Die ikoniese beeld van Madiba in sy Springboktrui wat saam met Francois Pienaar die Webb Ellis-beker vashou, was lank dié beeld om Suid-Afrikaanse eenheid mee uit te beeld.
Jacob Zuma het ons op 7 April 2017 weer een gegee: van gewone Suid-Afrikaners wat in massas opruk en saamstaan in protes teen ’n korrupte leier. In Kaapstad het na beraam word 55 000 mense na die parlement gestroom om te eis dat Zuma afgedank moet word. Save South Africa reken dat ongeveer 40 000 mense hulle optog na die Uniegebou ondersteun het. Selfs ondanks die feit dat die SAKP en Cosatu hul optogte gekanselleer het, het mense in hul duisende regoor die land opgeruk, nie as deel van georganiseerde politieke optogte nie, maar as spontane uitdrukkings van ongelukkigheid met die politieke leierskap. En alhoewel dit Zuma se naam en gesig op die plakkate is, behoort die ANC kennis te neem. Hulle is op terme geplaas. Baie mense wat dalk gehoop het dat die ANC die regte ding sal doen, besef nou dis elke man vir homself.
Die beelde wat op televisie uitgesaai is, het sterk herinner aan die massas wat vroeër vanjaar teen Donald Trump in opstand gekom het, of dalk selfs na die optogte in Griekeland toe hulle ekonomie in duie gestort het in 2007–2008.
Daar is ’n gewilde uitdrukking wat lui: “No snowflake in an avalanche ever feels responsible.” Die massa-optogte dwarsdeur die land het baie duidelik gewys dat elke sneeuvlokkie se bydrae tel.
Wat hierdie protesoptogte histories maak, is dat dit dwarsoor kleur-, ekonomiese, partypolitieke en rasgrense heen gaan. Massa-optogte word tradisioneel deur die ANC gelei. Hierdie slag is dit egter téén die ANC en hul leierskap.
Die afgelope aantal jare het ons as ’n land gesukkel om ons protesvoete te vind. Apartheidstrukture is afgebreek en ’n komplekse demokrasie was besig om gebou te word – ver van perfek, maar ten minste iets waarvoor die meeste geveg het.
Zuma se koms het die einde van die wittebrood aangedui, maar ons wou dit nie glo nie. Of eerder, ons wou nie glo dat die ANC, die bevrydingsorganisasie wat ons van apartheid verlos het, hulle weg sou verloor toe hulle aan bewind kom nie. Alles te wyte aan die ongetemperde hebsug van een man.
Meer as een kommentator het Zuma se bewind vergelyk met ’n huwelik waar geweld en misbruik aan die orde van die dag is. Op 7 April het gewone Suid-Afrikaners hul voorneme om ’n egskeidingsbevel te verkry, aangekondig.
Dis nie ’n goeie dag vir Zuma nie. Die Internasionale Strafhof het beveel dat Suid-Afrika moet verduidelik hoekom hulle Al-Bashir nie gearresteer het toe hy in 2015 hier was vir ’n Afrika-Unie-byeenkoms nie. ’n Tweede kredietgraderingsagentskap, Fitch, het Suid-Afrika se ekonomie na rommelstatus afgradeer. Alhoewel Moody’s, die derde agentskap in die kragtige trifekta, met ’n maand uitgestel het, is daar geen rede om te glo hulle gaan nie ook afgradeer nie.
Zuma, en die ANC, het hulle gruwelik misgis met presies hoe ontevrede gewone landsburgers is. Hulle het oor en oor bewys dat hulle toondoof geraak het vir dit wat op voetsoolvlak aan die gang is, van Sassa-toelaag-ontvangers tot leiers van internasionale besighede. ’n Verdere voorbeeld van presies hoe toondoof hulle is, is die aankondiging dat R80 miljoen opsy gesit is vir feesvieringe vir Zuma se verjaarsdag oor ’n week.
Gewone Suid-Afrikaners is keelvol vir Zuma.
Maar ons hoef net na die Amerikaanse voorbeeld te kyk om te besef dat petisies en optogte alleen nie genoeg is om ’n korrupte leier wat klou soos ’n neet, uit die presidentskap te onthef nie. Die optogte, die sentimente wat nou aangewakker is, moet nou op een of ander manier gekanaliseer word in positiewe aksie.
Save South Africa het ’n tentkamp by St George’s-katedraal in Kaapstad opgerig, en hulle beplan om die tente dag en nag te beset tot 18 April, wanneer die mosie van wantroue in die parlement aangehoor sal word. Daar is egter meer nodig, want die kanse dat die mosie gaan slaag, is maar skraal.
Die opposisiepartye sal een of ander manier moet vind om hulle verskille opsy te skuif en saam te werk. Ons sal Zuma en die ANC by die stembusse moet uitstem. Die verkiesing is nou die DA, EFF, Cope en ander s’n om te verloor. Malema het dit raak opgesom toe hy die ANC die “own-goal specialists” genoem het.
Solank as wat Zuma en sy onderlinge in bewind is, gee die ANC die verkiesing op ’n skinkbord vir die opposisie. Die truuk nou is dat die opposisie nie óók “own-goal specialists” word omdat hulle oorversekerd is nie.
Wat die pad vorentoe ook al inhou, op 7 April het Suid-Afrikaners bewys hulle kan saamstaan, ongeag ras, ongeag kleur, ongeag politieke affiliasie. Op 7 April was ons almal trots Suid-Afrikaners.
En dis die grootste geskenk wat Zuma ons (onwetend, onwillig, onbewustelik) kon gegee het.
Hoop vir die bestaan van die reënboognasie.
Foto's: Naomi Bruwer, Stellenbosch
The post Suid-Afrika sê dankie, Msholozi appeared first on LitNet.