Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21995

Skermgreep: The phoenician scheme – ’n filmresensie

$
0
0

Skermgreep: YouTube

  • Leon van Nierop skryf ’n gereelde filmrubriek vir LitNet.

The phoenician scheme
Met Benicio Del Toro en Mia Threapleton
Regisseur: Wes Anderson

Rolprentouteurs is maar dun gesaai. Dit sluit in die handjievol genieë wat hul stempel so stewig op hul rolprente afdruk dat hul tegnieke, aanslag, regie en keuse van akteurs uniek word aan hulle, en niemand dit kan naboots nie. Dink aan Stanley Kubrick en Alfred Hitchcock. Ook David Fincher en natuurlik Wes Anderson.

Anderson is die geniale, oulike seun wat nooit grootgeword het nie en sy hele lewe lank behendig met sy kleurvolle rolprentblokkies speel. Met elke nuwe aanslag op jou sinne, stapel hy die ideeblokkies in allerlei kleure en vorme opmekaar, gooi sy inkleurboek na jou en vra jou om dit netjies op jou tafel neer te sit. Want sien, alles is presies georden. Die beelde pas simmetries in die raam en is sorgsaam gerangskik dat dit soos ’n prentjie lyk, net reg om geraam te word. Tog sidder dit van intelligente lewe.

The phoenician scheme se storie sal jou laat verstaan waarvoor jy jouself inlaat in hierdie eksentrieke, gekontroleerde orkaan. Anderson werk hoeka telkens met paradokse soos die gekontroleerde orkaan. Sodra dit lyk of die beelde buite beheer raak, speel hy behendig met sy rolprentklei sodat die eindproduk jou oë verlei en sintuie baldadig prikkel. Alles neem uiteindelik ’n netjiese vorm aan en “maak sin” in die Anderson-wêreld.

Om die koddige regisseur te waardeer, moet jy van sy vorige rolprente ken. Hier dring die briljante The grand Budapest Hotel (2014), The royal Tenenbaums (2001) en The Darjeeling limited (2007) hulle aan ons op. Want sekere temas loop deur vele van sy films. Elkeen is intellektuele kleurspatsels wat sekere gunstelingtemas telkens op die filmpalet meng, alhoewel The phoenician scheme, goed soos dit is, as ’n waarskuwing dien dat hy nou vars temas moet begin ontgin.

........
Tog moet daar nie aan sy elegante, simmetriese beelde en styl gepeuter word nie. Want soos Woody Allen met tafeltennis-dialoog speel, neem Anderson sy kleurvolle verfkwas en spat telkens nuwe kolle oor sy volgelinge (ons). Hy moet net daarteen waak om nie in ’n gemaksone te verval nie.
........

Tog moet daar nie aan sy elegante, simmetriese beelde en styl gepeuter word nie. Want soos Woody Allen met tafeltennis-dialoog speel, neem Anderson sy kleurvolle verfkwas en spat telkens nuwe kolle oor sy volgelinge (ons). Hy moet net daarteen waak om nie in ’n gemaksone te verval nie.

Die nonchalante Anderson het filosofie aan die universiteit van Texas (en die universiteit van die lewe) behaal, en elkeen van sy films speel in op filosofiese denke, ondersteun deur unieke veelvlakkige beelde.

Sou ’n mens gevra word wat kenmerkend is van ’n Wes Anderson-rolprent, sou die volgende woorde ter sprake kom: helder pastelkleure, ’n produksie-ontwerp wat duidelik ’n rolprentstel is, soos Asteroid City die beste demonstreer in 2023, en ’n mens deurgaans daarvan bewus maak dat jy na ’n film kyk.

Nog kenmerke is eweredige beelde, formele komposisies en uitdrukkinglose, strak gesigte sonder ’n sweem van ’n glimlag. Ook ’n kamera wat graag van een skoot na ’n ander gly of glip. En plofbare crash zooms, dus ’n glyskoot wat skielik gewelddadig op ’n beeld of gesig inzoem met die impak van ’n motorongeluk.

Anderson speel met sy gehoor se persepsies, verwagtinge en sensitiwiteite en lag in sy mou vir die verbaasde reaksies wat The French dispatch (2021) of sy adolessente eersteling, Bottle rocket (1996), teweegbring.

Daar is dikwels beweer dat Alfred Hitchcock buite teaters waar sy rolprente vertoon is, by die deur afgeluister het, net om die gille of geskokte uitroepe te waardeer en tevrede te grynslag. Anderson sou miskien uitdrukkingloos buitekant staan en dan ’n glimlag optower wanneer die beelde die boerpot tref.

The phoenician scheme se storie is so raar soos ’n verkeerslig wat in Gauteng werk. ’n Sakeman, Zsa-zsa Korda, glo vernoem na die rolprentster Zsa Zsa Gabor, se lewe word telkens bedreig. Dié karakter is eintlik ’n huldeblyk aan sy oorlede skoonpa aan wie die fliek dan ook opgedra is.

Daar word verskeie aanslae op hom gemaak terwyl hy probeer om mense by sy sakeplanne te betrek of hul beleggings na te jaag. Hy bemaak aan die begin al sy skatte aan sy enigste dogter.

Nog ’n kinkel in die Anderson-kabel is dat hy ook nege seuns het, maar almal onterf het! Nog vreemder. Sy dogter is ’n non wat morele sin uit haar goddelose pa se lewe probeer maak. Ook sy vele naby-die-dood-ervarings probeer verwerk en vrede maak daarmee, maar nooit glimlag nie.

Soos die meeste van sy ander rolprente, spreek hierdie een ook ’n disfunksionele gesin aan met ’n eksentrieke pa. Die meeste van sy rolprente gaan dan ook oor gesinne of families in ’n krisis. Die non word terloops gespeel deur Kate Winslet se dogter, Mia Threapleton, wat ’n klipgesig sonder enige uitdrukking vervolmaak het.

Na een van die aanslae op Korda se lewe, konfronteer Anderson ons met karakters wat in en uit die rolprent glip. Willem Dafoe as ’n soort Petrus-by-die-hemelpoorte figuur, Bill Murray as Die Skepper, Tom Hanks as ’n sekretaris en Bryan Cranston as Reagan (moenie vra nie!). Ook Benedict Cumberbatch in die rol van Korda se halfbroer, Nubar. Dan is daar ook Scarlett Johansson as ’n verlangse familielid, Hilda. Hoe hulle by die psigedeliese Kersboom inpas is deel van Anderson se raai-raai-riepa-speletjies met die gehoor. Maak self sin daaruit, glimlag hy.

........
Wat is reg en wat is verkeerd? Vra die rolprent. In The phoenician scheme is daar baie verkeerd! Dit skep ’n teelaarde om ’n rolprentavontuur te begin wat slegs by Anderson se dissipels sal aanklank vind.
........

Anderson geniet dit om die eksentrieke gesin met ons te deel soos hulle probeer om mekaar te vind. Hier is sterk eggo’s van The royal Tenenbaums. Nostalgie steek ook sy kop uit, terwyl die oorgang van adolessensie na volwassenheid, nes in Rushmore (1998) en Moonrise kingdom (2012), ook aangespreek word. En moenie individualisme vergeet nie. Baie van die slimste Anderson-karakters verskyn dikwels slegs vir ’n paar sekondes op die silwerdoek in kameeverskynings, maar laat ’n blywende, indien soms raaiselagtige indruk.

En dan is daar ’n morele krisis. Wat is reg en wat is verkeerd? Vra die rolprent.

In The phoenician scheme is daar baie verkeerd! Dit skep ’n teelaarde om ’n rolprentavontuur te begin wat slegs by Anderson se dissipels sal aanklank vind. Want die woorde wat ek die meeste in teaters hoor waar sy rolprente soos Isle of dogs (2018) en The fantastic Mr Fox (2009) vertoon word, is: “Wat de hel...?” Die lekkerte is om jou eie gevolgtrekkings te maak.

Daarom. Spring sonder ’n valskerm uit die vliegtuig en kyk waar jy beland. Reg in die middel van die kleurvolle Wes Anderson-pallet wat jou met ope arms verwelkom. Maar oppas! Hy gaan jou gesig vol verf smeer. Hoop net dat hy nie jou neusgate toestop nie!

Kyk die lokprent hier:

Lees ook:

Asteroid City: ’n filmresensie

Isle of Dogs: ’n filmresensie

Moonrise Kingdom – ’n ligte aanslag

Skermgreep: Sinners – ’n filmresensie

Skermgreep: Niggies – ’n TV-resensie

Skermgreep: Adolescence – ’n TV-resensie

Skermgreep: A real pain – ’n filmresensie

Skermgreep: The brutalist – ’n filmresensie                       

The post Skermgreep: The phoenician scheme – ’n filmresensie first appeared on LitNet.

The post Skermgreep: <em>The phoenician scheme</em> – ’n filmresensie appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21995


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>