Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21831

I can buy myself flowers: Die waarhede van vrouwees met komedie én deernis omarm

$
0
0

Erika Breytenbach in I can buy myself flowers (Foto: Bronwyn Lloyd)

I can buy myself flowers is een van twee toneelstukke uit die pen van Mike van Graan wat vandeesmaand by The Drama Factory op die planke is. Die tweede een is To life, with love waarin John Maytham te sien is. Dit het pas by die Kunstekaap voor uitverkoopte gehore gespeel en het Josh Lindberg as regisseur.

Erika Breytenbach speel in die eenvroustuk, I can buy myself flowers, en het nominasies vir die Fleur du Cap-teatertoekennings gekry vir haar optredes in twee produksies wat ook by The Drama Factory hul debuut gemaak het – The unlikely secret agent en Die goeie pa.

Die vertoning begin met ’n dansende Erika wat haarself inleef in die Miley Cyrus-liedjie, “Flowers”, wat die karakter beskryf as die “volkslied vir enkellopende vroue wêreldwyd”. Soos wat sy saamsing met die lirieke verstaan jy hoekom sy dit sê:

I can buy myself flowers
Write my name in the sand
Talk to myself for hours
Say things you don’t understand
I can take myself dancing
And I can hold my own hand
Yeah, I can love me better than you can.

Erika speel verskeie karakters, maar die grootste deel van die toneelstuk handel om Natalie (“Nat vir vriende”) Jackson, ’n eiendomsagent in haar vroeë vyftigs wat vermaaklik – en soms, uitdagend – reflekteer oor die wel en weë van verhoudings, ouerskap, ’n professionele lewe en vriendskappe.

Sy verklaar dat hul groepie vriendinne: “Oud genoeg is om op ons tweede of derde huwelike te wees, jonk genoeg om nie vir apartheid geblameer te word nie en vrou genoeg vir menopouse.” Hulle is mekaar se steunpilare en hul WhatsApp-groep, “Six in the City”, gons oor alles en nog wat.

Aanvanklik is daar verskeie komiese oomblikke: Ek moes veral lag toe sy verduidelik dat sy ná haar egskeiding vir haarself blomme aanlyn bestel, “sodat dit afgelewer kan word en die bure kan sien ek kry blomme”. Of hoe sy haarself indink as komediant en allerhande kwinkslae kwytraak.

Erika Breytenbach in I can buy myself flowers (Foto: Bronwyn Lloyd)

Soos die minute aanstap en sy en haar vriendinne ouer word, skuif die fokus na die oorlewing van enkelma’s; hoe navigeer jy jou eie besigheid; bejaarde ouers wat weer wil trou; en bowenal, hoe navigeer jy jou lewe om van jouself te hou en weer te begin date. Alles binne die veilige kring van vriendskap waar mense regtig omgee dat dinge vir jou mooi uitwerk.

Erika word vir my daar op die verhoog Natalie. Die amper 53-jarige wat later vrede met haarself vind en gemaklik is met wie sy is. Die rympie wat ’n seksoloog vir elke vrou op ’n girls weekend geleer het, dalk komies, maar tog te waar. Dit dwing jou om jou eie lyf lief te hê. Dis immers al een wat jy het.

Ons woon in ’n samelewing waar vroue dikwels hulself verloor, omdat hulle glo hulle is vir alles wat skeefloop in die lewe, verantwoordelik. Die rympie help om jou weer anders na jouself te laat kyk.

........
Dis ’n lekker manier om te besef jy is nie alleen in jou stryd as middeljarige vrou nie; jy kan ’n verskil in ander se lewens maak as jy jouself reg inspan en geen gebeurtenis in jou lewe is noodwendig die einde nie – dis dikwels ’n nuwe begin.
........

Mike van Graan se teks getuig van ’n meesterverteller agter die pen. Met meer as 40 toneelstukke op sy kerfstok en talle toekennings vir sy skryfwerk wat handel oor hedendaagse temas beide in Suid-Afrika en regoor die wêreld, klim hy binne die psige van ’n vrou in.

Voeg daarby vir Toni Morkel, regisseur van die bekroonde Firefly, met teaterikone Sylvaine Strike en Andrew Buckland in die regisseurstoel, en hierdie toneelstuk is nie net vir vroue nie.

Dis ’n lekker manier om te besef jy is nie alleen in jou stryd as middeljarige vrou nie; jy kan ’n verskil in ander se lewens maak as jy jouself reg inspan en geen gebeurtenis in jou lewe is noodwendig die einde nie – dis dikwels ’n nuwe begin.

Kom sit agteroor en ervaar hierdie toneelstuk soos ek dit ervaar het: as ’n openhartige gesprek met ’n vreemdeling wat aan die einde van die 70 minute meer soos ’n vriendin voel.

I can buy myself flowers

Met: Erika Breytenbach
Deur: Mike van Graan
Regie: Toni Morkel
The Drama Factory, Strand
Kaartjies kos R190 en is beskikbaar by https://www.dramafactory.co.za.
Tye: Vertonings op 12, 13 en 14 Februarie om 19:30 en 9 en 15 Februarie om 16:00.

Lees ook:

I can buy myself flowers: an interview with Mike van Graan

Press release: Erika Breytenbach in premiere of Mike van Graan’s I can buy myself flowers at the Drama Factory

The unlikely secret agent – ’n Veelvlakkige kragtoer oor vasberadenheid: ’n teaterresensie

Reguit met Robinson: A Zoom interview with Mike van Graan

The post I can buy myself flowers: Die waarhede van vrouwees met komedie én deernis omarm first appeared on LitNet.

The post <em>I can buy myself flowers</em>: Die waarhede van vrouwees met komedie én deernis omarm appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21831


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>