
Boekomslag: Karooseun van Vosburg deur Franklin Sonn (Protea Boekhuis, 2024)
- Jason Lloyd skryf ’n nuwe rubriek vir LitNet.
........
“Die wyse waarop ons van en met mekaar praat, is tekenend van en vormend vir die patrone van saamleef in hierdie veranderende samelewing wat homself in soveel opsigte nog moet vind en definieer.” – Jakes Gerwel
........
Jakes Gerwel (1946–2012), of Toebelie, soos hy as kind op die plaas Malvern in die distrik Somerset-Oos in die Oos-Kaap bekendgestaan het, se denke was van vroeg af al geskoei op die outentieke begrip van Friedrich Nietzsche wat dié Duitse filosoof die “chaos” van die mens se verbeelding genoem het – die mag om aan te hou om ruimte in jou denke te maak.
Gerwel is vanjaar al 12 jaar oorlede. Hy het op 28 November 2012 ná ’n hartomleidingsoperasie in die Netcare Kuilsrivier Hospitaal in Kaapstad gesterf. In sy laaste dae, toe hy siek geword het, het hy versoek om ’n Afrikaanssprekende dokter te raadpleeg.
Die plaas Malvern is 64 km vanaf Somerset-Oos geleë. Dit is 27 km vanaf die Kommadagga-spoorwegstasie en 6 km vanaf die plaasskooltjie Bracefield Primêr waar Gerwel, sy ses broers en drie susters hul skoolloopbane begin het.
Sy hoërskooljare het Gerwel op Uitenhage, by Dower Kollege, en in Port Elizabeth, by Paterson Hoërskool, waar hy gematrikuleer het, deurgebring.
Sy broer Ike (wat vroeër vanjaar op Knysna oorlede is) het in die 1980’s skoolhoof van dieselfde skool op Uitenhage geword waar Gerwel sy hoërskoolloopbaan begin het.
Ek sou baie jare later hoofseun by dié skool word.
Op Uitenhage en in Port Elizabeth en in baie Oos-Kaapse dorpe sou die Congregational-kerk oor die jare ’n bevrydende en progressiewe invloed op die denke en lewens van die bruin gemeenskap hê.
Soseer dat menigeen die teenwoordigheid van wit predikante in die Verenigde Gereformeerde Kerk (VGK) in Suid-Afrika op Uitenhage bevraagteken het.
In sy outobiografie, Karooseun van Vosburg, wat onlangs by Protea-uitgewers verskyn het, skryf Franklin Sonn oor die positiewe invloed wat die Congregrational-kerk op sy ontwikkeling as mens op Queenstown in die Oos-Kaap gehad het.
“Toe ons in 1951 uit Nuwerus na ’n groot huis in Greystraat in Queenstown trek, het ons van die NG Sendingkerk (soos die VGK eens bekend gestaan het) na die Congregational-kerk oorgegaan. Reeds hier het ek die geleentheid gekry om my potensiaal as leier te begin ontwikkel.
“In Nuwerus was dit gewoonlik wit predikante wat op die kansel was, maar by die Congregational-kerk was dit mense uit die gemeenskap wat gepreek het en in beheer van sake was.”
Tydens Gerwel se verblyf en hoërskooljare op Uitenhage was hy ’n lid van die Dalestraat Congregational-kerk waar Allan Hendrickse, eertydse leier van die Arbeidersparty, die leraar was.
Hendrickse, wat my as baba gedoop het en ons predikant was, was ook Gerwel se predikant en onderwyser by Dower Kollege en Paterson Hoërskool.
Sonn vertel my dat alhoewel Gerwel skerp verskil het met Hendrickse en die Arbeidersparty se deelname aan die destydse driekamerparlement, het hulle op ’n persoonlike vlak ’n goeie verhouding gehad.
“Die stormagtige politiek van die 1980’s het geen negatiewe invloed op Jakes en Allan se verhouding gehad nie. Trouens, dit het wedersydse respek en begrip vir mekaar se verskillende uitgangspunte geskep.”
Sonn en Gerwel was destyds onderskeidelik rektor van die Skiereilande Technikon en Universiteit van Wes-Kaapland (UWK). Hendrickse was voorsitter van die Ministersraad in die Raad van Verteenwoordigers. Nadat Carter Ebrahim afgedank is as minister van onderwys en kultuur in die Raad van Verteenwoordigers, het Hendrickse vir ’n tydperk benewens sy voorsitterskap ook die pos van minister van onderwys en kultuur beklee.
“Hendrickse was dus ek en Jakes se baas. Wanneer ons hom gaan spreek het, het ons altyd beplan ons wil dit en dat met hom bespreek. Daar was nooit konfrontasie nie. Net respek vir mekaar. Jakes en Allan het oor die ou dae gesels. Oor hul verhouding by die Congregational-kerk en by Dower Kollege en Paterson Hoërskool. Jakes het altyd absolute respek aan Allan betoon deur hom as ‘meneer’ aan te spreek soos predikante op ’n respekvolle manier in die bruin gemeenskap bekend staan.”
Gerwel het altyd opgemerk dat die filosoof en digter Adam Small – sy filosofiedosent op UWK – waarskynlik intellektueel die grootste invloed op hom gehad het. “Adam het ons ’n kursus aangebied oor die wetenskaplike waarde van twyfel. Ek dink nie ek het al ooit heeltemal ontkom aan die effek van daardie kursus nie.”
Hy het onwrikbaar – soos die Stellenbosse filosoof Johan Degenaar – geglo ’n mens moet ’n “veelvuldige identifikasie” aanneem eerder as om in ’n “statiese identiteit” vasgevang te wees. Etniese veralgemenings van “ons en hulle” was vir hom onaanvaarbaar.
Gerwel het in so ’n mate deur sy lewe teen dié dwaling van etniese-identiteitsvorming gepraat dat hy homself as “’n slegte kleurling” beskryf het, omdat hy hom toenemend buite die apartheidshiërargie dat die bruin mense beter as etniese swart mense is, gedefinieer het.
........
In die Afrikaanse leefwêreld is sy pleidooi vir nierassigheid in Afrikaans deur toenemend ’n nuwe Afrikaanse denkwêreld te bepleit, veral deur Naspers (waarvan hy ’n direksielid was) en Media24 (waarvan hy die direksievoorsitter was) nooit regtig na waarde geskat nie.
........
In die Afrikaanse leefwêreld is sy pleidooi vir nierassigheid in Afrikaans deur toenemend ’n nuwe Afrikaanse denkwêreld te bepleit, veral deur Naspers (waarvan hy ’n direksielid was) en Media24 (waarvan hy die direksievoorsitter was) nooit regtig na waarde geskat nie.
Soseer dat hy in 2010 geskryf het dat “bruin mense hulle oor die algemeen nie in die hoofstroom Afrikaanstalige media herken of hoor nie”.
Volgens sekere bruin intellektuele, meningsvormers, skrywers en joernaliste is dié situasie waaroor Gerwel gekla het, nog dieselfde.
As ’n literêre kritikus en uitnemende vakman van die letterkunde, en ook as ’n besonder fyn leser en ontleder van ingewikkelde literêre tekste, het hy in boekresensies en geskrifte oor die letterkunde kritiese en wetenskaplike uitinge gegee oor skrywers se werk.
Soseer dat die nou ontslape skrywer André P Brink gesê het: “Jakes was een van die skerpste literatuurkenners met wie ek ooit te doen gekry het.”
........
Gerwel het geglo in die aanwesigheid van die sosiale bewustheid in die estetiese omgang met die letterkunde, veral om die mensgemaakte lyding van die “ander” – die voorheen benadeeldes – te belig.
........
Gerwel het geglo in die aanwesigheid van die sosiale bewustheid in die estetiese omgang met die letterkunde, veral om die mensgemaakte lyding van die “ander” – die voorheen benadeeldes – te belig.
Oor sy geliefde ANC het hy in 2010 geskryf: “My kritiek teen wat, veral deesdae, in die ANC aan gebeure is, is duidelik geboekstaaf. Terselfdertyd kan ek ook weer nie my identifikasie met daardie beweging ontken nie.”
Van 1999 tot 2012 het Gerwel ’n maandelikse rubriek vir Rapport geskryf. Hy het altyd sy rubrieke argumentatief en ruim van denke ontwikkel. Tim du Plessis, oudredakteur van Rapport, het Gerwel in ’n rubriek beskryf as die primus inter pares van Rapport se rubriekskrywers: “Hy is ’n fyn mens. Nog fyner is sy omgang met woorde. Elkeen van sy rubrieke het altyd ’n paar sinne en klompie woorde in die liga van ‘ek wens ek het daardie sin aanmekaar getimmer, of daardie woord gevind of geskep’”.
Gerwel se deurlopende tema in sy rubrieke was hoe ons die openbare gesprek met en oor mekaar voer. Hy het altyd in sy rubrieke beklemtoon: “Die wyse waarop ons van en met mekaar praat, is tekenend van en vormend vir die patrone van saamleef in hierdie veranderende samelewing wat homself in soveel opsigte nog moet vind en definieer.”
Gerwel het na homself as grondig “Westers” gevorm as intellektueel verwys. “Dit is Antjie Krog wat my elke keer as ek haar lees uitdaag om die beperktheid van daardie vorming te erken en te takel. Min ander Afrikaanssprekende denkers worstel so diep en aanhoudend met Afrika en die morele en intellektuele uitdagings van ons kontinent en land,” het hy 20 jaar gelede in Rapport geskryf.
In ooreenstemming met die outentieke begrip van Nietzsche het Gerwel soos volg in 2010 reageer toe ek ’n rubriek van die skrywer en filosoof Dan Roodt aan hom ge-e-pos het. In die rubriek, “Bruines teen Afrikaners”, lewer Roodt venynige kritiek op my, Russel Botman, Jonathan Jansen, Ihron Rensburg, Cheryl de la Rey, Hein Willemse, Max du Preez, Christo van der Rheede en Gerwel.
“Jason, ek geniet Dan altyd. En vanuit sy raamwerk en vertrekpunt maak hy hierin nogal ’n paar geldige en interessante opmerkings.”
Lees ook:
Die lag van die lumpen-proletariaat as idioom van hibriditeit: hulde aan Adam Small
Dinkskrum: Is die eenheid in die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) op valse optimisme gebou?
The post Dinkskrum: Notas ter herinnering aan Jakes Gerwel, die Karooseun van die plaas Malvern first appeared on LitNet.
The post Dinkskrum: Notas ter herinnering aan Jakes Gerwel, die Karooseun van die plaas Malvern appeared first on LitNet.