Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Om te skryf

$
0
0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Samestellers

Vertaal en saamgestel deur Adriaan Basson, Amanda de Lange, Anastasia de Vries, Antjie Krog, Bertie du Plessis, Bun Booyens, Dana Snyman, Danie van Niekerk, Elna van der Merwe, Erika de Beer, Francois Griebenow, Gerhard Lubbe, Gerrit Schaafsma, Gert van der Westhuizen, Hanlie Retief, Henriëtte Loubser, Jaydey Sass, Johan van Zyl, Johann de Lange, Johannes de Villiers, Kay Karriem, Koos Bekker, Maret Lesch, Marida Fitzpatrick, Marnus Hattingh, Nerisa Coetzee, Peter van Noord, Schalk Burger, Tim du Plessis en Yvonne Beyers.


Opsomming

Om te skryf
Uitgewer: Van Schaik

ISBN: 9780627029875

Kursusse in die skryfkuns word deesdae oral aangebied: by taaldepartemente aan universiteite, en ook deur skrywers self. Maar al wil jy hoe graag die fyner kunsies van skryf onder die knie kry, is dit nie altyd moontlik om een van hierdie kursusse by te woon nie. Nou is daar vir jou ’n gids as jy graag in Afrikaans wil skryf.

Hoe leer mens om te skryf? Deur oor die skouer van ambagsmense te loer. Bekende Afrikaanse skrywers en joernaliste het meegewerk aan die samestelling van hierdie skryfgids, gebaseer op Kane en Peters se klassieke werk, Writing prose. Die uittreksels word beskou as gesaghebbende voorbeelde van goeie skryfkuns, met vooraanstaande werke uit die Afrikaanse literatuur wat as basis dien om skrywers te inspireer. Die skryfstukke bestryk ’n hele spektrum van tekstipes:

  • Karaktersketse
  • Outobiografiese tekste
  • Vertellings
  • Beskrywings van plekke en dinge
  • Kommentaar oor idees en oortuigings
  • Oorredingstekste en verslae oor die kunste en media

’n Wye verskeidenheid stylaspekte word van naderby beskou. Ná elke stuk volg ’n aantal vrae wat jou prikkel om indringend te kyk na sake soos die moontlike leser en die doelwit van die teks, organisering, sinsgebruik, woordkeuse en ander aspekte wat in die teks na vore kom. Ten slotte word voorstelle vir jou eie skryfwerk gemaak aan die hand waarvan jy jou vaardigheid kan slyp. Die reeks uittreksels is saamgestel uit ’n verskeidenheid voorbeelde om belowende skrywers te steun in die ontwikkeling van hul eie, unieke skryfstyl.

Skaf Om te skryf aan en ontdek die vreugde van skryf in Afrikaans!


Uittreksel

Skryf van jouself

Skryfwerk, selfs jou inkopielys vir Pick n Pay, gaan meestal oor jouself. Slim waarnemers het lankal agtergekom wat woorde oor ’n mens verklap: Napoleon het glo eers ’n offisier se skryfwerk bekyk voor hy hom bevorder het. Elke soort prosa – of dit nou ’n rubriek, ’n sakebrief of ’n vertelling is – se vir ons iets oor die skrywer: kyk net na sy keuse van onderwerp, die diepte van sy kennis of die vaardigheid waarmee hy feite, menings of beskrywings slyp. Hoekom dan, as alle skryfwerk ’n element van “persoonlik” bevat, een hele hoofstuk wy aan Skryf oor jouself?

Omdat die mate waarin ’n skrywer hom- of haarself by die storie betrek, aansienlik wissel. In sommige skryfwerk is die “ek” volledig op die verhoog, in ander is die “ek” bra waserig soos ’n spook en in nog ander skuil daar ’n onsigbare “ek” tussen die gordyne.

Oppervlakkig gesien, is weinig “ek” sigbaar in ’n wetenskapartikel of hofverslag, want die skrywer se oënskynlike doelwit is om ’n stel feite of idees logies en doeltreffend weer te gee. Dié skryfwerk is gelaai met tegniese detail; die toonaard kom kleurloos voor, die taal noukeurig en gestroop van emosie; deursigtig, want die leser moet hom nie in woorde vasstaar nie, maar déúr hulle kyk om die onderwerp helder te sien.

(Maar loer gerus na die uittreksel uit prof. JC de Wet se handboek in Hoofstuk 69: jy kan minagting vir sy opponente in die akademikus se woorde ruik as jy maar net versigtig lees. Hier kruip die “ek” tussen die gordyne weg.)

Aan die ander kant kry mens persoonlike skryfwerk waarvan die onderwerp openlik die skrywer self is. Sulke prosa doen tipies informeel en familier aan, en die doel daarvan is nie net om die leser in te lig nie, maar ook te vermaak. Ernstige en diepsinnige stukke kan in hierdie opsig “persoonlik” wees, so ook komiese sketse; wat hierdie skryfwerk anders maak, is dat dit persoonlike gevoelens en waardes op die voorgrond voer. “Ek” word kwistig rondgegooi en die skrywer skep die indruk dat hy net met jou – ja, jou die leser – praat. Die struktuur is dikwels los, die toonaard eiesoortig en die taal kleurryk. Só ’n skrywer deins nie terug vir ’n individuele styl en woordgebruik nie.

Trouens, dié skryfwerk is dikwels ekshibisionisties: ’n konsert waarin die skrywer ’n spektakel van homself maak.

Álle stukke in hierdie afdeling plaas die persoonlike element voorop. Kyk mooi na die onderwerpe en tegnieke van elke stuk: miskien kan jy hulle in jou eie skryfwerk benut. Per slot van rekening is skryf oor jouself iets wat onervare outeurs dwarsdeur die geskiedenis dikwels eerste met sukses gedoen het. Kyk maar hoe sentraal “ek” staan in jongmense se musiek, hul poësie en in debuutromans – dus ’n goeie plek om te begin.

Hoe lyk die wereld van ’n jong vrou wat ’n duisend jaar gelede in Japan geleef het?

Hoe sien ’n sewentiende-eeuse adellike Fransman homself, en hoe lyk Jeanne Goosen deur haar ma se oë? Hoekom het Thoreau alleen in daai bos gaan bly? En wat beteken dit om ouer te word, terug te keer na ’n plek uit jou kindertyd, die aard van jou eie bewussyn te ondersoek?

Dís van die vrae waaraan skrywers in hierdie afdeling krap. Sommige van hulle praat direk en onmiddellik met jou. Ander staan as’t ware ’n tree terug, sodat jy hul tweeledige rol makliker kan raaksien: dié van onderwerp, en dan dié van skrywer, albei tesame op die verhoog. Dís waarom hierdie skryfwerk ons verras en boei. Wanneer jy oor jouself begin skryf, sal jy heel moontlik ontdek dat jy meer ingewikkeld is as wat jy gedog het.

Een manier – moontlik die beste – om te ontdek wie ons eintlik is, is om onsself aan ’n ander te probeer beskryf.

Die kussingboek

Sei Shōnagon was ’n hofdame van die Japannese keiserin sowat ’n duisend jaar gelede. Die dames en here van die hof was uitermate beskaafd en op seremonie gesteld. Hulle het versigtig fynheid van gedrag waargeneem en was lief daarvoor om hul sensitiwiteit vir gepoleerde vers en gesprek ten toon te stel.

Maar onder die selfbewuste opmerkings oor haar omgewing, voel ’n mens aan dat Sei Shōnagon ’n ongewone sensitiwiteit teenoor die lewe het. Haar reaksies op mense en die natuur het sy in ’n joernaal neergepen. Hierdie joernaal is ’n “kussingboek” genoem, want dis gebere binne ’n houtblok wat Japannese destyds as ’n kussing gebruik het.

Talle besonderhede van haar daaglikse lewe is natuurlik ver verwyderd van ons wereld. Ons ry nie in ossewaens of dra kimono’s nie. Nogtans kom baie dinge wat sy waarneem verbasend bekend voor. Sneeu val vandag nog in treffende patrone soos dit op haar dak geval het; wolke verander steeds van kleur soos hulle deur die lug sweef.

Dis welkom maar ook vreemd om ’n stem wat soos ons eie klink, deur die donkerte van ’n duisend jaar na ons toe aangesweef te hoor kom.

Oral in Die kussingboek kom kort lyste voor. Soos toe gebruiklik was, het Sei Shōnagon haar reaksies in sulke lyste opgeteken: “elegante dinge”, “skoon dinge”, “dinge wat jou in die verleentheid stel”, “plesierige dinge”, “dinge wat uit die lug val”, “dinge wat klein moet wees”, “dinge wat groot moet wees”. Ons het ’n klompie van hierdie lyste in twee omvattende kategorieë saamgestel: “Dinge waarvan ek hou” en “Dinge waarvan ek nie hou nie”.

Dinge waarvan ek hou

1 Ek hou van ’n wit kat met ’n swart rug.

2 Wanneer mens die rivier in helder maanlig oorsteek, hou ek daarvan om te kyk hoe die osse se pote in die water plas.

3 Sneeu. Hael. Ek hou nie van ysreën nie, maar wanneer dit gemeng is met suiwer wit sneeu, is dit baie mooi.

4 Sneeu lyk wonderlik wanneer dit op ’n sipresbasdak val.

5 Wanneer sneeu begin smelt of wanneer net ’n klein bietjie geval het, sif dit tussen die krake van die stene in, sodat die dak op sommige plekke swart is en suiwer wit op ander – die mooiste.

6 Ek hou van motreën en hael wanneer dit op ’n dak met dakplanke val. Ek hou ook van ryp op ’n dak met dakplanke, of in ’n tuin.

7 Ek hou van wit, pers en swart wolke, en reënwolke wanneer dit deur die wind aangedryf word. Dis wonderlik om te sien hoe donker wolke geleidelik na wit wolke verander wanneer dit skemer is. Ek glo dat dit in ’n Chinese gedig beskryf word wat iets sê oor “die tinte wat padgee rondom skemer”.

8 Dis roerend om ’n dun strepie wolk voor ’n helder maan te sien.

9 ’n Babamossie wat nader hop as jy soos ’n muis piep; of weer, wanneer mens sy bene met garing vasmaak en sy ouers insekte of wurms in sy bek stop – heerlik!

10 ’n Baba van so twee jaar oud wat vinnig kruip. Met sy skerp ogies sien hy ’n klein voorwerp en tel dit in sy mooi klein vingertjies op om vir ’n grootmens te wys.

11 ’n Kind wie se hare gesny is soos ’n non s’n [d.w.s. skouerlengte] wat iets ondersoek; die hare val oor sy oë, maar pleks van die hare uit sy gesig vee, kantel hy sy kop. Die mooi wit bandjies van sy broek-romp om sy nek geknoop – baie oulik.

12 Mens tel ’n pragtige baba op en hou hom ’n rukkie lank in jou arms; terwyl hy vertroetel word, klou hy aan jou nek vas en raak dan aan die slaap.

13 ’n Seuntjie van ongeveer agt jaar oud wat in sy kinderstem hardop uit ’n boek voorlees.

14 Mooi, wit kuikens wat nog nie al hul vere het nie en lyk asof hul klere te klein vir hulle is; al piepende volg hulle mens met hul lang bene, of hulle loop naby die moederhen.

15 ’n Erdekoppie. ’n Nuwe metaalbak.

16 ’n Biesiemat.

17 Die dans van lig op water wanneer mens dit in ’n houer gooi.

18 ’n Nuwe houtkis.

Dinge waarvan ek nie hou nie

19 ’n Rotnes.

20 Mense wat laat is om hul hande in die oggend te was.

21 Wit snot en kinders wat snuif terwyl hulle stap.

22 Die houers wat gebruik word vir olie.

23 Klein mossies.

24 Iemand wat lank nie bad nie, selfs al is die weer warm.

25 Alle verbleikte klere gee my ’n gevoel van onreinheid, veral dié wat glanserige kleure het.

26 ’n Man wat jy liefhet, word dronk en bly homself herhaal.

27 Om van iemand te praat sonder dat jy weet hulle kan hoor. Dit stel jou in die verleentheid, selfs al is dit ’n bediende of iemand anders wat heeltemal onbelangrik is.

28 Ouers wat glo dat hul lelike kind oulik is; hom vertroetel en dinge herhaal wat hy gesê het, terwyl hulle sy stem namaak.

29 ’n Man wat sy eie gedigte voordra (nie noodwendig goeies nie) en jou vertel van al die lof wat hulle ontvang het – erg ongemaklik.

30 Terwyl jy saans wakker lê, sê jy iets aan jou metgesel, maar hy hou eenvoudig aan slaap.

Vrae

Leser en doelwit

1. Dis onduidelik of Sei Shōnagon bedoel het dat haar Kussingboek ’n private joernaal moes wees en of dit gepubliseer moes word (nie soos ’n moderne boek nie, maar gesirkuleer tussen haar vriende aan die hof). Hoe ook al, dit is duidelik dat sy haarself wou uitdruk, so akkuraat as wat sy kon, oor wat sy alles gesien en gehoor het en hoe sy daaroor voel. Dink jy sy slaag hierin? Motiveer jou antwoord deur na spesifieke passasies te verwys.

2.Dink jy jy sou van hierdie vrou gehou het as jy haar geken het?

Organisering

3. Alhoewel lyste min probleme met organisasie bied, kan dit minder of meer gestruktureerd wees. Lyste kan volgens ’n beginsel soos chronologie of die toenemende (of afnemende) belang gerangskik word. Hierteenoor kan items ook losweg neergepen word soos die skrywer daaraan dink; slegs gebind deur vrye assosiasie.

Is Sei Shōnagon se lyste streng of losweg georganiseer? Verduidelik.

Sinne

4. ’n Gevaar in die samestelling van lyste soos “Dinge waarvan ek hou” is om eentonig te raak deur herhaaldelik te se “Ek hou van ... Ek hou van.” Kyk hoe Sei Shōnagon dit afwissel.

5. ’n Konstruksie soos ’n Seuntjie van ongeveer agt jaar oud wat in sy kinderstem hardop uit ’n boek voorlees (31–32) is ’n fragment*, want dit voldoen nie aan al die vereistes van ’n sin nie. In hierdie geval is daar geen hoofwerkwoord nie. Voorsien ’n hoofwerkwoord en wat ook nog benodig mag word om dié fragment in ’n volledige sin te omskep. Verbeter die verandering die passasie?

6. In sinskonstruksie word fragmente oor die algemeen as foutief beskou. Beskou jy die fragmente in hierdie passasie as ’n defek? Verduidelik.

7. Kyk na die konstruksie in reël 34, waar oor kuikens gese word al piepende volg hulle mens met hul lang bene. Die woord “piepende” is ’n deelwoord*. Die konsep kan langer en lomper gestel word as: “terwyl hulle piep, volg die kuikens mens met met hul lang bene”. Deelwoorde is dikwels ekonomies en kompak: die verband is duidelik en die sin hoef nie met ekstra woorde belaai te word nie. Vind nog ’n deelwoord in die teks wat effektief gebruik word.

8. Bestudeer die sinne in reël 6–9. Hierdie idees is in perfekte chronologiese (en logiese) volgorde georden: eerste kom die sneeu, daarna val dit in die krake van die dak, die patroon vorm en uiteindelik word dit gesien en die waarnemer reageer op die skoonheid van die beeld. Dis goeie sinskonstruksie – die organisering van idees volgens die vloei van die ondervinding wat beskryf word, of van die idee wat ontwikkel word. Wys nog ’n sin in die leesstuk uit wat soortgelyke aandag skenk aan die natuurlike vloei van idees of ondervinding.

9. Wat is die voordeel van die aandagstreep in reël 56? Wat impliseer dit?

Woordkeuse

10. Slaan die volgende woorde na: tinte (15), kantel (26).

11. Die sin in reël 7–9 bevat ’n goeie voorbeeld van ’n beeld*, dit wil se woorde wat tot een of meer sintuie spreek (sig, gehoor, ensovoorts). Tot hoeveel sintuie word hier gespreek? Hoeveel beelde is daar in die sinne in reël 21–23? Wys een of twee ander passasies uit wat treffende beelde bevat.

12. Hoekom is plas ’n goeie woord om te gebruik in reël 3? Wat bedoel die skrywer met die dans van lig op water (38)?

13.Wat presies is die verskil tussen Sneeu. Hael ... (4)? Dit is in skryfwerk belangrik om presiese woorde te vind om dinge te beskryf.

Om te leer

  1. Deelwoorde is ekonomies en kragtig.
  2. Wanneer dit moontlik is, stel die sin saam sodat jou woordorde die vloei van gedagtes of persepsies of aksies volg.
  3. Beelde gee skryfwerk skop.

Voorstelle vir jou eie skryfwerk

  1. Maak ’n lys van 10 dinge waarvan jy hou of nie hou nie. Moenie bekommerd wees oor die organisasie van die lys nie, behalwe vir die groepering van soortgelyke items.
  2. Fokus op die skep van presiese beelde met woorde wat lesers self laat sien en hoor. As jy hierin slaag, hoef jy nie “Ek hou van” te herhaal nie; jou beelde sal self die gevoel oordra. Skryf drie sulke beelde.

Verbeter jou styl

  1. Gebruik deelwoorde.
  2. Benut fragmente om jou sinstyl af te wissel.
  3. Vermy eentonige herhaling in jou sinne. Maak soms die sleutelbeeld die voorwerp van ’n uitdrukking soos “ek haat”; maak dit somtyds die onderwerp; en laat ander kere die beeld alleen die praatwerk doen.

The post Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Om te skryf appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>