Eers het die sogenaamde sout-en-peperpot-woonstelblokke teen Tafelberg se hang die Moederstad ontsier. Toe ʼn snelweg na nêrens wat halfpad in die lug ophou. Nou dreig ʼn “ruimteskip” om op een van die stad se histories geboue te land. Daar broei behoorlik ʼn storm onder bewaarders omdat die “ruimteskip Galactica” toestemming van die stadsraad gekry het om nes te maak op die historiese VOC-graanskuur in Breestraat.
Ander meen weer die moderne glaskonstruksie wat ontwikkelaars op dié historiese gebou wil bou, lyk meer soos ’n omgekeerde skip. Jean Oosthuizen het met Julian Melck gesels om uit te vind waaroor die bohaai gaan. Hy is ʼn direkte afstammeling van die oorspronklike argitek Martin Melck wat in Julie 1746 as bouer vir die Hollandse VOC by Simonstad aan wal gekom het.
Planne om ’n moderne glaskonstruksie bo-op die geskiedkundige Melck-skuur in Breestraat te bou, het skielik die groen lig gekry – ondanks erfenisbewaarders se stryd om dit te keer en groot protes daarteen. Hoe voel jy oor die jongste besluit?
Uiters teleurstellend, om die minste te sê. En verbasing dat die burgemeester, Patricia de Lille, in stryd met die sterk openbare gevoel die ontwikkeling ondersteun. Dit is ook ʼn afjak (wat anders is dit?) aan die stadsraad se komitee oor ruimtelike beplanning, omgewing en grondgebruik (Spelum), ʼn gesiene komitee van die einste stadsraad waarvan die burgemeester die leier is.
Jy is een van die argitek Martin Melck se direkte afstammelinge. Hy het die gebou wat tussen 1764 en 1767 gebou is, saam met die Lutherse Kerk-kompleks ontwerp. Die besluit raak jou dus persoonlik ook?
Ons voorvader se voetspore trap diep in die ryke erfenis van die Kaap, en hierdie straatblok, met die Lutherse Kerk, Martin Melck-huis, en die stoor wat nou ter sprake is, is by uitnemendheid die beste voorbeeld van sy nalatenskap. Ons is trots daarop, en weet dat hierdie gevoel met ʼn breë gemeenskap gedeel word.
Jy praat dus nie net namens jouself nie, maar verteenwoordig ook verskeie belangegroepe wat teen die ontwikkeling gekant is. Wat gaan julle nou doen?
Daar sal ʼn regsproses gevolg word om die ontwikkeling te stuit. Die stryd is nie as gewonne afgestaan nie.
Presies wat is julle beswaar teen die voorgestelde ontwikkeling en wat stel julle voor?
Die voorgestelde struktuur is lelik, en vernietig die prag van die hele vierstraatblok (Strand, Bree, Waterkant en Buitengracht) – die laaste van sy soort, wat geskiedkundigheid en skaal betref, in die stad. Hierdie glas-en-staal-konstruksie, net op grond van sy massa alleen, sal die vierstraatblok nadelig oordonder. Ons stel voor dat daar op straatvlak alleenlik ontwikkel word.
Volgens Patricia de Lille se burgemeesterskomitee stem die planne en voorstelle ooreen met die stadsraad se beleid en ruimtelike beplanning. Wat is jou reaksie daarop?
Dalk is dit so, maar dan moet die stadsraad se “beleid en ruimtelike beplanning” hersien word, as hierdie tipe besluit die gevolg daarvan is.
Die stadsraad sê hulle kan nie ’n besluit van “geen ontwikkeling” ondersteun nie. Is daar dan ander maniere om die gebou te ontwikkel?
Wie onder die erfenisbewaarders sê daar moet “geen ontwikkeling” plaasvind nie? Daar is menigte voorbeelde van ontwikkeling en verandering wat in sensitiewe areas in ou stede dwarsoor die planeet plaasvind. Hier is genoeg slimkoppe in die land om die proses van kundige en bruikbare ontwikkeling te ondersteun.
Die voorgestelde glasgebou is selfs al deur jou as die “ruimteskip Galactica” beskryf. Wat is jou persoonlike gevoel oor die voorgestelde gebou?
Ek volstaan met daardie beskrywing. Hulle wil iets leliks en ongewoon in die middestad, op daardie straatblok, laat neerstryk wat nie daar hoort nie.
Die jongste besluit volg nadat die stadsraad se komitee oor ruimtelike beplanning, omgewing en grondgebruik (Spelum) die ontwikkeling afgekeur het en dit vroeër deur een van die komiteelede, Joy McCarthy, as “lelik, hard en onvergeeflik” beskryf is. Waarom dink jy dit is nou skielik goedgekeur?
Vaderland weet! Die openbare mening is so sterk daarteen. Die siniese en politieke geeste op sosiale media, asook in die openbare pers, brom nou ‘n hond uit die bos uit met bespiegelinge oor jou vraag.
Wat dink jy van die burgemeesterskomitee se stelling dat die voorstel nie ’n nadelige impak op die erfenis het nie?
Daar is oorgenoeg navorsing wat die geskiedenis en die breë samelewing se betrokkenheid deur die eeue met hierdie straatblok en sy geboue uiteensit – dit is die tasbare erfenis en nalatenskap, en nou ‘n glas-en-staal-konstruksie bo-op? Nie nadelig nie? Loutere snert!
Hulle beweer die aangepaste voorstel vir die ontwikkeling maak dit “meer sensitief” vir die historiese konteks. Jy stem duidelik nie saam nie?
Ek stem glad nie saam nie. “Meer sensitief” – volgens wie se oordeel? Die vorige 2010-poging, waarvan die beton-en-glas-geraamte brutaal was, en nou die huidige afskuwelike voorstel – hier is geen sensitiwiteit betrokke nie.
Maar waarom is julle so sterk daarteen gekant as die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap (Sahra) en die provinsiale erfenisowerheid (Erfenis Wes-Kaap) die voorstel goedgekeur het?
Hulle het dit goedgekeur, ja. Ons het probleme met die proses wat gevolg is. Daar was min kans vir insette vanaf die beswaarmakers – die staldeur was al oop, en die perd gevlug toe ons op hulle besluite afkom.
Die voorstanders van die beoogde glaskonstruksie sê die voorstel sal nuwe lewe blaas in dié deel van die middestad, asook die restourasie van ’n belangrike deel van die historiese straatblok. Is julle nie maar net besig om vooruitgang terug te hou nie?
Nee, glad nie. Ons staan die voorstel teen omdat dit die straatblok juis gaan oorweldig, veral vanaf Bree-, Strand- en Waterkantstraat (die “fan walk”) gesien. Die voorstelle van die ontwikkelaars op straatvlak (let wel), waar ons as die burgery wandel, is heel aanvaarbaar. Ons maak beswaar teen die glas-en-staal-massa wat hulle teen Bree- en Waterkantstraat en bo die Melck-skuur wil oprig. Dit gaan daaroor omdat dit ook die aangesig van die Lutherse Kerk en Martin Melck-huis vanaf Strandstraat belemmer, en, met respek gesê, ook beledig.
Gaan kyk na Heritage Square, verder op in Breestraat. In die sewentigjare wou die stadsraad, as deel van ‘n nuwe ontwikkeling van rybane, hierdie geboue sloop. Vandag wemel dit van mense, Jan Alleman-hulle, met eetplekke, koffiewinkels, filmagentskappe ... so kan die Melck-skuur ook op straatvlak ontwikkel word, met sy fantastiese kommersiële ligging tussen hotelle en kantoorgeboue.
Die Augoustides-broers, wat al vyf jaar lank sukkel om die historiese gebou te ontwikkel, sê hulle het reeds baie geld aan die ontwikkeling bestee en dat dit in elk geval ʼn privaatgebou is wat aan hulle behoort en besig was om agteruit te gaan.
As jy geboue in ‘n historiese straatblok – een van die bekendste in die land – aanskaf om te ontwikkel, moet jy teëspoed vanaf erfenisbewaarders verwag. Die feit dat die geboue kwansuis verwaarloos is, en agteruitgaan, is hulle verantwoordelikheid as eienaars wat moet kyk na die behoud van die geskiedenis en prag van die plek.
So wie moet uiteindelik die skuld kry vir die heen en weer wipplankryery en waarom word daar eers een ding en dan weer iets ander besluit? Wat sit daaragter?
Wat sit daaragter? You tell me! Dit is nie ‘n kwessie van “skuld” nie – daar is prosesse en stryders betrokke, en alle moontlikhede om hierdie skending te stuit moet deurgetrap word.
The post Ruimteskip onwelkom in die Kaap appeared first on LitNet.