
Fahruq Valley-Omar (Foto: Belinda Jackson)
’n Gesoute akteur en artistieke regisseur wat sowaar nog nie ’n enkele Suid-Afrikaanse toekenning vir sy uitstaande toneelspel of regie en sy omvattende bydrae tot die vermaaklikheidsbedryf kon verwerf nie – dit verstom my! – is verhoogveteraan en internasionale filmakteur Fahruq Valley-Omar, een van Worcester se kreatiefste produkte wat selfs in sy tuisdorp oor die hoof gesien en vergeet blyk te wees.
’n Gesogte toekenning wat niemand egter hierdie fenomenale akteur-regisseur gaan kan misken nie, is een wat hy in hierdie maand van Mei met groot vreugde en selfvertroue aan homself sal toeken: sy welverdiende 80ste verjaardag, terwyl hy boonop absoluut fantasties lyk toe ek hom onlangs by die Kunstekaap raakloop!

Fahruq Valley-Omar (Foto: Belinda Jackson)
Ek kon die geleentheid nie laat verbygaan om meer oor hierdie vername tagtigjarige se lewe en prestasies te hoor nie, aangesien ek jare gelede baie gefassineerd was deur dié “ontwykende” dramadosent by die ou Bellville Onderwyserskollege in die 1980’s, van wie ek net positiewe terugvoer by lede van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) se dramavereniging gehoor het in my dae as musiekstudent aan die UWK. Jare daarna sou ek self sy welsprekendheid as beoordelaar van Engelse prosa en poësie by eisteddfods ervaar, en dan ook in vele plaaslike verhoogproduksies en TV-programme, selfs TV-advertensies sien optree het, waar hy my telkens beïndruk het.
Sommige sal hom onthou as Damaka, die blinde man op die hoek van Hanoverstraat in die 1987-produksie District Six: the musical deur die bekroonde musiekgeeste Taliep Petersen en David Kramer. Ander dalk sy aangrypende uitbeelding van die karakter Selling in die 1986-toneelstuk Fiela se kind, gebaseer op die roman deur die alombekende Suid-Afrikaanse skrywer Dalene Matthee. In 2008 is hy gekies as die hoëpriester in die BBC-fliek 10 000 BC, waar hy skouers skuur met ’n sterbelaaide rolverdeling, insluitend die veelbekroonde Egiptiese akteur Omar Sharif as die verteller – beslis een van die bekendste internasionale rolle van sy toneelspelloopbaan.

Fahruq as Gandhi in die BBC 1-reeks History of the World
Maar waar het dit alles vir Fahruq begin?
Die pad lei na UK se dramaskool
Fahruq is aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog in 1945 gebore. Sy ouers was winkeliers en sy oupa aan vaderskant het van ’n klein dorpie in die staat Gujerat, Indië, geëmigreer en hom in Worcester gevestig.
Fahruq het sy matriekkwalifikasie op ’n baie jong ouderdom verwerf. Na matriek het hy die ikoniese Hewat College of Education in Athlone, Kaapstad, bygewoon en op 18-jarige ouderdom Engels begin onderrig by die Hoërskool Esselenpark in sy tuisdorp, waar hy sy passie vir spraak en drama tot in September 1967 na hartelus kon uitleef.
“’n Uitstaande vertolking deur Bill Curry, ’n niewit akteur wat aan die Royal Central School of Speech and Drama in Engeland opgelei is, in ’n toneelstuk getiteld JB deur Archibald MacLeish by die Little Theatre in Kaapstad, het die deurslaggewende oomblik vir my geword om ook die planke te betree. Jare later, in 2004, was ek bevoorreg om saam met Bill Curry in die Suid-Afrikaanse fliek A boy called Twist op te tree!” sê hy.
In 1968 het Fahruq by die Universiteit van Kaapstad (UK) ingeskryf om drama te studeer. Dit was in die hartjie van apartheid. Dramaskool het baie uitdagings gebied vir dié seun van Worcester wat dit durf waag het om groot te droom. “Ek was die enigste sogenaamde persoon van kleur en slegs ’n paar van die studente, meestal dié van Kaapstad, sou beleefd teenoor my wees,” onthou hy van daardie uitdagende tye. Die meeste personeellede sou dit ook baie moeilik vir hom maak, onthou hy. ’n Administratiewe klerk het hom op sy eerste dag gevra hoekom hy nie na sy eie universiteit toe gaan nie. “Omdat my universiteit nie drama aanbied nie en ek ’n permit nodig gehad het om hier te studeer,” was sy antwoord – die enigste manier waarop niewit studente by histories wit universiteite soos die UK, die Universiteit Stellenbosch, die Universiteit van Pretoria, die Universiteit van die Vrystaat en die res kon studeer. “Ek het ’n lang en moeilike stryd by die UK gehad. Binne die eerste maand is ek gevra: ‘Hoekom gee jy nie maar op nie? Die teater is nie vir jou nie.’ Hulle het my glad vir Spraak gedruip!” Vir ’n spraakvraat soos hy was dit ’n bitter pil om te sluk.
Hy onthou hoe dit nie nodig was vir hom as dramastudent in die UK se Dramaskool op die Hiddingh-kampus om ’n oudisie af te lê vir die rol van Ronaldo, dienaar van Polonius in Shakespeare se Hamlet nie, “omdat die profiel my gepas het”. Sy grootste rol as dramastudent was as ’n Inka-hoofman in die Peter Shaffer-toneelstuk The royal hunt of the sun, omdat hy die regte velkleur gehad het. Hy onthou hoe hard hy in die maag geslaan is met die berugte openingsreël van die Spaanse karakter Pedro de Candia: “Vrek, jou bruin bliksem!” En “Ja,” sê hy, “ek was die swarte in die vertrek!”
Nie al die dramadosente het die blatante rassistiese gedrag teenoor hom goedgepraat nie. “Daar was dosente wat my ondersteun het. Mense soos een van my mentors, wyle Mavis Taylor, die wonderlike Afrikaanse spraak- en teaterdosent Esther van Rykswyk, die bewegingsdosent Tessa Marwick, en selfs Robert Mohr, wat later hoof van die Dramadepartement by die UK geword het. In 1969 het Robert Mohr my gevra om ’n Shakespeare-drama te regisseer op versoek van die destydse skoolhoof van die Athlone Hoërskool, wyle SV Petersen, bekende Suid-Afrikaanse digter en skrywer. Dit was by die Athlone Hoërskool waar ek gelukkig was om die uiters talentvolle Denise Newman te betrek wat sedertdien haar merk gemaak het as ’n akteur met ’n uitsonderlike goddelike gawe.”
Fahruq het geweier om toe te laat dat hierdie uitdagings by die UK hom kniehalter en het onderneem om goed te slaag. Hy het ‘n onderwysdiploma in drama en daarna ‘n BA Drama-graad aan die UK voltooi, gemotiveer deur sy pa se raad in Latyns aan hom op 14-jarige ouderdom: “Nihil sine labore mortalibus datur”, wat beteken: “Niks word aan sterflinge gegee sonder arbeid nie.”
Die begin van ’n lang en lonende akteurs- en onderwysloopbaan
Na voltooiing van sy dramastudies aan die UK het Fahruq vir 18 jaar as dosent duisende voornemende onderwysers van regoor die land in spraak en drama by die Bellville Onderwyserskollege (BOK) opgelei, waartydens hy ook ’n B Ed aan die UWK voltooi het. BOK en die Hewat-opleidingskollege het egter in die slag gebly met die rekonstruksie van die land se onderwysstelsel in die laat 1990’s.
“Gedurende 1970–75 was ek die rondreisende spraak-en-drama-opvoeder by die Battswood- en Wesley-onderwyskolleges in onderskeidelik Wynberg en Soutrivier. Ek was die regisseur van verskeie toneelstukke by albei kolleges. By Battswood het ek met twee talentvolle jong vroue gewerk: die 16-jarige Shaleen Surtie-Richards van Upington en ’n meer volwasse musiekstudent met die naam van Suzanne Abrahams. Helaas, nie een van die twee is meer met ons nie. Beide Shaleen en Suzanne het die rol van Makiet in Adam Small se Kanna hy kô hystoe gespeel. Small was tevrede met albei van hulle. Ek is in 1976 na Bellville Kollege gesekondeer waar ek 18 jaar lank gebly het.”
Dit was maar moeilik vir Fahruq as ’n niewit akteur in die apartheidsjare om verhoogrolle te vind, dus het hy aanhou studeer om sodoende sy kanse te verbeter. Nadat hy in 1983 ’n kwalifikasie as regisseur by die nou ontbinde British Theatre Association in Londen verwerf het, met ’n A in teorie en ’n B+ in spelleiding (“omdat ek ’n bietjie te akademies in my benadering was”), het hy weer by die UK aansoek gedoen, dié keer vir ’n honneursgraad in dramaspelleiding. “Die UK het my aansoek afgekeur. My voorgraadse punte was glo te laag, maar hulle het goed geweet hoekom!”
Dit was John Slemon, stigter van die Baxter-teater, wat Fahruq aangemoedig het om by die Universiteit Stellenbosch aansoek te doen, waar soortgelyke uitdagings op hom gewag het. “Vir my praktiese eksamen het ek ’n vollengteproduksie van Adam Small se Kanna hy kô hystoe gedoen. Adam en sy vrou het voorheen altyd my openingsaande bygewoon en hierdie keer was hulle by my sesde produksie van Kanna! Die eksaminator, ’n egte Broederbonder, het my gedruip omdat hy nie van die politiek in die toneelstuk gehou het nie!”
Hy maak die Nico Malan-teater se deure “oop”
Fahruq se eerste verhoogproduksie by die Nico Malan-teater nadat die permitstelsel vir niewit teatergangers afgeskaf is, was die verhoogstuk Fiela se kind in 1986. Die verhoogproduksie was gebaseer op die topverkoperboek deur die bekroonde skrywer wyle Dalene Matthee. (Die boek is ook in ’n film omskep, maar Fahruq was nie in die filmweergawe nie.) “Ek het die rol van Selling, Fiela Komoetie se man, gespeel. Ek was bly om saam met ’n protégé van my, Shaleen Surtie-Richards, op te tree. Sy het later ’n huishoudelike naam geword. Nadat Dalene haar roman op die verhoog sien lewe kry het, het sy my vertolking van Selling geprys. ‘Jy wás Selling!’ het sy agterna gesê.”

Fahruq (2de van regs) as Selling in Ian von Memerty se musiekspel Fiela’s child
In 1999 het hy die karakter Selling weer eens in Ian von Memerty se musiekspel getiteld Fiela’s child, hervertolk in ’n produksie van die ontbinde Kaapse Uitvoerende Kunsteraad (Kruik). In 2000 het hy nog ’n keer by die Nico Malan opgetree in ’n klein rol in die musiekspel Antjie Somers, met die 7de Laan-akteur Zane Meas in die hoofrol.
Ikoniese verhoogrolle oor 50 jaar
Fahruq se veelsydigheid en ervaring as akteur kom duidelik na vore in sy vermoë om karakters goed te vertolk en hom deeglik voor te berei vir enige rol wat hy deur middel van oudisies bekom. Vele van hierdie rolle is baie diep gewortel in werklikheidservarings, kultuur en die onregverdige Suid-Afrikaanse geskiedenis van diskriminasie, onderdrukking, gedwonge verskuiwings, en die gepaardgaande trauma en sosio-ekonomiese uitdagings wat deur hierdie ervarings na vore kom, vertolkings waarvoor hy net die grootste respek verdien. Van die trotse veelrassige, ryk “wil-wit-wees”-man wat moord pleeg in ’n stryery oor skape in Fiela se kind (1986), ’n bergie in Skyf (1984; 1986), die blinde Damaka in Petersen en Kramer se District Six: the musical (1987) wat die apartheidsregering vervloek oor die vernietiging van die hegte gemeenskap van meer as 60 000 mense in Distrik Ses, hul hoop en drome, hul lewensonderhoud, hul sekuriteit en toegang tot werk, kos, skole en hulpbronne en hulle na die woesteny op die Kaapse Vlakte verplaas, tot die Indiërwinkelier Gupta van Suid-Afrika wat in Londen woon se uitdagings in Pieter-Dirk Uys se Just like home (1990), die welbekende anti-apartheidsaktivis en Rivonia-verhoorafwagtende, Ahmed Kathrada, in die TV-film Mandela and De Klerk (1997) saam met die internasionaal bekroonde akteur Sidney Poitier in die rol van Mandela, en waarskynlik die vernaamste rol van sy internasionale loopbaan: ’n hoëpriester in die BBC-fliek 10 000 BC in 2008, om ’n paar te noem, is dit sy vaardigheid om elke rol met egtheid en rou eerlikheid uit te beeld wat kykers en gehore telkens diep ontroer.

Fahruq Valley-Omar (regs) op die stel van die Afrikaanse fliek Geraldina 2 (Foto verskaf)
Die erkenning van eweknieë soos die bekende John Kani (OBE) ná sy vertolking van Damaka op die openingsaand van District Six: the musical! by die Mark-teater in Johannesburg in 1988 (en Dalene Matthee vir sy rol as Selling in Fiela se kind twee jaar tevore) beteken die wêreld vir hom. “John Kani het my vertolking geloof. Dit het my diep geraak!” Hierdie positiewe stemme het die negatiewe, harde verhoogfluisteringe verdoof, soos dié wat hy eenkeer by die KKNK ervaar het toe hy duidelik ’n gehoorlid se neerhalende opmerking: “Kaapse Vlakte” hoor ná nog ’n uitstekende vertolking van Selling nie.
Nie genoeg Shakespeare nie
Fahruq is spyt dat hy nie in meer Shakespeare-dramas by Maynardville kon optree nie – sy diep passie as ’n verhoogakteur. Hy was wel gelukkig om in twee te verskyn: As you like it en A midsummer night’s dream. “Dit het 35 jaar geneem voordat ek ná vele oudisies ’n Shakespeare-rol by Maynardville kon kry. Wyle Keith Grenville het my as Corin, ’n skaapwagter, in As you like it gekies en die volgende jaar was dit Fred Abrahamse vir ’n rol in A midsummer night’s dream.”
Fahruq die regisseur
Fahruq het die spelleiding vir Die verminktes en Dialoog met ’n sterwende man in 1987 gedoen en was ook ’n lid van die eerste bestuurskomitee van die Kaapstadse Teaterlaboratorium in 1998.
“In my 18 jaar as dosent in spraak en drama by BOK het ek 14 dramas geregisseer, insluitend Macbeth en Oklahoma. Gelyktydig met Oklahoma het ek die regie vir Bugsy Malone vir die Eoan-groep by die Joseph Stone-ouditorium in Athlone, Kaapstad, hanteer, met 75 jong ontluikende akteurs, insluitend Jody Abrahams in die titelrol.” Jody het in latere jare ’n bekroonde akteur geword.
Fahruq droom steeds daarvan om sy eie Shakespeare-toneelstukke op te voer. “Dit is ’n droom van my om slegs die room te kies uit die groot poel van ons voorheen benadeelde akteurs.”
Hoogtepunte van sy loopbaan as akteur
As ’n internasionale akteur het Fahruq saam met van die wêreld se top rolprentregisseurs gewerk, insluitend Ridley Scott in twee episodes van Raised by wolves, waarin hy ’n Ark-monnik gespeel het, Christopher Smith in die 2012-TV-minireeks Labyrinth as Harif, en Roland Emmerich in 10 000 BC, waarin hy ’n priester gespeel het. “Hoewel ek saam met goeie rolprentregisseurs soos Ridley Scott, Christopher Smith en Roland Emmerich gewerk het, was my bevredigendste en onvergeetlikste rol voor die kamera dié van Mahatma Gandhi in die BBC 1-reeks History of the world. As ’n 15-jarige was ek ’n vurige bewonderaar van Gandhi, wat gesê het “Geweldloosheid sal geweld oorwin, selfs al neem dit ’n duisend jaar.”
Sy onlangse rolprente sluit in die vierdelige minireeks The Indian detective saam met die bekroonde Kanadese grapjas Russell Peters (wat in 2013 derde op Forbes-tydskrif se lys van hoogsbetaalde komediante was!).

In die kollig (Foto: Belinda Jackson)
Uitdagings binne gemeenskapskringe
Asof diskriminasie vanuit meer bevoordeelde oorde nie genoeg was nie, was die druk van anti-apartheidsaktiviste onder die vaandel van die Suid-Afrikaanse Raad vir Sport (Sacos) om gesegregeerde sportbyeenkomste in die 1970’s tot 1990’s te boikot, ook op kulturele aktiwiteite van toepassing. “Ek is deur bekende aktiviste aangespreek oor my deelname aan gesegregeerde kulturele aktiwiteite. Die Sacos-slagspreuk ‘Geen normale sport in ’n abnormale samelewing nie’ het ook die dramawêreld beïnvloed.” Met Fahruq se aansoek om ’n Fulbright-beurs een jaar het hy een van die paneellede geïrriteer omdat hy blykbaar teen hierdie slagspreuk sou werk deur aan te hou om sy akteursvaardigheid te ontwikkel. “Akteurs benodig ’n verhoog om op te tree, anders as skrywers, wat in hul slaapkamer of enige ander plek kon sit en skryf. Ek het geglo sekere omstandighede kon nie vermy word as akteurs ernstig was oor hul kuns en die boodskappe wat hulle deur die medium van drama kon oordra nie. Sacos het ons nie ’n alternatief gebied toe hulle ons byvoorbeeld die Peninsula Eisteddfod, wat nierassig was, laat boikot het nie.”

As genie in Jamillah and Aladdin (Foto verskaf)
Persoonlike lewe
Fahruq was vir 22 jaar getroud. Vier kinders – sy trots – is uit die huwelik gebore, almal vandag met professionele loopbane. Hy is geskei.
80ste verjaardaggeskenk vir ’n leeftyd van suksesvolle toneelspel?
Fahruq se uitgebreide lys van rolle in teaterproduksies (sy ware tuiste as akteur), televisie, film – plaaslik en internasionaal! – en die talle advertensies op ons plaaslike TV-skerms laat die vraag ontstaan waarom hierdie fenomenale akteur steeds nie die erkenning kry wat hy tereg verdien nie. Ek doen ’n nederige beroep op die Suid-Afrikaanse Film- en Televisietoekennings (SAFTAs), Naledi-teatertoekennings, Fleur du Cap-teatertoekennings en Nasionale Kuns- en Kultuurtoekennings (NACA) om Fahruq Valley-Omar se 80ste verjaardag op ’n baie spesiale wyse te help vier met ’n onvergeetlike verjaardaggeskenk wat ek seker is hy vir ewig sal koester: ’n eretoekenning vir sy lewenslange bydrae tot die verhoog- en filmbedryf vir ’n vername en welverdiende vermaakkunstenaar wat soveel vreugde, ontsag en respek aan miljoene regoor die wêreld besorg het en steeds besorg!
Geseënde 80ste verjaarsdag, Fahruq!

As stamleier in Lea to the rescue (Foto verskaf)
Fahruq was ook te sien in:
- Die Allemans, TV-reeks, 1991
- Curse of the Crystal Eye, internasionale film, 1991
- The Visual Bible: Acts, internasionale Christelike film, 1994
- Ernest in the Army, 1, internasionale film, 1998
- The all new adventures of Laurel & Hardy in For love or mummy, internasionale film, 1999
- Pirates of the plain, internasionale film, 1999
- Cape of Good Hope, plaaslike film, 2004
- Slipstream, internasionale film, 2005
- The Poseidon adventure, internasionale film, 2005
- Mercenary for justice, internasionale film, 2006
- Krakatoa: Volcano of destruction, internasionale film, 2006
- Geraldina die Tweede, plaaslike film, 2007
- The experimental witch, internasionale film, 2008
- Bluestone 42, TV-reeks, 2014
- Jamillah and Aladdin, TV-reeks, 2015
- Saints & strangers, TV-minireeks, 2015
- Lea to the rescue, internasionale film, 2016
- The Indian detective, TV-minireeks, 2017
- Die spreeus, TV-reeks, 2019
- Bhai's Café, plaaslike film, 2019
- 438 Days, internasionale film, 2019
- Our girl, TV-reeks, 2020
- The Flood – kortfilm, 2025
The post "Die swart man in die vertrek!" Veteraanakteur Fahruq Valley-Omar word 80! first appeared on LitNet.
The post "Die swart man in die vertrek!" Veteraanakteur Fahruq Valley-Omar word 80! appeared first on LitNet.