Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Polisie-selfdood: ’n verbode onderwerp

$
0
0

“More officers die by their own hand than are killed in the line of duty.”

Met hierdie ysingwekkende woorde word ’n rekenaargebruiker wat die selfdoodskakel op die South African Police Memorial-webwerf klik, begroet.

Dat daar groot fout is in die polisiediens, word so ver terug as 1995 reeds erken.

In ’n studie deur die Institute for Security Studies, in 2000 onder die titel “Forbidden subject: suicide amongst SAPS officials” gepubliseer, word dié stelling gemaak: “In 1995 police officers were 11 times more likely to take their own lives than members of the general population.” Sedertdien word daar jaarliks mijoene rande begroot aan selfdoodvoorkomingsprogramme onder polisielede

In 2013 erken die destydse minister van polisie, Nathi Mthethwa, dat 10 000 lede van ’n polisiemag van 155 000 lede aan depressie ly. Dit is ’n rapsie onder 7%. Dit is die getalle van persone wat hulp gaan soek het, of wat op een of ander manier gediagnoseer is. Ek vermoed dat die ware getalle veel hoër is, en dat baie polisiebeamptes nie hulp soek nie, omdat hulle bekommerd is dat dit hulle bevorderingsgeleenthede beperk.

Mthethwa het dit ontken, maar in dieselfde asem gesê dat polisiebeamptes wat vir depressie behandel word, se dienspistole weggeneem en hulle op administratiewe dienste geplaas word. Ek ken nie een enkele polisiebeampte wat dit nie as ’n vorm van straf sou sien nie. ’n Studie deur Noordwes-Universiteit dui aan dat 80% van alle polisiebeamptes wat selfdood pleeg, hulle dienspistole gebruik. Die meeste van hulle vermoor ook een of meer van hulle naaste familielede. Die rede wat hiervoor aangebied word, is dat ’n beampte wat in die loop van diens sterf, se familie pensioen- en ander voordele ontvang. ’n Beampte wat sy of haar eie lewe beëindig, se familie kry niks.

Daar is allerlei ander statistieke oor redes vir wat genoem word “suicide ideation” – die beplanning om jou eie lewe te beeïndig. Probleme in persoonlike verhoudinge, finansiële probleme, alkohol- of dwelmmisbruik, depressie word almal as indikators uitgewys. Gevallestudies oor werkstrauma word gedoen.

Daar is ook ’n sterk negatiewe persepsie teenoor die polisie, ook in die pers. Daar is byvoorbeeld heelwat publisiteit gegee aan die getuienis omtrent sterftes tydens Marikana. Feitlik geen verslaggewers het verslag gedoen oor die twee polisiebeamptes wat daardie dag aan diens was wat kort daarna selfdood gepleeg het nie.

Daar is statistieke oor geografiese impak, misdaadsyfers en veel meer. Statistieke, maak nie saak hoe nuttig hulle kan wees nie, gee die illusie van ’n veilige afstand tussen jou en die onderwerp van die studie. Geen statistiek berei mens daarop voor dat iemand wat jy vir ’n groot deel van jou lewe ken, sy eie lewe kan neem en terselfdertyd sal probeer om ’n geliefde se lewe te neem nie.

Maandagoggend 14 September het ek vroeg reeds berigte gesien van ’n Wes-Kaapse polisiebeampte wie sy vriendin gewond en toe homself doodgeskiet het. Die polisiebeampte se identiteit was nie dadelik bekend gemaak nie, soos wat standaard vir sulke gevalle is. Ek het die berigte gesien, in die verbygaan gedink oor hoe tragies dit is, en aangegaan met my dag. In my agterkop het ek hierdie idee gehad van ’n terneergedrukte “loner” met geen familiebande nie vir wie als net te veel geword het.

Die middag laat het ek ontdek dat die polisiebeampte iemand is met wie ek op skool vriendelik was, ’n persoon wie ek soms nog in die verbygaan gesien en geselsies mee aangeknoop het en mee kontak gehou het op Facebook.

Die statistieke probeer alles ontleed en uitmekaar pluis. Dit sê egter nie vir jou wat ’n joviale man, altyd gereed met ’n glimlag, iemand wat lief was vir Spur-brekfis, potjiekos met familie en vriende en gaande was oor rugby, duidelik trots op sy kinders, iemand wat sterk wortels in sy gemeenskap het, daartoe dryf om die sneller te trek op ’n geliefde nie. Dit verklaar nie hoe iemand wie ek altyd gedink het vol lewensvreugde is, kan besluit om ’n einde aan alles te maak nie.

Die dood – onverwagse, gewelddadige dood – kom altyd as ’n skok. Wanneer dit egter aan ’n persoon se eie hand gebeur, voel dit soveel erger, want daar is vrae: Hoekom het niemand iets agtergekom nie? Hoekom het niemand iets gedoen nie? Die polisie beweer hulle het sielkundiges om beamptes met probleme te help. Wat word egter gedoen om hulpsoek aan te moedig? Wat gebeur in die geval waar ’n beampte self nie besef dat hulle probleme erger is as wat hulle gedink het? Selfs die webwerf waarop ek gegaan het, is reaktief. Eers wanneer jy besef jy’t hulp nodig, by ’n rekenaar is en hulp aanvra, word daar iets gedoen.

“Ander se boeke is duister om te lees,” sê die spreekwoord. Dis onmoontlik om te weet of die gebeure van Maandagoggend verhoed kon gewees het indien iemand iewers die waarskuwingstekens gesien en vroeg genoeg ingegryp het.

Ons almal dra seerkry iewers in ons rond. Nie almal hanteer dit ewe goed nie. Iewers agter die joviale masker moes daar ’n diepe, donker maalkolk van wanhoop gewees het.

Wat van die vrou wat geskiet is? Sy’t een wond in haar skouer. Een koeêl is deur haar wangbeen, en sy’t ’n oog verloor. Ten tye van hierdie skrywe is sy nog in ’n kritieke toestand in die hospitaal. Die geestelike en emosionele wonde en letsels is egter veel moeiliker om te katalogiseer, want hoe meet mens die verlies aan vertroue in die mensdom as die persoon met wie jy ’n deel van jou lewe deurgebring het, probeer om jou lewe te beëindig? Is die verklaring vir die aanval op haar so eenvoudig soos die dinamika van ongelyke magsverhoudinge in ’n liefdesverhouding, van manlike dominansie en vroulike onderdanigheid? Of is daar iets veel meer kompleks aan die gang?

Wat van sy gewese vrou, en sy kinders? Nie net het sy kinders hulle pa verloor nie, hulle is skielik in hierdie traumatiese tyd in die openbare oog ingeforseer. Hy was deel van ’n identiese tweeling. Wat van sy broer, en die res van die familie? Daar is soveel vrae, en soveel seerkry. Daar is sy kollegas en vriende. Daar is die vrou wie hy aangeval het se kollegas en vriende en familie. Hoe verklaar mens die onverklaarbare?

Een lewe is beëindig. Vele ander is in die proses onherroeplik van koers gedwing.

Die beste waarop ek kan hoop, is dat hierdie skietvoorval ’n gesprek aan die gang sal sit oor gesonde, gelyke verhoudinge tussen mans en vroue, oor gesonde selfsorg in die polisie, oor hoe ongesond die hele “cowboys don’t cry”-machismo is. Ek kan net hoop dat daar iets betekenisvol kan voortspruit, dat Nevell du Toit nie net nog ’n statistiek in ’n lang ry statistieke word nie.

Statistieke heel nie wonde nie.

The post Polisie-selfdood: ’n verbode onderwerp appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>