Ek sou myself seker teleurstel indien ek nie ook ’n eier te lê het oor die gewaarwording dat die verhoor van die gebede vir reën in die Transvaal by verre, in vergelyking met die soveelste dag van Trump-histerie op ons sosiale- en nuusnetwerke, ondergeskikte nuuswaardigheid is nie. Derhalwe is dit dan gepas om te laat waai met…. Hendruk-en-daar-lê-die-eier!
Vanoggend op die blougesig foto-, staaltjies- en pronkblad vra ’n denkende vriendin dat ons saamkykers, woorde van betekenis wat met ’n “Z” begin moet deel. Soos dit die geleerdes onder ons betaam, was die Woordeboek van die Afrikaanse taal nader gepluk en het die deelnemers aan die insetsel elke denkbare Z-woord gedeel; Zombie, Zulu, enzovoortz, maar ’n ander, ’n fiktiewe Z-woord, het by my mengelmoes gedagtes kom vasskop: Zorro!
As jy nog nie een van die nuwerige Zorro-flieks met Antonio Banderas en die maak-my-knieg-klei Catherine Zeta Jones gesien het nie, dan sal jy jou gedagtes moet terugdruk na die swart-en-wit strokiesverhaalboekies of iets soortgelyks uit die dae toe mans hul hare gekam en hul baarde ge-olie het en indien dit steeds nie werk nie, stap uit op straat en vra vir iemand om jou te vertel wie en wat Zorro was; want almal, veral die Meksikane, het in hierdie dae ’n held nodig!
Lank-lank gelede het die uwe ’n skryfgedagte neergetik wat juis hierdie onderwerp aangeraak het en tydens ’n skielike terugflits, het ek besef dat dít juis die rede kan wees dat mense in ander lande (lees ontwikkelde ) leierskapkeuses maak wat ontleders van statistieke en patrone se gevolgtrekkings bespotlik kan maak …
Op die ou Radio Suid-Afrika was daar in die sewentigs en selfs ’n bietjie later, ’n middagverhaal met “Staal Burger”. Die verhaal het die parmantige politieke booswigte van die tyd, by name van Fideljy Kastrol, Vasvat Arrarat, Moegman Kadaffi en ander, op ’n gereelde basis en met die ondersteuning van geheime agent K.O.O.S, goed vasgevat.
Op die groot wit doek in destydse Bellville se Mini-Cine, kon jy twee flieke oor die middag-uur vir 75sent kyk. Die een fliek was amper sonder uitsondering ’n James Bond-prent. Die slegte ouens was altyd met die Russiese KGB, Oos-Duitsers of sulke gesketsde misdadigers en gevare vir die mensdom deurmekaar. Die goeie ouen(s) was Britte - 007. Behalwe natuurlik die een ou, “Felix Leiter”, die Amerikaanse CIA geheime agent wie dan-en-wan vir James moes help. In kort, die goeie ouens was goed en die slegte ouens was sleg en almal het geweet wie is wie. Beide hierdie herinneringsvlugte is dalk verwyderd van die werklikheid, of dan ten minste ’n growwe oordrywing daarvan, maar ongeag, was daar tog aanklank by die wêreld soos ons dit toe geken het.
Maar, toe kom Bonnie Tyler se destydse liedjie by die grysstof kuier, “ Holding out for a hero”, en as die puriste my sal verskoon, was die eerste strofe iets soos: “ Where have all the good men gone and where are all the gods?”
en weer…
”Where's the streetwise Hercules to fight the rising odds?”
En die antwoord (nie die ink-besmeerde rappers nie), loop my net daar trompop: Terwyl die kwansuise egte politieke figure die bevryding van vreemde lande se volke beïnvloed, vloei die teenstandersbloed steeds, is die armes steeds arm, die rykes beskerm en veilig en ’n klomp ander in grafte of spoedig op pad soontoe.
Die Weste se naam- en gesiglose “helde” het gekom en meestal gegaan. Daar is nie meer ’n James Bond of ’n Staal Burger nie; daar is nie meer leiers wat opstaan en hul waardes proklameer nie (ongeag of dit sin maak of nie; of dit korrup of veredel is nie) want die “goeie politieke grond” het die norm in ontwikkelde volke se kiesafdelings geword. Gematigde politici met ’n beredeneerde siening oor sekere landsgoeters, maar met stilswye oor ander. Amper soos die weer; die son sal skyn in Bloemfontein, maar elders sal dit reën.
Net tot onlangs toe.
Sommige van die kiesers, in der waarheid die meerderheid, het hul sluimerende soeke na hul Amerikaanse “politieke Staal Burger” in ’n Tromp-oplossing gevind, want hier is nou ’n kandidaat wat ten spyte van sy raserige bekendheid en berugtheid as sakemagnaat, eiendomsontwikkelaar, insolvensie-oorwinnaar en vrouejagter, die gespot oor sy koddige haarstyl met ’n glimlag kan afmaak, die webblaaie vol Trump-grappe vir hul gratis publisiteit bedank en terselfdertyd, die openlike afkeur van plaaslike pers en wêreldwye televisie met Trevor Noah, van die politieke verhoog afvee!
Die Afrikaan, ironies genoeg, se dae in die Withuis is vir eers getel en die feministe sal nog ’n termyn of dalk twee moet wag om ’n kandidaat se hakskoene in die weelderige mat van “Lugmag Een” te laat trap. Van die ander minderheidsgroepies en die manne met die Tequila in die hande, praat ons nie vandag nie.
Die begin van ’n nuwe onbekende era, wat ander eise gaan stel, is 2017 se voorland. Eise wat die Weste kan probeer systap, maar ongelukkig nie onbepaald sal kan vermy nie, eise wat in die toekoms die hand mag byt, wat dit gister gevoed het.
Ek weet nie of Bonnie op ’n vreemde manier reg was en of sy dalk iemand in gedagte gehad het toe sy “Holding out for a Hero” gesing het nie, maar moontlik is dit steeds die beste uitweg, want die keersy is nogal skrikwekkend, soos die politieke ontleders en voorspellers so pas gesien het.
Moontlik is dit hierdie oorhaastigheid wat uit keelvolheid gebore word, wat Pink Floyd deur die tweede vers van hul lied juis wou voorkom; die uiteindelikheid dat mense regtig moeg vir regeringsbeheer raak, ’n keelvolheid wat tot stakings en ander gewelddadige gebeure lei ...
“Daddy what else did you leave for me?
Daddy, what'd'ja leave behind for me?!?
All in all it was just a brick in the wall.
All in all it was all just bricks in the wall.”