeman sou ’n baie arrogante persoon wees. In ’n wêreld waar die ou norme en waardes ten gronde gaan (die goeies saam met die slegtes), het hy homself altyd apart van die res van die wêreld gehou (dalk sou voorbehou ’n meer gepaste uitdrukking wees). Die val van apartheid, die doelbewuste vernieling van die kultuurbande tussen Suid-Afrika en Europa, die begin van die era van die heerskappy van die meerderheid – aan al hierdie gebeurtenisse het hy blykbaar min deel gehad. Hy het sy gedagtes in andere bane laat verkeer.
Hierdie persoonlike apartheid het hy as ’n vlag gebruik, ’n vlag wat aankondig dat hy met ander (beter?) dinge besig is. Terwyl al die “ander” mense (sowel dié van Europese afkoms as dié van ander etniese agtergronde) met die gemeenplase van die lewe sukkel, sit hy en worstel met hoëre onderwerpe. Dit het my weliswaar soms geïrriteer. Sulke arrogansie, sulke hoogmoed! En ek is dalk nie die enigste nie. Mens dink aan André P Brink se resensie van Schoeman se outobiografiese werk, Die laaste Afrikaanse boek, waarin hy vergelykbare menings uitgedruk het.
Maar hierdie kritiek is, het ek leer insien, ten minste deels onverdiend.1 Want wat vir arrogansie aangesien word, sou miskien beter as ’n aversie vir die moderne wêreld beskryf kon word. Die harde buitelyne van ’n wêreld waar slegs op die noodsaaklike gelet word, waar mens meer vir gemak as vir die onnodige maar tog mooi plegtighede van vroeëre tye belangstelling voel, het op hom skynbaar geen aantrekkingskrag uitgeoefen nie.
Ja, al bogenoemde gebeurtenisse waartydens hy gelewe het (gebeurtenisse wat vir ’n buitelander soos vir my van enorme belangstelling was), het byna geen plek in sy werke teruggevind nie. Al vanaf die begin van sy loopbaan as skrywer het die fokus altyd op die innerlike lewe gelê en nie op eksterne gebeurtenisse nie. Schoeman het self op vroeë leeftyd besluit om monnik te word in Ierland. Die Ierland van toe (jare ’60) was ’n slaperige, stil plek. Die kerk was toe nog steeds die kern van die maatskappy, die oue gewoontes het nog enigsins voortgeduur. In Ierland kon hy rustig sy belangstelling in tale (Iers), in letterkunde (oa Oud-Ierse gedigte; sien Uit die Iers) en geestelikheid koester en voed. Uit ’n verre eiland, Afrika: ’n roman, ja selfs By fakkellig – dalk die mees polities-bewuste van sy vroeëre werke – het meestal oor die geestelike wêreld van die hoofkarakter gegaan.2 Hierdie hooffiguur was haas altyd iemand wat rumineer, wat diep oordink, wat verdiep in sy eie gedagtes deur die wêreld swerf; ’n ingewikkelde introspektiewe persoon en iemand wat tot in die kleinighede die wêreld om hom heen probeer beskryf. Die leser is geneig om te dink dat Schoeman in al hierdie karakters eintlik homself beskryf.
Dit lyk my waarskynlik dat Schoeman juis om hierdie rede sy verhale grotendeels in die verlede geplaas het. Want hy was self ’n ingewikkelde persoon, iemand met ’n buitengewone geesdrif vir die kleinighede van die lewe, die ingewikkelde reëls van verouderde sosiale plegtighede. Sy belangstelling in al hierdie verskynsels het hom byna verplig om sy karakters in historiese konteks te plaas. Want deur die geskiedenis noukeurig te verken en af te skilder het hy uiteindelik homself kon verken, die uithoeke van sy eie ingewikkelde persoonlikheid in kaart gebring en tewens só aan die onbarmhartige, alomvattende vlakheid van die moderne wêreld ontkom.
Die ongemak van ’n 19de-eeuse sosiale ontmoeting, ’n interaksie wat deesdae nouliks ’n paar glanslose oomblikke sou duur, het hy tot in die fynste besonderhede weergegee. Maar in al hierdie fiktiewe omgewings het Schoeman byna nooit sy eie mening bekend gemaak nie. Hy het bewus of onbewus as ’n suiwere optekenaar van die verlede gefungeer. Hy het sonder vrae historiese gebeure afgeskilder sonder om self ’n oordeel uit te spreek. Selfs in By fakkellig, waar ’n mens geneig sou kon wees om ’n direkte vergelyking te trek tussen die situasie in Ierland en dié in Suid-Afrika tydens apartheid, het hy die storie altyd na die innerlike lewe van die hoofpersoon teruggebring – dit was veral sy strewe, sy stryd waaruit die kern van die storie gevorm is.
En die ultieme bedoeling van al hierdie werk? Om deur middel van historiese fiksie by ’n egter, duideliker weergawe van die verlede uit te kom? Historiese fiksie as ’n middel om die leser in die verlede te plaas en hom dit te laat belewe sonder die behoefte om ’n lang lys van historiese feite te moet verwerk? Fiksie? Metafiksie? Één of almal van hierdie redes sou hier van toepassing kon wees. Maar soms is die egte antwoord nie so ingewikkeld nie. Van die mees suksesvolle skrywers skryf vir hulself. Miskien het Schoeman hierdie historiese wêreld eenvoudig self nodig gehad as ’n toevlug, ’n veilige plek waar hy homself kon wees, met dalk ook plek vir ander gelykgesinde lesers.
En die betekenis van sy werk vir Suid-Afrika? Vir fiksie in die algemeen? Was hy slegs nog ’n arrogante skrywer? Miskien. Maar dalk het die wêreld sulke skrywers, en sulke mense, nodig: mense wat die minder “nuttige” aspekte van die lewe bestudeer, opskryf, vir die ewigheid op papier sit; mense wat trots is op hulself omdat hul met hierdie dinge besig is en nie die gewone pad bewandel nie. Ja, in ’n wêreld waar mense steeds meer tyd deurbring om die lewe makliker te maak, het ons iemand nodig wat teen die stroom van die werklikheid swem; mense wat sê: “Ja maar, verloor ons nie dalk iets in hierdie maalstroom van modernisering nie?” Karel Schoeman was so iemand. Sy byna unieke bydrae het bestaan daarin dat hy die minder opvallende elemente van Westerse kultuur probeer behou het, en dit in ’n wêreld wat geen nut meer sien in sulke dinge nie. Sy uittrede het te vroeg gekom, sy stem, die stem van ’n vergane Suid-Afrika, sal nie meer lui nie.
Ar dheis Dé go raibh a anam.
1 Uit persoonlike kontak met hom kan ek getuig dat hy ’n uiters warme en vrygewige persoon was.
2 Ek beken, ek is ’n Ier …
The post Die ingewikkelde Karel Schoeman appeared first on LitNet.