Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20678

Vir Jan Rap, nog steeds oor Logika en Grammatika

$
0
0

Beste Jan,

Linguistiek is die wetenskaplike studie van taal met al sy aspekte, terwyl Grammatika ʼn onderafdeling van die Linguistiek is. Grammatika is ʼn wetenskaplike studie en logiese ontleding van taal in die algemeen, en ook van spesifieke tale.

In Antieke Griekeland het die Liberale kunste wat ʼn persoon moet bestudeer om vry te wees en aan gesprekke te kon deelneem, ingesluit Logika, Grammatika, Retoriek, Rekenkunde, Meetkunde, Musiek en Sterrekunde.

In die moderne tyd is daar heelwat vertakkinge van die Linguistiek. Daar is ook nog Toegepaste Linguistiek, wat vir die Opvoedkunde van belang is, want dit bestudeer hoe taal aangeleer word. Dan is daar ook nog Sosiolinguistiek, Psigolinguistiek, en Rekenaarlinguistiek.

Die woord ‘logika’ het verkillende betekenismomente: eerstens word daarmee bedoel die wetenskap omtrent dinkwette. Dit staan ook bekend as Denkleer en Redeneerkuns, en is ʼn dissipline wat as vak aangebied word. Ten tweede beteken dit die beredenering van oorsaak en gevolg, soos jy dit dan sal toepas in jou messel- en skrynwerkery. So is Grammatika ook ʼn vak wat taal se struktuur wetenskaplik benader, bestudeer, en logies uiteensit.

Dit is nie ʼn teenstrydigheid as ek sê iemand praat grammatikaal korrek, maar het nie grammatikale kennis nie. Kom ek verduidelik dit so: die kleuter, weens blootstelling aan Afrikaans, kan sê: “Die lelike eendjie swem”, en “Die eendjie is lelik”. Albei sinne is grammatikaal korrek. Die kleuter het hierdie sinne self gegenereer uit die taalsisteem wat hy onbewustelik baasgeraak het met die blootstelling. Hy het egter geen grammatikale kennis nie; dit kan hy slegs opdoen as hy skoolgaan, of ʼn onderwyser hom leer, of as hy grammatikaboeke lees waarin taalsisteme ontleed is. Hy weet nie dat ‘lelike’ ʼn attributiewe byvoeglike naamwoord is nie, of dat “lelik’ ʼn predikatiewe b nw is nie. Hy het nie die grammatikale kennis nie, maar dit verhoed hom nie om grammatikaal korrek te praat nie. Dit beteken dat indien ʼn taalkundige sy sinne sou bestudeer en beskryf, hy sou vind dat dit grammatikaal korrek is.

Om ʼn taal te leer, is slegs blootstelling aan die taal nodig. Om grammatikakennis op te doen vereis doelbewuste grammatikaonderrig. Êrens maak jy die opmerking dat tweede- en derdetaalsprekers selde die aangeleerde taal vlot praat. Die rede daarvoor is dat hulle onderwyser die grammatikametode gebruik het om hulle te leer. Hy leer hulle die grammatika van die taal en daarop word taalgebruik toegepas, en dit is verkeerd. (Slegs Latyn moet so geleer word.) Die direkte metode is die geslaagste manier om ʼn taal aan te leer, naas natuurlik blootstelling. Met die direkte metode word die taalsisteem (wat heel ingewikkeld is) onder die knie gekry sodat die leerder van die taal grammatikaal korrek te kan praat.

AS jy sê jy dink Chomsky word te hoog “aangeslaan” dan beteken dit dat jy al heelwat van sy werke bestudeer het, en ook ander linguiste s'n, wat jy dan seker hoër sal aanslaan. Ek is verheug dat jy so belang stel in die Linguistiek; nou kan ons mos verder gesels. Waaroor wil jy gesels? Die basisreëls? Die transformasiereëls? Die delesiereëls? Die fonologiese reëls? Die stilistiese reëls? Die bindingsreëls? Die konstrueringsreëls? Of miskien die interpretasiereëls? Miskien kan ons gesels oor hoe hierdie reëls uiteindelik representasies in die logiese vorm oplewer. Ek sal graag ook wil hoor watter linguis jy dan so hoog “aanslaan”, of dink jy maar dis Jan Rap, die linguis van alle tye wat vir Chomsky en kie wil voorskryf hoe hulle die Linguistiek moet beoefen?

Miskien het jy nie eens gelees wat ek oor ‘teorie’ geskryf het nie, of miskien het jy vergeet, want jy beantwoord ʼn brief wat ek ʼn maand gelede geskryf het. Net om jou geheue te verfris, ek het geskryf: “Wetenskaplikes weet goed wat hulle bedoel as hulle van ʼn teorie praat. Dit is die grondbeginsels van wat hulle in die natuur waargeneem het, soos bv. die evolusieteorie, die atoomteorie, die gravitasieteorie, ens. Hulle sal beslis weet wat ʼn theorem, teorema, is. ʼn Teorie is eksperimenteel, terwyl ʼn teorema deduktief is.”

Aan Engelse woorde of watter taal se woorde in Afrikaans gebruik word, kan niemand iets doen nie. Jy kan bid probeer, of as jy dalk dink vingertrek is sterker as bid, ook goed. As Afrikaans so ʼn beteuterde ou taaltjie is wat sommer verswak as hy Engelse woorde in sy woordeskat bykry, kan niemand dit verhelp dat hy dan sommer kwyn en verdwyn nie. Al troos is dat as Afrikaans dan so verdwyn, sal dit nie die kommunikasie tussen mense deur middel van taal verswak nie. Ons sal nog lustig met mekaar kan gesels. Gelukkig is Engels nog daar wat hom nie doodwurg as hy ʼn klompie vreemde woorde bykry nie.

Dis egter jou siening wat Afrikaans betref. Ek sien Afrikaans as ʼn florerende taal met ʼn ryk woordeskat. Gelukkig is diegene wat wil hou by 1875-Afrikaans, magteloos, want taal is wispelturig en gedurig aan die verander.

Angus

 

The post Vir Jan Rap, nog steeds oor Logika en Grammatika appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20678

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>