Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21877

Cliff-hanger: Ek skryf nie om bruin te wees nie – ek skryf vir my karakters

$
0
0

  • Cliffordene Norton skryf ’n gereelde boekrubriek vir LitNet.

Die digter Lynthia Julius se Facebook-profielfoto wys hoe sy ’n kartonplakkaat vashou waarop staan: “Ek is nie ’n bruin digter nie.” Ek hou baie van daardie stelling, van die verset daaragter. Dit het by my vasgesteek. As ek my eie plakkaat moes ophou, sou dit dalk lees: Ek is ’n skrywer wat kallit is, of Meer as net kallit!

Julle kry die idee.

My nuwe boek, Hoe haal ek nou asem?, verskyn in Junie 2025. Toe ek die konsepbeeld vir die eerste keer vir my niggie wys, het sy gesê: “Ek hou daarvan dat al jou voorblaaie kallit mense wys.”

My eerste reaksie was verdedigend. “Wat bedoel jy?” het ek gevra. “Ek is kallit.” Ek het geweet sy bedoel niks kwaad nie. Sy is een van my grootste ondersteuners – my eerste leser, keer op keer.

Maar toe sê sy: “Ek weet dit sou makliker gewees het om ’n rasneutrale boek te skryf. Jy kon wit mense op die voorblad gesit het, maar jy het nie.”

Tot daardie oomblik het dit nie eers by my opgekom dat my boekomslae dalk as kontroversieel gesien kan word nie. Ek werk gelukkig met uitgewers wat my stem waardeer. Hulle vra vir my insette en werk saam met my totdat ons iets skep wat reg voel.

Ek onthou hoe ek en my uitgewer aan Ek sal vir jou veg se voorblad gewerk het – die eerste konsepte was glad nie wat ek in gedagte gehad het nie. Maar ons het aanhou werk, en toe ek uiteindelik die finale omslag sien, kon ek dit nie méér liefhê nie. Vandag hang dit as kunswerk in my huis. Uit trots, ja – maar ook omdat dit vir my troos bring.

........
Ek is lief vir elkeen van my boeke. Hulle het my as skrywer gevorm. En tog, elke keer wanneer iemand iets sê soos: “Jy skryf vir kallits”, of “Dis nice dat jou karakters so bruin is”, dan voel ek daardie bekende verdedigende trek in my maag.
........

Ek is lief vir elkeen van my boeke. Hulle het my as skrywer gevorm. En tog, elke keer wanneer iemand iets sê soos: “Jy skryf vir kallits”, of “Dis nice dat jou karakters so bruin is”, dan voel ek daardie bekende verdedigende trek in my maag.

Ek onthou toe ek pas my eerste boek gepubliseer het, en ek by die SA Festival of Children’s Literature met Mia Oostenhuizen gepraat het. Sy het my gevra oor Gabby en Georgia se leefomstandighede – hulle woon in ’n vrouegeoriënteerde, multigenerasiehuis. Tot sy dit uitgewys het, het ek nooit besef dit klink dalk “anders” nie. Dis net hoe ek grootgeword het. Selfs toe ek saam met albei my ouers gewoon het, was daar altyd ’n gevoel van intergenerasie-intimiteit. En ek dink ek het daardie gevoel – daardie “ons-kultuur” – onbewustelik in Om jou te ken vasgevang.

My verdedigingsmeganismes is altyd gereed wanneer ek voel – en ek weet dis meer gevoel as werklikheid – dat my “kallitheid” bevraagteken word. Ek onthou hoe iemand eenkeer gesê het ek “praat wit” ná universiteit. Hoe iemand opgemerk het ek “hou van wit mense se dinge” toe hulle hoor ek doen joga. Maar ek het nie joga by wit mense geleer nie. Ek het dit ontdek deur my liefde vir Indiese flieks op SABC3. Meditasie en joga is dinge wat my help asemhaal wanneer angs my oorspoel.

En dan was daar die een wat gesê het ek “bederf my honde soos ’n wit mens”. My honde is my kinders. Blennie, my eerste hond, het uit dieselfde bak as ek geëet toe ons babas was. Diere is nie versierings nie – hulle is familie. En weet jy wie het my dit geleer? My oupa. My mense. My antie by die huis sweer hoog en laag sy hou nie van honde nie, en tog bederf sy Bruno, ons hond by die huis, vrot. Praat met hom met dieselfde liefde as wat sy met ’n kind sal praat. Gee sy tjommies kos as hulle kostyd nog in die jaart is.

........
En tog, in my ervaring word sulke gewoontes dikwels aan witheid gekoppel, asof ons nie self eienaarskap mag neem van liefde, versorging, spiritualiteit of drome nie. Dis hartseer.
........

En tog, in my ervaring word sulke gewoontes dikwels aan witheid gekoppel, asof ons nie self eienaarskap mag neem van liefde, versorging, spiritualiteit of drome nie. Dis hartseer.

In my twintigs het ek besef hoe min mense verwag dat ’n kallitvrou van dié ouderdom nie kinders het nie. Die stereotipes sit diep. Ek moet dikwels diep asemhaal wanneer mense my boeke wil reduseer tot politiek, trauma of “die bruin ervaring”.

Ek het voorheen gepraat oor die druk om vanuit kollektiewe pyn te skryf. In Januarie het ek en my vriende weer daaroor gepraat. Ek het gesê: “Ek wil nie nog ’n kallitpersoon sien wat hul trauma vir sukses moet verkoop nie.”

Trauma moet nie die enigste pad na sukses wees nie. Ons is méér as trauma. Méér as armoede. Ons is hardkoppig, saggeaard, vreesloos, emosioneel, selfstandig, woedend, toegewyd, liefdevol, uniek. Ons is mense.

So dalk ís my boeke ’n vorm van proteskuns. Maar ek skep nie om op ’n verhoog te skree nie – ek skep omdat ek lief is vir my karakters. Hulle daag op, storie in die hand, en baie keer voel ek onwaardig om hulle verhaal te skryf. “Ek is nog nie daar nie,” sê ek vir hulle. “Het julle gesien wat RF Kuang, Ronelda Kamfer, en Lynthia Julius doen?”

Sy lewe nie meer nie, maar ek glo daar is steeds ’n ander Zulfah Otto-Sallies daar buite.

Maar die stories bly – en ek skryf.

........
Ek weet dit klink dalk teenstrydig om nie net as ’n kallitskrywer gesien te wil word nie, maar steeds doelbewus stories te skryf met mense wat soos ek lyk. Maar dis nie teenstrydig nie. My kultuur beïnvloed hoe ek skryf, maar dis nie ál wat ek is nie.
........

Ek weet verteenwoordiging maak saak. Ek het dit aan eie bas gevoel met Black Panther – ek het dit drie keer op die groot skerm gaan kyk. Dis hoekom Diekie van die Bo-Kaap deur Zulfah Otto-Sallies vir my ’n heilige teks is.

Maar dis nie my hoofdoel wanneer ek skryf nie. Ek skryf want my karakters vertrou my, en ek wil hulle waardig wees.

Ek weet dit klink dalk teenstrydig om nie net as ’n kallitskrywer gesien te wil word nie, maar steeds doelbewus stories te skryf met mense wat soos ek lyk. Maar dis nie teenstrydig nie. My kultuur beïnvloed hoe ek skryf, maar dis nie ál wat ek is nie.

My identiteit is nie my beperking nie – dis my vertrekpunt. My stories begin daar, maar hulle eindig in plekke wat vir almal bedoel is.

Lees ook:

Ek sal vir jou veg deur Cliffordene Norton: ’n onderhoud

Hartsmense: ’n onderhoud met Cliffordene Norton

Ek sal vir jou veg deur Cliffordene Norton: ’n resensie

Die meisie met uitroeptekens in haar oë: Cliffordene Norton oor haar storie, "Die kind smaak jou"

Cliff-hanger: Quinn se jaar van kwik deur Zelda Bezuidenhout – ’n resensie

Cliff-hanger: Geheim in die riete deur Constant van Graan: ’n resensie

The post Cliff-hanger: Ek skryf nie om bruin te wees nie – ek skryf vir my karakters first appeared on LitNet.

The post Cliff-hanger: Ek skryf nie om bruin te wees nie – ek skryf vir my karakters appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21877


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>