Die N1 loop met 'n boog styf teenaan die dorp verby. In hierdie kromming lê die dorp Richmond. Maklik bereikbaar uit die noorde én die suide.
Tien jaar gelede het Darryl David die Bookbedonnerd-fees op Richmond in die Noord-Kaap van stapel gestuur en vanjaar het die dorp en fees mank gegaan aan sy afwesigheid. Maar danksy selfone en skootrekenaars en die internet kon hy nogtans vanuit sy siekbed die fees bestuur.
Maar daar was nog 'n vlieg in die salf: die protesaksies op kampusse wat daartoe gelei het dat talle genooide sprekers die een na die ander moes onttrek.
Dit het gelei tot verskeie probleme met die program. Nietemin het die getroue gehoor en entoesiastiese sprekers op die boekedorp toegesak.
Ek het my bedenkinge gehad toe ek laat Donderdagmiddag opdaag en teen die aand deur die dorp ry op soek na 'n eetplek. Donker strate, toegegrendelde huise. Maar daar was lig en 'n wyd-oop voordeur en mense wat by klein tafeltjies op 'n stoep sit. Dié plek leer ek oor die naweek goed ken. Peter Baker se Supperclub wat ontwaak wanneer boekfeeste die dorp binneval.
Anders as vorige jare, veral verlede jaar s'n, kom die fees taamlik afgeskaal voor sonder die formidabele teenwoordigheid van Darryl David, wie se naam soos 'n naelstring deur die dorp loop.
Maar nietemin.
Vrydagoggend ry ek weer deur die strate op soek na iets om te eet, want die bed-en-ontbytplek waar ek bly, bedien nie ontbyt nie. Daar is 'n reusebeeld van 'n muis op die sypaadjie naby die biblioteek waar die feesgesprekke gehou word. Ek stap by Vetmuis Plaaskombuis in. Binne verkoop hulle beskuite en konfyte. Daar is ook gedekte tafels in die koel agtertuin. 'n Mooi jong vrou kom neem my bestelling. Sy kyk my so en sê “Vir jou ken ek.” Nee wat, skud ek my kop, ek dink nie so nie. Die koffie is heerlik en die ontbyt word keurig voorgesit. Later kom loer sy weer. Dié keer klap sy haar vingers. Paarl Girls’ High! Jy het vir my skoolgehou. My naam is Janine, ek was hoofmeisie in 2001.
Ek eet en gesels so lekker dat ek die eerste sessie van die oggend misloop, maar is gelukkig betyds vir Gilbert Gibson se praatjie. 'n Dokter wat kan dig. Hy ontleed sy "Oogensilopedie" aan die hand van gedigte uit die bundel. Dis nie die oog wat kan sien nie, sê hy, dis die brein.
Sy boek Flat/White – Confessions of an Expat het niks met koffie te doen nie, vertel Ted Botha. Hy wou nie 'n Suid-Afrikaner in New York wees nie, sê hy, maar hy kon nie daarvan wegkom nie – “South Africanness follows you around.” Dit is ook net Suid-Afrikaners wat vir ekspats vra hoekom het hulle teruggekom. “South Africans do themselves a disservice,” meen hy.
Wat is dit wat jou identiteit vorm? vra hy homself. “The difficulty to relate to people around you, the different sense of humour and irony. Americans don't understand that.” Identiteit is gekoppel aan kos, taal, die Karoo wat die aarde, Afrika, simboliseer.
Tydens die teepouse, klaar tee gedrink, sit ek buite op die stoep, my oë op die massiewe, pragtige kerkgebou oorkant die straat. Bakkies kom stop met dieselgromme in die straat voor die kerk. Wit tafeldoeke word uitgeskud en op lang tafels in die groen tuin neergevly vir die basaar. Mense kom en gaan. Stalletjies verrys.
Maar daar is nog 'n tafereel. Dit speel die hele naweek buite die deure en die hekke in die straat af. 'n Ou man geklee in 'n ANC-T-hemp en 'n verslonste langbroek. Bakhand van die een na die ander wat verby hom swenk. 'n Ent weg van hom, soos 'n teenpool, nog 'n ou man. Netjiese blou jeans, DA-hempie onder 'n waardige ligte baadjie, hoed op die kop, leun op 'n kierie. Nie bakhand nie, maar soek sy teikens tydsaam uit, stap glimlaggend nader en praat saggies met diegene wat tog stilstaan om te luister.
En tussen hierdie twee ou mans volg klein kindertjies hulle voorbeeld. Ek werk vir my geld, sê 'n vrou vir die ANC-T-hemp en klim in haar kar.
Gilbert Gibson jaag in sy bakkie die straat af, die dorp uit.
Ek is nog hier is die titel van Irene Fischer se boek oor haar lang en moeisame reis ná 'n grusame motorongeluk. Jy luister na hierdie formidabele vrou en ál jou probleme gly van jou af. Jy hét nie probleme nie, daar is níks wat jou pla nie. Irene Fisher leer ons wat “hemiplegic” beteken. Ons kry haar nie jammer nie. Sy leer ons dat die mens sterk is, dat die menslike gees die impak van vier olifante op jou motor en jou lyf kan oorkom.
Saterdagoggend. Ek eet nie ontbyt nie, want die senuwees pla. Terwyl ek voor staan en oor my boek praat, sien ek een van die mans in die gehoor sit skuinsgedraai in sy stoel en blaai deur 'n lywige boek wat hy uit die boekrak langs hom gehaal het.
Juliana Coetzer staan uit in die gehoor met haar glimlag en treffende voorkoms. Mens hou jou hart vas terwyl sy praat oor die siekte wat haar dogter, Anneke, opgedoen het. In Bloedvreemd skryf sy eerlik en sy praat net so openhartig, maak nie saak watter vrae na haar gegooi word nie.
Tee en koffie word langsaan bedien. Ek is rasend honger. 'n Lang tafel op die sypaadjie, wit tafeldoek lig wapperend in die wind. Swierige staander met soet en sout eetgoedjies . 'n Vrou roep my nader, ons klink teekoppies. Ons praat verder oor haar vraag vroeër: Vir wie het jy hierdie boek geskryf? Vir myself, het ek gesê, maar ek glo dat die boek haar eie lesers vind. Sy en haar man is familie van Wilna Matthee, 'n oudkollega by Monitor, wat pas haar laaste program uitgesaai het. Wilna stuur groete, sê die man. Hulle koop my boek en ek skryf vir Wilna 'n mooi boodskap voorin.
En dan was daar Willem Anker en daar was Nathan Trantraal. Diep denkers wat min praat en baie rook.
Peter Barry, die ersatz-sameroeper, sit moedig deur die Afrikaanse gesprekke en voorlesings. Toe hy Ronelda Kamfer aankondig met: “And now it's time for some soothing poetry”, bars die gehoor uit van die lag. Ons ken Kamfer en Trantraal se gedigte: daar is niks strelends daaraan nie – hulle ontstig en ontstem. En Seymour staan in die gangetjie tussen die stoele met haar pa se kamera in die hand, kiek dán haar pa terwyl hy sy gedigte voorlees, dán haar ma wanneer dit haar beurt is.
Ek wens ek kon al hierdie woorde in hierdie vertrek in my hande opvang en buite in die straat gaan uitdeel. In die kinderhande wat so bakhand staan. Woorde wat sê: ek sien jou raak, ek hou jou vas, neem, dit is my liggaam. Ek wens ons kon die deure óópgooi.
John Cameron-Dow was ook daar met sy FW de Klerk-biografie.
Maar die hoogtepunt van die dag was John Matisonn. Dit was sy stem, sy “presence” en sy robuuste aanbieding wat die aandag gesteel het. En ja, sy boek: God, Spies and Lies.
Toe Jacob Zuma destyds op Robbeneiland aankom, kon hy nie lees en skryf nie. Dit was Dikgang Moseneke en Ibrahim Ibrahim wat hom geleer het. En kyk wat het hy met Moseneke gedoen, skerts Matisonn. Hy sê sy boek fokus veral op die verhouding tussen politici en joernaliste, daardie verhouding wat so tússen die reëls bestaan het. Hy het vroeër vanoggend in hierdie selfde biblioteek waar ons sit, 'n boek oor die Franse Revolusie uit die rak gehaal en daarin geblaai. Kom toe op die volgende stelling af, wat by hom resoneer en waarby sy tema aanklank vind: Die Franse Revolusie het ontvlam toe die koning se geld opgeraak het.
Hy gee pittige one-liners – ek moet vinnig skryf om by te hou.
“What changed the equation in South Africa? In 1985 New York bankers pulled the plug on South Africa. South Africa has changed in waves, it now needs leaders who will count in the future.”
En die volgende (moontlike?) golf van verandering?
“The demise of the ANC could lead to the rise of South Africa,” sluit Matisonn af.
Die laaste aand word ons by die Supperclub trakteer. Ek deel 'n tafel met Juliana Coetzer en haar sjarmante man. Die groot verskil tussen hierdie fees en die meeste ander, sê sy, is geleenthede soos hierdie ete en die teetafel op die sypaadjie. Die hele naweek kan almal saamkuier, gesels, vriendskappe smee. Skrywers en skrywers. Skrywers en lesers.
Die volgende oggend verlaat ek Richmond terwyl die dorp nog slaap.
Dankie Richmond, dankie Noord-Kaap, dankie Darryl David. Vir die stilte, die mense, die vriendskap. Nou kan ek sewe uur lank radio luister en die musiek so hard draai soos ek wil. Maar die logge vragmotors wat mekaar steeks verbygaan, sluimer en slaap nie. Die rit huis toe verg al my aandag.
Foto's en teks deur Valda Jansen
The post Gee jou hart vir Richmond appeared first on LitNet.