Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21697

Digters, denkers en datamasjiene: Wie se werk is dit?

$
0
0

...
“You just can’t differentiate between a robot and the very best of humans.” (Isaac Asimov, 1950)
...

Soos Google die algemene term geword het wat alle soekenjins insluit, het ChatGPT die algemene “naam” vir kunsmatige intelligensie (KI) geword. Mense “google” vir inligting en vra hulp van ChatGPT, tog is daar duisende KI-platforms beskikbaar wat dieselfde werk kan doen. Ja, ek het vir ChatGPT gevra en die antwoord was dat daar op daardie tydstip meer as ’n 10 000 KI-platforms beskikbaar was: 10–20 groot taalmodelle, honderde professionele of gespesialiseerde KI-platforms, en duisende algemene of nis-KI-platforms. Boonop word nuwe KI-platforms byna daagliks bygevoeg.

Ons weet KI is die tegnologie van die toekoms. Maar hoe beïnvloed dit ons as skrywers? Die doel van hierdie essay is om die invloed van KI op die skryfkuns te ondersoek: beide die geleenthede wat dit aan skrywers bied en die uitdagings ten opsigte van die kwaliteit, oorspronklikheid en gevolglike invloed op outeurskap. Maar om ook ons vrese aan te spreek, wil ek eers die wiel ongeveer 4 500 jaar terugdraai.

In Phaedrus (370 vC) beskryf Plato ’n fiktiewe dialoog tussen die Egiptiese god Theuth – aan wie die uitvinding van skrif toegedig word – en koning Thamus. Theuth bied sy uitvinding as ’n geskenk aan die mensdom en voer aan dat skrif tot voordeel van wysheid sal wees. Koning Thamus verwerp dit egter en redeneer dat skrif mense te lui gaan maak om te dink:

This invention will produce forgetfulness in the souls of those who have learned it by neglecting their memory. Because they will place their trust in writing, which is external and depends on signs that belong to others, instead of trying to remember from within themselves. (Uit Phaedrus; vertaal deur Benjamin Jowett)

Plato se filosofiese waarskuwing teen die gebruik van skrif vir die bewaring van kennis is een van die vroegste aangetekende besware teen tegnologiese ontwikkeling. Die ontstaan van skrif kan teruggevoer word na ongeveer 3 400 vc toe mense in Mesopotamië ’n rietstilus gebruik het om spykerskrif in nat kleitablette te vorm. Die ontwikkeling van skrif het gegroei tot die aanbring van hiërogliewe op klip in antieke Egipte, gevolg deur die ontwikkeling van papirus, perkament, velum en die bind van kodekse. Al hierdie tegnologiese ontwikkelinge het kennis toegankliker en duursamer gemaak. Ongelukkig het, soos wat skrif- en skryfinstrumente ontwikkel het, vrese en besware teen die gebruik daarvan ook toegeneem. Dié vrees vir die mag van algemeen beskikbare kennis het daartoe gelei dat net sekere mense die voorreg om te lees en skryf toegelaat is.

Die gebruik van blokdrukboeke en die daaropvolgende ontwikkeling van die drukpers deur Johannes Gutenberg in ongeveer 1450 het die massaproduksie van tekste moontlik gemaak. Hierdeur is die monopolie van handgeskrewe manuskripte verbreek, het die koste van boeke dramaties gedaal en die beskikbaarheid daarvan toegeneem, en het politieke en geestelike leiers alleenreg oor kennis verloor. Filippo de Strata skryf in 1476 dat Venesië “[is] stuffed with books”, gedrukte boeke vol foute en vals inligting is, en godsdienstige geskrifte deur “love poetry” en “modern filth” vervang word. Sommige het gevrees dat tradisionele leerwyses as gevolg van gedrukte boeke verlore sou gaan en dat gevaarlike of ketterse idees onbeheerst sou versprei. Ten spyte van al hierdie vrese en besware, die afbrand van biblioteke en die vervolging van geleerdes het geletterdheidsvlakke gestyg, idees en kennis vinnig en wyd versprei, en kennis die Wetenskaplike Revolusie en die Europese Renaissance van die 16de eeu met groot en wonderlike ontdekkings en ontwikkelings ingelui. Alhoewel politieke en godsdienstige onrus en die vele oorloë van die vroeë Middeleeue die ontwikkeling van tegnologieë tydelik vertraag het, was die geskrewe woord gevestig en het kennis steeds toegeneem.

Die Industriële Revolusie van die 19de en vroeë 20ste eeu het gemeganiseerde drukwerk en massapublisering moontlik gemaak. Die tikmasjien het skryfwerk vinniger beskikbaar gestel en meer leesbaar gemaak, terwyl die uitvinding van die woordverwerker in die laat 20ste eeu skrywers in staat gestel het om teks maklik te redigeer, te herrangskik en te formateer voordat dit gedruk word. Mense het werkloosheid gevrees en masjiene verwoes; kritici het gewaarsku dat afhanklikheid van tegnologieë menslike denke sou verswak en vaardighede soos handskrif en hoofrekene sou bedreig. Persoonlike rekenaars is met skeptisisme bejeën, maar tog het dit gou deel van die daaglikse bestaan geword. Die kritiek teen baie ander kommunikasiemiddele en -tegnologieë wat die afgelope ongeveer 200 jaar ontwikkel is, kan nie in hierdie artikel ingesluit word nie, maar feitlik alles is aanvanklik met skeptisisme en kommer bejeën. In die woorde van Trieste en Turchetti (2024): “[S]cepticism is one of the most common attitudes toward innovation.”

Die ontstaan van die internet in die laat 20ste eeu het die potensiaal van, maar ook die vrese teenoor, digitale tegnologieë vergroot. Die Wêreldwye Web (WWW) het gevolg en onmiddellike toegang tot inligting regoor die wêreld moontlik gemaak. Hierdie beskikbaarheid van kennis was revolusionêr: Enigiemand met ’n internetverbinding het nou byna onbeperkte toegang tot artikels, boeke, video’s en besprekings oor feitlik enige onderwerp gehad. Tradisionele poortwagters van kennis, soos regerings, akademiese instellings, biblioteke en uitgewers, het beheer oor die gehalte en verspreiding van inligting verloor; persoonlike en staatsinligting is bedreig; en vals inligting en plagiaat het daaglikse probleme geword.

Nou bevind ons ons op die drumpel van die grootste tegnologiese ontwikkeling nóg: kunsmatige intelligensie (KI). KI behels die simulasie van menslike intelligensie deur tegnologieë en rekenaarmatige algoritmes wat aanlyn inligting gebruik om te leer en sodoende kennis te genereer en handelinge uit te voer wat normaalweg menslike intellek benodig. Dié vaardighede sluit in:

  • die vermoë om te leer deur die aanwins van inligting en die gebruik van riglyne om dié inligting te kan toepas
  • die vaardigheid om patrone in groot hoeveelhede data te identifiseer en te ontleed ten einde besluite te kan neem of tot gevolgtrekkings te kan kom
  • die kundigheid om probleme op te los deur die gebruik van soortgelyke inligting en die toepassings daarvan
  • ten opsigte van taalvaardigheid, die vermoë om woorde en patrone in taal te herken en dus in daardie taal te kan skryf, tekste te kan vertaal en te korrigeer, en om oor enige onderwerp inligting in daardie taal te verskaf.

Omdat KI leer uit wat beskikbaar is en wat reeds aangeleer is, is die mag van wat KI in die toekoms nog kan bereik, ondenkbaar.

Generatiewe kunsmatige intelligensie (GKI) is ’n vertakking van KI wat gevorderde leertegnieke soos generatiewe teenstrydige netwerke (GTN’e) of outoregressiewe modelle gebruik om realistiese en samehangende inhoud soos tekste, beelde, illustrasies, prente, musiek, lirieke en video’s te genereer. Anders as KI, wat algoritmes gebruik om op spesifieke versoeke te reageer of om spesifieke take uit te voer, gebruik GKI ingewikkelde patrone en tendense uit grootdatastelle om nuwe inhoud, oplossings, ontwerpe of modelle te skep. In inhoudskepping byvoorbeeld word ’n groot korpus teksdata gebruik om ’n model op te lei met die doel om statistiese verhoudings tussen woorde en sinne te verstaan. Daarna kan dit nuwe teks produseer wat grammaties korrek en kontekstueel relevant is. ’n Bekende voorbeeld van GKI is ChatGPT, ’n model wat ontwikkel is deur OpenAI en gebaseer is op Generative Pre-trained Transformer Architecture, (GPT-argitektuur), wat groot hoeveelhede teks kan verwerk om menslike taal se fynere nuanses te leer en toepaslik te kan gebruik vir die skep van nuwe inhoud of tekste.

Dit is belangrik om in ag te neem dat skryfwerk reeds deur die eerste woordverwerkers vergemaklik is. Taal- en spelfoute is digitaal uitgewys en dokumente kon met min moeite verander en geredigeer word. Die koms van die internet en die WWW het ’n nuwe dimensie gebring: Die beskikbaarheid van inligting het navorsing vergemaklik en skrywers aan kreatiewe idees blootgestel. Dit het egter ook tot vele etiese probleme gelei, veral vals of onbetroubare inligting, geleenthede vir knip-en-plak, plagiaat, en kopieregoortredings. KI voer beide hierdie voor- en nadele tot nuwe en ongekende hoogtes. Byna onmiddellik nadat ChatGPT in November 2022 bekendgestel is, het kritici hul bekommernisse begin uitspreek: werksverlies, etiese dilemmas, ’n afname in menslike kreatiwiteit, die einde van kritiese denke, kognitiewe agteruitgang en ’n afname in kennisontwikkeling. Ons is terug by Plato se kritiek teen skrif; by die vrees dat mense intellektueel lui gaan raak en op tegnologie alleen gaan vertrou. KI het, soos voorspel, alle dissiplines en wetenskaplike terreine vinnig en dramaties verander – rekenaarwetenskap en wiskunde eerste, gevolg deur gesondheidsorg, finansies, ingenieurswese, onderwys, vermaak; en spoedig daarna elke denkbare veld van menslike kennis. Soos Plato skrif gebruik het om teen skrif beswaar te maak, gebruik kritici KI om teen KI te waarsku.

Uit die kort historiese oorsig hier bo is die patroon duidelik: Deur die eeue is elke nuwe vorm van kennistegnologie met huiwering en skeptisisme begroet. Met tyd en integrasie het dit egter tóg menslike kognitiewe potensiaal verbeter en kennis toegankliker gemaak en wyer beskikbaar gestel. Die huidige tegnologiese ontwikkelinge moet gesien word as ’n wisselwerking tussen die mens en dié tegnologieë wat die grense van menslike denke kan verskuif. Indien dit met wysheid, kritiese ondersoek en etiese sorg benader word, kan hierdie tegnologiese vooruitgang die volgende groot sprong in die mens se ewigdurende strewe na kennis wees. Plato mag tereg voorspel het dat skrif en skryf die aard van die menslike geheue gaan verander, maar hy het nie die monumentale uitbreiding van menslike kennis voorsien wat deur skrif moontlik gemaak is nie. Net so is dit vir ons nou onmoontlik om te bepaal of te voorspel wat die invloed van KI op die toekoms van kennis gaan wees.

Waaroor akademici en skrywers wel, en met reg, bekommerd is, is die invloed van KI op menslike kreatiwiteit. KI het reeds binne die eerste jaar (2022) die essensie van artistieke velde fundamenteel verander. Op ’n vraag aan ChatGPT oor die gebied waarop KI as die kontroversieelste ervaar word, was die antwoord “in art and the creative industries (writing, visual art and music)”. Alhoewel die potensiaal wat KI tot voordeel van die skryfkuns bied, geredelik aanvaar en selfs verwelkom word, is daar kommer dat dit ’n bedreiging vir die gehalte, oorspronklikheid, kreatiwiteit en eienaarsreg van outeurskap inhou.

  • Kreatiwiteit as menslike eienskap verwys na ’n spesifieke persoon se unieke skeppingsvermoë, terwyl kreatiwiteit as menslike vaardigheid die kognitiewe vermoë is om idees, produkte of handelinge voort te bring of te skep. Kreatiewe mense beskik oor beide die eienskappe en vaardighede om kreatief te wees en kan vaardigheid deur leer verder ontwikkel, terwyl niekreatiewe mense nie die eienskap besit nie, maar die vaardigheid kan aanleer.
  • Kreatiewe skryf is die artistieke vermoë van begaafde mense met verbeelding, intuïsie en emosionele sensitiwiteit om deur middel van narratiewe, beeldspraak en stilistiese tegnieke fiktiewe konstrukte soos karakters, gebeure, tonele en ruimtes in skrif te skep. Dit is aan die een kant die kuns van stories uitdink en weergee op ’n wyse wat die leser emosioneel raak, vermaak, of tot nadenke stem, of, aan die ander kant, om menslike insig te verdiep deur kreatiewe uitdrukking aan werklike ervarings of gebeure te gee.
  • Kreatiewe skryfwerk verwys na enige vorm van geskrewe werk wat verbeelding, oorspronklikheid en selfuitdrukking toon. Dit sluit verskeie genres in, beide fiktief en niefiktief, mits dit esteties en emosioneel georiënteerd is eerder as bloot feitelik of funksioneel. Kreatiewe skryfwerk sluit onder andere in: fiksie (romans, novelles, kortverhale, wetenskapfiksie, fantasieë, ens), poësie (verse, gedigte, ens), dramatiese werke (toneelstukke, dramas, draaiboeke, ens), kreatiewe niefiksie (memoires, outobiografieë, persoonlike essays, reisjoernale, kreatiewe joernalistiek, kreatiewe briewe en/of dagboeke, lirieke, ens), en verskeie ander. Wat al hierdie genres gemeen het, is die kreatiwiteit van die skrywer, sy of haar verbeelding, emosies, unieke uitdrukking en persoonlike perspektiewe wat met behulp van kennis, navorsing, taalvaardigheid – én tegnologie – weergegee kan word.

Tegnologie, van potlood tot skootrekenaar en Google, sluit ook nou KI-toepassings in. Van die voordele wat KI aan kreatiewe skrywers bied, is hulp met tydrowende roetinetake soos proeflees, taalversorging en redigering, ondersteuning ten opsigte van toon, styl en woordeskat, om patrone in styl, struktuur en tematiek uit groot literêre datastelle te onttrek, en vele ander, soos later beskryf sal word. KI kan volledige romans, artikels, kortverhale, poësie en dies meer in enige vorm en enige taal genereer, en selfs die skryfstyl van bekende skrywers naboots. Alhoewel KI taal op onkonvensionele maniere kan gebruik en in staat is om indrukwekkende tekste en oortuigende storiewêrelde te skep, laat die gebrek aan persoonlike ervaring, identiteit en filosofiese insig KI-tekste gewoonlik emosieloos en onpersoonlik. Volgens ChatGPT is dit net omdat dit vir KI nog moeilik is, maar dat KI binnekort wel in staat sal wees “to fully master storytelling arc, irony, or subtext in the way human writers can”. Silver en Sutton (2025) het so onlangs soos 22 April vanjaar bekendgemaak dat die nuwe-era-KI nie langer net uit aanlyn data en groot taalmodelle (GTM) leer nie, maar in staat is om ’n digitale lewe van ondervinding te lei waar versterkingsleeralgoritmes (VLA) deur middel van beloning en terugvoer leer. “The era of human data” word dus vervang met “The era of experience”, waar masjiene, soos mense, lewenslange leerders gaan wees wat voortdurend by nuwe kennis gaan aanpas en uit ondervinding gaan leer. Dit sluit die vermoë in om emosiebelaaide tekste te skep. Hierdie era het reeds begin, en gaan tot verdere uitdagings in kreatiewe skryfkuns lei.

Taalmodelle kan groot hoeveelhede literêre data ontleed om patrone in styl, struktuur en tematiek te identifiseer, wat navorsers en akademici in literêre ontleding kan ondersteun. Hierdie taalmodelle kan navorsing oor spesifieke onderwerpe namens ’n skrywer doen en opsommings of verslae daaroor vinnig en logies saamstel. Verder kan KI deur aanbevelingsalgoritmes gebruikersbehoeftes en -vereistes voorstel deur lesers se aanlyn aktiwiteite en soekgeskiedenis te ontleed. KI kan selfs die inhoud van ’n bestaande teks verander om by die behoeftes van ‘n spesifieke groep lesers in byvoorbeeld sekere demografiese gebiede aan te pas.

Tog bring KI ook beduidende nadele en etiese uitdagings mee.

Kommer heers onder andere oor die toename in KI-gegenereerde werke. Daar is veral kommer dat die unieke en diverse menslike stemme in die letterkundige landskap met algoritmiese herhalinge van ooreenstemmende tekste vervang kan word. Skrywers soos Janelle Shane en Ross Goodwin het KI gebruik om werke te skep wat nie net outeurskap bevraagteken nie, maar ook die aard van KI-storievertelling. Bekende skrywers soos Margaret Atwood, Salman Rushdie, Kazuo Ishiguro en Robin Sloan het met KI-ontwikkeling ten opsigte van skryfkuns gehelp, en beveel KI as hulpmiddel vir skrywers aan.

Dan is daar ook die gevaar van kognitiewe storting – ’n verskynsel waar mense toenemend KI bo hul eie kreatiewe en kritiese denke verkies en sodoende kundigheid en selfvertroue verloor. Die voortdurende gebruik van KI-gegenereerde inhoud kan ook skrywers se vaardigheid om onafhanklike en oorspronklike werke te skep, ondermyn. Veral jong of onervare skrywers kan tot so ’n mate van tegnologie afhanklik raak, veral ten opsigte van nuwe idees, inspirasie of stilistiese akkuraatheid, dat dit hulle ontwikkeling as outentieke kunstenaars strem.

KI myn data uit alle aanlyn boeke, dokumente en literatuur, en omdat algoritmes nie gehaltebeheer magtig is nie, myn dit ook stereotipiese inligting, inligting van lae gehalte en misinformasie. Die antwoorde wat KI verskaf, kan dus vals of onbetroubaar wees. Boonop, omdat KI slegs uitsette kan genereer op grond van wat beskikbaar is, kan KI-tekste gestandaardiseerd en voorspelbaar wees en tot die versadiging van eenderse inhoud lei.

KI-stelsels se skeppingsvermoë verbeter daagliks, en die mate van menslike betrokkenheid in die proses vervaag. Kritici beklemtoon dat goeie en oorspronklike skryfwerk nie bloot “gegenereer” word nie, maar dat dit groei en ontwikkel uit ’n uniek menslike en kreatiewe proses – ’n  proses wat KI nie kan naboots nie.

Alhoewel KI nie op die tradisionele manier kopieer of plagieer nie, herskep en herrangskik KI fragmente uit bestaande bronne wat wel deur kopiereg beskerm word, hoofsaaklik sonder erkenning van die bronne waaruit die data bekom word. Wanneer hierdie verwerkte inhoud as “oorspronklik” aangebied word, word die lyn tussen ’n werklik oorspronklike skepping en die toe-eiening van outeurskap vaag.

In ’n onlangse verwikkeling het John Grisham, George Martin en 17 ander skrywers klagtes teen OpenAI oor kopieregoortreding ingedien. Volgens hierdie skrywers het ChatGPT hulle kopieregmateriaal sonder toestemming of erkenning versprei. Verder is klagtes deur die New York Times teen OpenAI ingedien omdat ChatGPT berigte direk gebruik het én die New York Times verkeerd aangehaal het. OpenAI probeer tans om samewerking met verskeie maatskappye, uitgewers en skrywers te verkry, veral omdat dit vir KI-tegnologieë moeilik is om hul sakeplanne te laat klop sonder om kenners van kopieregwette laat kopkrap. (Die meer gevorderde ChatGPT-4 is reeds in staat om erkenning aan kopieregmateriaal te gee, maar baie van sodanige verwysings is foutief.)

Uit die literatuur wat vir hierdie studie ondersoek is, blyk die algemeenste oplossing samewerkende outeurskap te wees. KI word reeds op groot skaal deur kunstenaars en skrywers gebruik as ’n bron van inspirasie, ’n hulpmiddel vir produktiwiteit, en vir nuwe maniere om te skryf. Eerder as om menslike skrywers te vervang, of net op KI staat te maak, is daar die geleentheid vir gesamentlike skryfwerk – ’n interaktiewe proses waarin die menslike verbeelding deur algoritmiese insigte versterk word. Dit is belangrik dat daar balans moet wees tussen die hoeveelheid tegnologiese bystand wat gebruik word en die vlak van menslike oorspronklikheid – om KI nie as plaasvervanger te gebruik nie, maar dit eerder as ’n medewerker te sien. Waar KI verantwoordelik en doelbewus gebruik word as ’n aanvulling tot menslike skeppingsvermoë, kan dit kreatiwiteit uitbrei sonder om menslike oorspronklikheid te ondermyn. Outeurskap en kreatiwiteit is immers nie bloot ’n funksie van taalvaardigheid nie, maar ’n uitdrukking van menslike bewussyn, verbeelding en ervaring – eienskappe wat geen algoritme kan namaak nie.

Weer eens het ek ChatGPT self genader vir ’n lys van dié KI-tegnologieë wat die meeste, en met die meeste sukses, vir sodanige samewerking gebruik kan word. Uit die ChatGPT-terugvoer en uit aanlyn statistieke wat in die bronnelys aangehaal is, het ek die volgende kort opsomming saamgestel:

Vir prente of illustrasies
  • Volgens ChatGPT-4 kan KI-toepassings soos Midjourney, Firefly, Dall-E en Stable Diffusion hiperrealistiese prente of illustrasies skep, en is hulle gevolglik ook die tipe KI wat die meeste gebruik word. Firefly is veral bekend vir sy veelsydigheid en gebruiksvriendelikheid, en is in staat om visuele inhoud van hoë gehalte te skep, wat dit ’n gunsteling maak onder ontwerpers, bemarkers en inhoudskeppers. DALL-E, wat ’n produk van OpenAI is, het revolusionêre vooruitgang gemaak in realistiese en kreatiewe beeldgenerering gebaseer op die teksbeskrywing van die gebruiker.
Vir akademiese skryfwerk
  • OpenAI se GPT-3 en GPT-4 word steeds die meeste vir navorsing en akademiese skryfwerk gebruik. Programme soos Microsoft Copilot en Google Gemini word suksesvol in samewerking met bestaande kantoortoepassings gebruik om skryfwerk te ondersteun, terwyl Grammarly, Hemingway Editor en QuillBot gebruik word om akademiese skryfstyl te handhaaf en taalfoute reg te maak. Claude (Anthropic), Jasper AI en ai kan suksesvol gebruik word om opsommings te maak, opstelle te skryf, en akademiese artikels te genereer.
Kreatiewe skryfwerk 
  • KI-kletsbots en virtuele assistente soos OpenAI se GPT-3 en GPT-4, Sudowrite, Jasper, Celtx, HyperWrite ai, Verse-by-Verse en Writesonic en Rytr, Claude, StoryLab.ai, Plot Generator, Plotagon, en Jasper, ook DeepStory is voorbeelde van tegnologieë wat kreatiewe gesprekke voer, terugvoer gee, en intelligente voorstelle aanbied. Hulle help skrywers om skrywersblok te oorkom, om intriges te ontwikkel, styl te verfyn en selfs om tonele of dialoog te herskryf. ChatGPT word spesifiek gebruik vir die uitwerk van die storieplot, die genereer van dialoog, en die herskryf van tonele – met ’n indrukwekkende vermoë om in verskillende stemme en registers te skryf. Chat-GPT, Claude en Jasper kan poësie, fiksie, opstelle of enige ander vorm van kreatiewe skryfwerk lewer. Sudowrite is besonder gewild onder fiksieskrywers vanweë sy vermoë vir karakterbou, fisiese beskrywings, dramatiese wendings, ens. DeepStory is op sy beurt veral geskik vir die skryf van draaiboeke en kan dramatiese tonele op grond van genre en plot-elemente genereer. Verder bied platforms soos Jasper, Copy.ai, Writesonic en Rytr veeldoelige ondersteuning in die skryf van bemarkingskopie en kort kreatiewe stukke. Vir verhale van aansienlike omvang bied NovelAI ’n aanpasbare styl en handhaaf karaktergeheue, terwyl ShortlyAI nuttig is vir voorstelle of idees. HyperWrite kan poësie, woordspel, of metaforiese taal skep – ’n waardevolle hulpmiddel vir ’n digter of literêre skrywer. Celtx is ’n draaiboektoepassing met KI-funksies, en Verse-by-Verse (van Google) is ’n hulpmiddel vir die skryf en ontleed van klassieke poësie. StoryLab.ai, Plot Generator en Plotagon is ideaal vir die uitwerk van plot-idees, karakterbiografieë, of om animasie te skep.
Spel- en taaltoetsers
  • EditGPT, Grammarly, GrammarlyGo, Bard, ProWritingAid, Hemingway Editor en Quillbot spesialiseer almal in teksgenerering en -afronding. EditGPT bied gevorderde redigeringsdienste en is vir verskeie tale beskikbaar. GrammarlyGo, ’n produk van die bekende Grammarly, gaan verder as die tradisionele spel- en grammatikatoetser. Dit bied gevorderde stelsels vir kopieskryf, stylverbetering en selfs inhoudformulering. Hierdie hulpmiddel is veral gewild onder mense wat gereeld professionele tekste moet skryf, hetsy in ’n akademiese, joernalistieke of besigheidskonteks. Bard, daarenteen, fokus meer op kreatiewe skryfwerk. Dit kan poësie, kortverhale en ander literêre vorme genereer, wat dit aantreklik vir skrywers van kreatiewe werk maak. Bard se betreklik hoë gebruik dui daarop dat die vraag na kreatiewe ondersteuning van KI toeneem, veral onder mense wat met skrywersblok of ideegenerering sukkel. Benewens kreatiewe ondersteuning speel KI ook ’n sleutelrol in die redigering en verfyning van teks. Grammarly, ProWritingAid en Hemingway Editor gebruik gevorderde KI-algoritmes om grammatikale foute, leestekens en stilistiese swakhede uit te wys. Hierdie “digitale proeflesers” help om teks te korrigeer en paragrawe te laat vloei. GrammarlyGO gaan ’n stap verder en stel verbeteringe voor, terwyl Quillbot kreatiewe sinne kan verwerk om tempo en ritme te verbeter.

Samevattend kan gesê word dat KI ‘n era van kreatiewe samewerking inlui. In plaas daarvan om kreatiwiteit te vervang, funksioneer KI as ’n hulpmiddel om bestaande talent aan te moedig en verbeelding te stimuleer. KI skep ’n ruimte waar tegnologie en verbeelding mekaar versterk – ’n sinergie wat die kreatiewe landskap onherroeplik verander.

Die keuse berus by die skrywer: om KI te gebruik om sonder veel insette data te skep, of om KI as bedreiging vir oorspronklikheid en kreatiwiteit te beskou, of om KI as ’n vennoot in kreatiewe skryfkuns tot voordeel van die kuns te gebruik. Tans is dit duidelik dat KI nog nie die tradisionele rol van die menslike skrywer kan vervang nie, maar die potensiaal het om die kreatiewe proses te verbeter, te versnel en selfs te herdefinieer. Die sleutel lê in doelgerigte betrokkenheid, om met ’n kritiese ingesteldheid met KI saam te werk. Soos met enige ander hulpmiddel in die geskiedenis van skryf – vanaf die gebruik van die eerste stilus tot die uitvinding van die drukpers, die ontstaan van die rekenaar en die ontwikkeling van die internet sal die mens bekommernisse uitspreek, maar die ontwikkeling omarm en tot voordeel van menslike kennis gebruik.

Bibliografie

Barqawi, A en M Abdallah. 2024. Copyright and generative AI. Journal of Infrastructure, Policy and Development 8(8):6253 ev.

Biswal, A. 2025. Top 24 Artificial Intelligence applications and uses. https://www.simplilearn.com/tutorials/artificial-intelligence-tutorial/artificial-intelligence-applications#:~:text=FAQs-,1.,Medical%20diagnosis%20and%20healthcare%20systems

Boissoneault, L. 2017. A brief history of book burning, from the printing press to internet archives. Smithsonian Magazine, 4 September 2017.

Brinard, L. 2025. Artificial intelligence, creativity, and the precarity of human connection. Oxford Intersections: AI in Society. https://academic.oup.com/edited-volume/59762/chapter-abstract/508608016?redirectedFrom=fulltext.

Brockell, G. 2021. Burning books: 6 outrageous, tragic and weird examples in history. The Washington Post, 13 November 2021.

Cropley, AJ. 2020. Definitions. In Encyclopedia of creativity, geredigeer deur MA Runco en SR Pritzker. San Diego, CA: Academic Press, ble 315–22.

Cropley, DH. 2023. Is artificial intelligence more creative than humans? ChatGPT and the divergent association task. Learning Letters, 1(8):1–13.

Dragomir, M (red). 2024. How Artificial Intelligence is changing media and journalism in Central Europe: A study mapping the use of AI by newsrooms in the Czech Republic, Hungary, Poland and Slovakia. Londen: Thomson Foundation and Media and Journalism Research Center.

Earnshaw, S (red). 2014. The handbook of creative writing. Edinburgh: Edinburgh University Press.

Eysenck, HJ. 1995. Genius: The natural history of creativity. New York: Cambridge University Press.

Floridi, L en M Chiriatti. 2020. GPT-3: Its nature, scope, limits, and consequences. Philosophy & Technology 33:1–14.

GoogleCloud. 2025. What are AI applications?. https://cloud.google.com/discover/ai-applications.

Griffiths, W. 2023. Artificial Intelligence and IP – Who owns the copyright? https://www.adams.africa/intellectual-property/artificial-intelligence-and-ip-who-owns-the-copyright/?utm_source=chatgpt.com.

Hernandez, R. 2021. Creative AI: On the democratisation and industrialisation of creativity. AI & Society, 36(2):1–13.

Hristov, K. 2017. Artificial intelligence and the copyright dilemma. The Journal of the Franklin Pierce Center for Intellectual Property, 57(3):435–54.

Mannarsamy, N. 2023. Scripting imagination: the AI revolution in creative writing. International Journal of English, 12(1):33–6.

Marconi, F. 2020. Newsmakers: Artificial Intelligence and the future of journalism. New York, NY: Columbia University Press.

Marrone, R, D Cropley en K Medeiros. 2024. How does narrow AI impact human creativity? Creativity Research Journal, 1–12.

Nayar, S. 2025. From quill to code: The copyright conundrum of authorship conferment in the age of AI generated works. International Journal of Legal Science and Innovation, 7(2):72–91.

Noain-Sánchez, A. 2022. Addressing the impact of artificial intelligence on journalism: the perception of experts, journalists and academics. Communication & Society, 35(3):105–21.

Norman, J. 2022. Exploring the history of information and media through timelines. Jeremy Norman’s History of information.com.  https://www.historyofinformation.com/index.php?cat=115.

Panettieri, J. 2025. Generative AI lawsuits timeline: Legal cases vs OpenAI, Microsoft, Anthropic, Nvidia, Perplexity, Intel and more. Sustainable Tech Partner Online Journal, 8 Mei. https://sustainabletechpartner.com/topics/ai/generative-ai-lawsuit-timeline.

Peng, SC. 2025. United States Copyright Office: Copyright and Artificial Intelligence, part 2: Copyrightability. United States Copyright Office Federal Register 88(167)

Playton, A. 2024. The difference between fair use and fair dealing: Unpacking South Africa's shift under the Copyright Amendment Bill. https://www.debeerattorneys.com/post/fair-use-v-fair-dealing-copyright?utm_source=chatgpt.com

Rueko Studio. 2025. AI-generated work in South Africa: Who owns it? https://ruekostudio.com/ai-generated-work-in-south-africa-who-owns-it/?utm_source=chatgpt.com

Silver, D en RS Sutton. 2025. Welcome to the era of experience. In Designing an intelligence (geredigeer deur G Konidaris). Cambridge: MIT Press.

Simonton, DK. 1994. Greatness: Who makes history and why. New York: Guilford.

Stojanovic, L, V Radojcic, S Savic, AS Cvetkovic en D Sarcevic. 2023. The influence of artificial intelligence on creative writing: Exploring the synergy between AI and creative authorship. International Journal of Engineering Inventions, 12(12):70–4.

Stransky, C. 2024. A legal approach to whether AI generated content should be protected under copyright. Magisterverhandeling, Universiteit van die Witwatersrand, Johannesburg.

Thaldar, D en M Botes. 2024. AI-generated art: Protected in SA law? Mail & Guardian, 6 April.

Trieste, L en G Turchetti. 2024. The nature, causes, and effects of scepticism on technology diffusion. Technological Forecasting and Social Change, 208:1–14.

Varghesea, MJ. 2024. The AI copyright conundrum: Navigating authorship and ownership in the AI landscape. Jus Corpus Law Journal, 29 Junie 2024, ble 309–21.

Virgilio, J. 2023. Writing with AI: a step-by-step manual for ChatGPT users. Lissabon: Federal University of Santa Catarina.

Wang, L. 2019. Rethinking the significance of creative writing: a neglected art form. Cambridge Open-Review Educational Research e-Journal, 6:110–22.

Lees ook:

Burgert A Senekal: Hoe herken jy KI-geskepte teks?

Johan Fourie: Agterstories – Welkom in die era van die digters

Nini Bennett-Moll: Heil die Leser! Sameer Rawjee: KI in perspektief

Willa Louw: Kunsmatige Intelligensie kan leergeleenthede verryk

Burgert A Senekal: Die Rooi Skemer: DeepSeek as ontwrigtende Kunsmatige Intelligensie (KI)

Nico Geldenhuys: Jan Alleman vs ChatGPT: Kan KI uit regswerk gehou word?

Lees die ander bydraes hier:

Die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad

The post Digters, denkers en datamasjiene: Wie se werk is dit? first appeared on LitNet.

The post Digters, denkers en datamasjiene: Wie se werk is dit? appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21697

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>