Van Coke Kartel is ná ’n uitgerekte ruskans terug met ’n nuwe EP – ’n versameling cover-snitte. Wynand Myburgh van VCK beantwoord ’n paar vrae oor die album, musiek in Suid-Afrika en die lewe.
Goeiedag, Wynand. Geluk met die vrystelling van VCK se nuwe EP, Energie. Hoe het die idee en die uiteindelike besluit gekom om in hierdie stadium van VCK se lewe ’n cover EP uit te bring? Moes julle wik en weeg oor of daar oorspronklike songs ook ingesluit moet word, of hoe het daardie besluitnemingsproses gewerk? En hoe is daar op die ou end ooreengekom op watter vyf songs ingesluit sou word?
Ons wou iets nuuts saam record, maar ons het ook geweet dat daar geen tyd is om iets nuuts te skryf voor die einde van 2015 nie. Ons het al ’n paar covers met VCK gedoen, so die konsep was nie so vreemd nie.
Die idee met die projek was om dit te geniet. Met die opname en skryf van ’n oorspronklike album is daar baie stres betrokke. So as dinge te ernstig begin raak het, het ons net onsself herinner om die hele proses nie te ernstig op te neem nie en dit te geniet. Oorspronklik was die songkeuses bietjie van ’n berg, maar nadat ons besluit het om dit net vyf te maak en weer eens nie te veel daaroor te dink nie, was dit maklik.
Daar's natuurlik uiteenlopende gedagtes oor hoe covers benader en gebruik moet word – sommiges meen as ’n mens eer wil betoon, moet jy dit in die aanslag van die oorspronklike kunstenaar doen, ander voel ’n eie spin of interpretasie is ononderhandelbaar. Wat is jou persoonlike filosofie hieroor? Moes julle bietjie boks onder mekaar om op ’n gesamentlike benadering ooreen te kom, of in hoe ’n mate was daar vinnig verstandhouding oor wat moes gebeur? Hoe sou jy ’n VCK-spin op ’n song – of dan die VCK-spins op hiérdie songs – beskryf?
Ons het regtig nie te veel oor die songs en hoe dit moet klink gemediteer nie. Ons het hulle net so gevat en in ons styl van rock begin speel. Dit het baie natuurlik en spontaan gegaan van daar af. Al die songs beteken vir ons iets. Die Kerkorrel-track “Energie” is seker een van die eerste songs in Afrikaans waarmee ons kon relate. Ons almal is huge Thin Lizzy fans en daai song is so spesiaal. Ons almal like ook die Beatles, en “Help!” spesifiek is een van ons almal se gunsteling Beatles tracks. Die Lana-song het ons almal besluit is ’n “pop” song waarmee ons gelukkig is en Theo Crous het nogal baie input met dit gegee. Die James Brown song was bietjie meer tricky, maar toe ons eers met hom begin vloei het, het hy spontaan gewerk.
Die laaste deel van vraag 3 is dalk onregverdig, want vir ’n EP met vyf tracks is dit geweldig uiteenlopend. Die weergawe van Lana del Rey se "Born to die" is byvoorbeeld baie stripped, en dan is die cover van Johannes Kerkorrel se "Energie" weer klipharde, vinnige, vol-band rock ’n roll ... en dis net twee van die tracks. Die aanslag wat mens wil neem is natuurlik een ding, maar om die musiek rég te kry is nog baie harde werk. Hoe het daardie proses gewerk – vandat een of almal van julle met ’n track gaan sit en met ’n idee vorendag gekom het tot julle uiteindelik besluit het dié is nou lekker en perfek, en later tot die studio-proses en watse heroorwegings daar gebeur het?
Daar was nie veel preproduction nie. Ons het ’n paar sessions gehad waar ons die songs as ’n band gejam het en elkeen hulle input gegee het aan tempo’s, struktuur, etc. Soos hier bo beskryf, het ons nie te veel oor dit getob nie.
Dis ook interessant dat vier uit vyf van die tracks Engels is. VCK het natuurlik voorheen al live en op opnames Engelse covers gedoen ("Maniac" en "I want (br)(c)andy" duik eerste op as mens nou dink). Voel dit enigsins vreemd om as VCK ’n EP vry te stel wat grotendeels in Engels is? Is daar ’n ander denkrigting as bloot die homage aan invloed-songs aan die gang, soos byvoorbeeld die bereik van ’n groter mark of skep van ’n groter aanhangerskorps vir VCK? Hoe lyk die moontlikheid dat VCK in die toekoms ’n paar Engelse originals gaan uitreik?
Ons wou al vir ’n paar jaar songs in Engels uitbring, maar het nog nooit enige sukses gehad nie. Dit is definitief die rede hoekom ons Engelse covers al sedert Skop, Skiet & Donner uitsit. Daar het ook ’n groot change gekom toe Jedd ’n voltydse member geraak het. Ewe skielik het ons nie meer soos ’n Afrikaanse band gevoel nie. Die conversation tussen ons as band lede was meestal Engels. Na die groot shift en struggle om pre-FPK in Afrikaans te begin skryf, kon ons dit nog nie regkry om iets in Engels uit te sit nie.
VCK was relatief lanklaas aktief wat live shows betref. Die redes daarvoor is ook nie ’n geheim nie: bloot die tydelike fokus op ander projekte. Is dit egter moeilik om weer ’n sekere dinamiek in ’n band te herstel ná so ’n lang aftyd, beide wat die musiek en die persoonlikhede betref? Of hoe beskou jy die dinamiek in VCK, veral sedert Jason Oosthuizen die band verlaat en Dylan Hunt aangesluit het? Hoe ’n groot impak het daardie verandering op die band gehad?
Alhoewel ons min live speel, is ons weer geolie na een rehearsal. As ’n band eers ’n band is, verdwyn daai moeilik. Alhoewel Dylan nog net amper twee jaar saam met ons is en ons nie baie in die twee jaar gespeel het nie, werk dit. Ons is almal nou al ou, gesoute musikante en hanteer alles baie professioneel. Die band tussen my en Francois en Jedd is ook so sterk. Ons speel nou al so lank saam dat daar iets is wat nooit sal weggaan wanneer ons in ’n VCK set inklim nie.
Jy is ook betrokke by Jack Parow se bestuur, en die manier waarop jy aan die stuur was van Fokofpolisiekar se sake is al goed gedokumenteer (onder meer in Annie Klopper se boek). Het jy "goue reëls" wat jy deurentyd volg met dié soort dinge, of is dit meer ’n geval van harde werk om deurentyd on top te bly van wat nóú in die bedryf aangaan en wat nóú gaan werk? Hoe beskou jy die plaaslike (en Afrikaanse) bedryf se skerpgeid (of gebrek daaraan) in hierdie opsig? Hoe sou jy die verhouding tussen besigheid en musiek wou sien verander op die plaaslike scene in terme van hoe die hoofstroom (en minder bekendes) daarmee omgaan?
Ek speel nou al musiek voltyds vir 13 jaar en is net so lank al baie aktief betrokke by die bestuurkant van die besigheid, maar dit is eers vir die laaste vyf jaar dat ek die bestuur baie ernstig opneem en dit as ’n career sien. Harde werk gaan hand aan hand met sukses. Dis net belangrik om slim te wees. Dis so maklik om jou energie op die verkeerde dinge te mors. So ja, harde werk om on top te bly, maar ook om die regte keuses te maak om seker te maak dinge steer in die regte rigting en dit moet in verhouding wees met goals en wat trend.
Ek het seker ’n klomp goue reëls, of eerder “filosofieë”, oor die bedryf en kuns oor die algemeen. Ek het te veel opinies oor die plaaslike musiekbedryf, hoofstroommusiek, die balans tussen kuns en besigheid om in dié artikel te bespreek. Die artikel gaan tog oor Van Coke Kartel en cover songs.
Van Coke Kartel – en Fokofpolisiekar – het oor die afgelope paar jaar honderde gigs, toere en dies meer ingewerk. Is daar enige herinneringe, spesifieke venues of plekke wat vir jou uitstaan as hoogtepunte wanneer jy terugkyk? Enige moeilik-om-te-glo agter-die-scenes dinge wat jy nie sommer sal vergeet nie, of enigiets wat jy eerder wel wil vergeet?
Die release van elke album was ’n hoogtepunt met FPK en VCK. Met VCK het ons ook twee crazy shows in Taiwan en Argentinië gespeel. Al die Oppikoppi’s was hoogtepunte. Om vier Samas te gewen het. Om twee keer vir Metallica te geopen het (met FPK in 2006 en VCK in 2013). Om twee keer vir Violent Femmes te geopen het. Dan is daar seker nog baie ander waaraan ek nie nou kan dink nie.
Wat hou die nabye en verre toekoms vir Wynand Myburgh en vir Van Coke Kartel in, in so verre jy dit kan voorspel of beheer?
Met Van Coke Kartel gaan ons in 2016 geen shows speel nie. Francois gaan al sy energie op sy solo career focus en ek gaan management tot die next level vat. Dan is daar ook ’n Fokof Lager op pad en Fokofpolisiekar 10 jaar Swanesang vinyl release op pad. Nuwe Jack Parow-album, Jack Parow TV show en nog vele ander projekte (alles musiek en musiekbesigheid related). Ek is ook op soek na nog ’n kunstenaar om te bestuur. Iets anders ...
Wat is die sin van die lewe?
Daar is geen “regte” antwoord vir dié nie. Elke persoon skep hulle eie realiteit en uitsig op die lewe. Ek vind sin in kreatiwiteit en om my persoonlike kreatiwiteit uit te leef in musiek en besigheid. My verhouding met my vrou is ook ’n groot deel van my sanity en add baie sin tot alles wat ek doen.
The post Van Coke Kartel: "Ons het regtig nie te veel oor die songs en hoe dit moet klink gemediteer nie" appeared first on LitNet.