Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21784

Die katartiese metode: ’n resensie

$
0
0

Die katartiese metode deur Jaco Fouché (Protea Boekhuis)

Titel: Die katartiese metode
Skrywer: Jaco Fouché
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485315834

Tronelle van Huysen, die hoofkarakter in Die katartiese metode, word op 30 met skisofrenie gediagnoseer. Ná ontstellende gebeure word sy uit haar gesinslewe, werk, familie- en vriendekring geruk.

Nêrens in die roman word die woord skisofrenie egter gebruik nie, lesers belééf eerder die binnelewe, vrese, sosiale wanaanpassing en denke van die hoofkarakter.

Tipiese simptome is ’n versteurde persepsie van die werklikheid. Hallusinasies is algemeen, veral tydens psigotiese episodes. Skisofrenielyers kan dinge sien wat nie bestaan nie, stemme hoor en dink dat die omroeper of akteur op TV direk met hulle praat. Vervolgingswaan is ook algemeen.

Die skrywer vertel nie; hy wýs. Dit is een van die sterkpunte van die roman.

Jaco Fouché skryf uitmuntend uit die vroulike ek-perspektief, die hoofkarakter s’n. Tronelle is ’n hoë-onderhoudpasiënt wat al agt keer in die psigiatriese staatshospitaal opgeneem is en nou in ’n inrigting se “kwartiere” bly.

Tilla Ames, ’n psigoterapeut met ’n doktoraal in sosiale fobie, pas die “katartiese metode” op haar toe. Die doel is vrylating van emosie en die uiteinde, suiwering van die gees en vernuwing.

........
Tronelle se gedagtes raak die hart. Soms is ’n subtiele aanklag teen die samelewing teenwoordig, die diskriminasie en afkeur teenoor mense wat psigies siek is.
........

Tronelle se gedagtes raak die hart. Soms is ’n subtiele aanklag teen die samelewing teenwoordig, die diskriminasie en afkeur teenoor mense wat psigies siek is.

Die hoofkarakter verwys na psigiatriese pasiënte (deesdae “kliënte”) as “ons malletjies”. Sy is van mening dat hulle pateties is, onbenullig ook. Tronelle lyk vir haarself soos “psigose op pote”. “Ek ruik na kranksinnigheid [...]. [Dis] die ding van te lig bevind word,” dink sy.

 Ten spyte van haar versteuring, is sy betroubaar, innemend en intelligent.

 Sy verkies haar eie geselskap en is op haar gelukkigste in haar bed waar sy graag lê en rook.

Haar mede-inwoners is nie haar vriende nie, waarskynlik omdat sy meer insig het as hulle. Sy sê onder meer “dat ander mense nie moet weet wat jy werklik dink en voel nie, nooit nie. Jou gedrag moet so wees dat jou gedagtes nie sigbaar is nie.”

Tronelle glo haar probleem is “miskien ál hierdie lewe”. ’n Mens weet eenvoudig nie mooi hoe om dit op te gebruik nie.

’n Hegte band ontwikkel tussen haar en Ames wat self worstel met probleme. Physician, heal thyself, dink Tronelle.

Wanneer die dokter voor ’n groot uitdaging staan, gaan die twee se band in vriendskap oor. Tronelle bly tog bewus daarvan dat Ames “uit ’n ietwat ander (hoër) sosiale klas” kom. Sy bly deurentyd lojaal.

........
Haar psigoterapeut se spreekkamervenster is altyd oop, selfs in die winter. Dis net buite dié venster waar Tronelle dikwels in die son sit terwyl sy haar beurt afwag. Sy hoor die gesprekke tussen Ames en haar kliënte. Dikwels luister sy doelbewus.
Dis waar die verhaal afskop.
........

Haar psigoterapeut se spreekkamervenster is altyd oop, selfs in die winter. Dis net buite dié venster waar Tronelle dikwels in die son sit terwyl sy haar beurt afwag. Sy hoor die gesprekke tussen Ames en haar kliënte. Dikwels luister sy doelbewus.

Dis waar die verhaal afskop.

Hoewel Tronelle aanvanklik nie weet hoe Gideon Lewis, wat vir terapie kom, lyk nie, leer sy hom “ken” deur die gesprekke tussen hom en Ames. Sy reken hy klink “onaangenaam, oninteressant en saai”.

Gideon “makeer nie veel nie”. Hy is “net paranoïes”. Hy glo hy is ’n heiden en word by tye in die “kophospitaal” opgeneem.

Wanneer Tronelle hom vergesel terwyl hy beeste vervoer, kry sy ’n meer gebalanseerde indruk van die man.

Gideon doen die vervoerwerk vir die skatryk Meneer Mylne wat ná ’n ongeluk met ’n rolstoel oor die weg moet kom. Mylne het sterk menings, soos dat die moeilikste ding in die lewe is “om te laat los aan die rokspante van die seekat wat die samelewing is [...]. Geen groepe, geen verbintenisse, in godsnaam geen instellings nie.”

Onafhanklikheid is ’n gawe, besef Mylne veral nou.

Omdat Tronelle ’n hoë-onderhoudpasiënt is, mag sy vryelik rondbeweeg. Sy verken graag die (naamlose) stad en sy woonbuurte te voet, waarskynlik ook simbolies van die gestap deur haar lewe. Nie maklik nie, maar ’n ontdekkingstog.

Ames besef die belangrikheid van ’n doel in iemand soos Tronelle se lewe en betrek haar by ’n soektog na Gideon Lewis. Hy daag nie meer op vir sy terapiesessies nie.

........
Fouché skryf dikwels oor soortgelyke karakters, randfigure, ’n faktor wat sy werk onneersitbaar maak. Niemand wil tog oor vaal karakters lees nie.
........

Fouché skryf dikwels oor soortgelyke karakters, randfigure, ’n faktor wat sy werk onneersitbaar maak. Niemand wil tog oor vaal karakters lees nie.

Die skrywer se waarnemingsvermoë en raak beskrywings is eweneens prysenswaardig. Fouché beskryf ’n vrou se haarstyl as “hard, asof dit uit klei gemodelleer is. Onder haar oë is sagte bulte wat aan die neuskant verdonker het. Om haar mond lê die rookplooie soos alluviale waaiers [...].”

Op haar beurt asem Tronelle diep in “aan die mufheid van haar bestaan”.

Fouché is reeds in 1997 met die Eugène Marais-prys bekroon vir Die ryk van die rawe. Dié roman was ook ’n finalis vir die M-Net-prys.

In 2012 is Liefste Lena aangewys as finalis in NB-Uitgewers se Groot Romanwedstryd.

Fouché se ander werk sluit in Die avonture van Pieter Francken (2005), Die Gryslandverblyf (2010), Verstevlei (2013) en Aanspreeklikheid (2020). Paartie by Jakes (1997) is kortverhale en Siobhán van die sirkus (2014) ’n jeugroman.

 In haar soektog na Gideon Lewis kom Tronelle in aanraking met mense onbekend aan haar. Dis boeiende leesstof wat terselfdertyd lig werp op die simptome wat skisofrenielyers kan ervaar wanneer hulle hul voorskrifmedikasie staak.

Uiteindelik konfronteer Tronelle haar verlede met Ames se hulp. Sy kry insig in die rol wat ongunstige omstandighede in haar psigiese ongesteldheid speel.

 Die sosio-ekonomiese klimaat in Suid-Afrika word deurentyd weerspieël: armoede, kleiner begrotings, die ondergaan van besighede, maatskaplike kwessies, misdaad en moord.

 “Dis die lewe vandag. Dit was nooit so nie,” dink Tronelle. Sy sê trouens dat die wêreld “onder sy eie verandering steier”.

 Die ontknoping van die roman sal waarskynlik op verskillende maniere geïnterpreteer word. Magiese realisme is een. Tronelle kon ook bloot teruggekyk het na die mense wat tot dusver haar lewenspad gekruis het. Sy kon haar ook die toekoms verbeel het.

 Nóg ’n moontlikheid is dat sy haar medikasie gestaak het en daarom visioene sien.

Soos dit ’n goeie roman betaam, vind karakterontwikkeling plaas. Aanvanklik reken Tronelle dat mens niks aflê wat goed is vir jou nie. Later ervaar sy tog “harmonie asof iets finaal afgelê is”.

 Die katartiese metode eindig treffend. Tog is daar enkele vrae.

........
 Die katartiese metode is ongetwyfeld ’n aanwins vir letterkunde. Die roman stel ook ’n hoë standaard vir hoe daar in Afrikaans gepraat en geskryf kan word. “Van die woonstelbalkonne af hang plante in erotiese oordaad” is só ’n voorbeeld.
........

 Hoewel Ames op reis gaan, weet mens nie presies hoe haar dilemma opgelos is nie. En is dit realisties dat Tronelle na ’n koerant se “mashoof” verwys? Sy is nie ’n joernalis nie.

 Hoekom weet sy ook nie teen hierdie tyd dat daar beter oplossings as vrugtesout en bosbessiesap vir ernstige blaasinfeksie is nie? Sy kry tog mediese bystand. As sy sigarette kan bekostig, kan sy sekerlik ook meer effektiewe behandeling kry.

 Die lewe bied egter nie altyd antwoorde nie. Selfs nie oor die hoekom van sekere moorde in hierdie roman nie.

 Die katartiese metode is ongetwyfeld ’n aanwins vir letterkunde. Die roman stel ook ’n hoë standaard vir hoe daar in Afrikaans gepraat en geskryf kan word. “Van die woonstelbalkonne af hang plante in erotiese oordaad” is só ’n voorbeeld.

Die beeldspraak is inderdaad betowerend. Dis nóg ’n rede waarom Die katartiese metode ’n moet-lees is.

Lees ook:

Jaco Fouché (1967–)

LitNet Akademies-resensie-essay: Aanspreeklikheid deur Jaco Fouché

Aanspreeklikheid deur Jaco Fouché – ‘n verhaal oor verhale

Toyota US Woordfeesbundel 2020: ’n onderhoud met Jaco Fouché

Somer deur Jaco Fouché: ’n resensie

The post Die katartiese metode: ’n resensie first appeared on LitNet.

The post <em>Die katartiese metode</em>: ’n resensie appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21784


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>