Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21784

Plekspesifieke poësie in Jaco Barnard-Naudé se Om my kastele in Spanje te sloop

$
0
0

om my kastele in Spanje te sloop deur Jaco Barnard-Naudé (Human & Rousseau, 2024)

om my kastele in Spanje te sloop
Jaco Barnard-Naudé

Uitgewer: Human & Rousseau (2024)
ISBN: 9780798184540

In ’n teks so ruig soos Jaco Barnard-Naudé se debuutbundel, Om my kastele in Spanje te sloop, moet mens vir jouself ’n voetpaadjie tussen die gedigte uittrap. In sy resensie fokus Neil Cochrane byvoorbeeld op die uitbeelding van queerheid en “vaderlike brutaliteit” in die bundel, terwyl Marius Crous hom veral op die intertekstuele verwysings in heelwat van die gedigte toespits. Deborah Steinmar sê reguit: “Ek weet nie hoe om hieroor te skryf nie. Koop die bundel.”

Dit is veral by die gedigte wat meer persoonlik van aard is – en waar herinneringe wat aan bepaalde plekke verbind is, sterk figureer – waarby ek aanklank vind. Soos Marlies Taljard tereg opmerk, is byna elke gedig in dié bundel aan herinnering en die verlede verbonde. Hiermee stem ek saam. Onthougedigte soos “o, my geliefde Spanjaard” (bl 17), “soos ek dit onthou” (bl 18) en “Victoria Stasie-vaarwel” (bl 26) staan vir my uit – in hierdie verse is die beelde konkreet en die digter se stem glashelder.

In “jeugfoto” (bl 14) word herinneringe opgeroep wanneer die spreker ’n verbleikte foto bestudeer: “ek en jy / is tienermusikante – ek met ’n tjello, / jy met die dwarsfluit”. ’n Nabye vriendskap uit die spreker se jeug word hier onthou – twee vriende wat beide by die skool as “moffies” gebrandmerk word en hul liefde vir musiek gemeen het. “[D]ie aand van daardie foto onthou ek nie, / maar ek merk dat ek glimlag vir jou ‘Memory’ / op die maat van my basso continuo”. En hoe mooi dan:

soms is ’n oomblik ’n ganse bestaan,
uitgevoer, toegejuig, die gehoor huiswaarts.
jou fluit is in stukke vandag en ek aarsel

met my tjello voor die foto op my kas –
’n bewys dat ek en jy eens musiekmakers was. (bl 14)

Klanke van nostalgie vir vervloë jare syfer ook deur na die daaropvolgende gedig, “huisbesoek” (bl 15) – ’n roudig oor ’n vriend (moontlik dieselfde persoon oor wie daar in die vorige gedig, sowel as in “Fokus met Freek” [bl 16] geskryf word – indien wel, is daar selfs meer betekenis opgesluit in die beeld van sy dwarsfluit wat vandag “in stukke” is, en die gehoor wat reeds “huiswaarts” gekeer het). Dit is die alledaagsheid wat deur die spreker onthou word wat my tref: “jy kuier nog by my in Mei”; “jy snoei / droë blomme van my aster”; “Julie kom vir oulaas: / die kerkhof en môre / en al die dae daarna”; “die musiek by jou graf was corny / ’n aster is allesbehalwe ’n ster / en ek loop weer in my slaap”. Die corny musiek by die graf van dié persoon wat eens ’n musiekmaker was (indien ek “jeugfoto” en “huisbesoek” reg interpreteer), is ironies – en hartseer.

Dan is daar gedigte waar die herinneringe só merkwaardig aan bepaalde plekke vasklou. Die spreker onthou sy “geliefde Spanjaard” vanuit Madrid, Londen en Kaapstad (bl 17); hy onthou ’n oujaarsaand en Nuwejaar op “skone Grootfontein” (bl 18); hy onthou hoe hy saam met ’n lover deur Rome, “die ewige stad”, dwaal (bl 21); hy onthou hoe hy op ’n stoep in Vredehoek staan en sê “as ek nie wakker word nie roep my voor jy ry” (bl 22). Eenvoudig, en pragtig.

........
Plekspesifieke poësie verteenwoordig nie bloot ’n vorm van katarsis vir die digterspreker nie, maar dit lei – eenvoudig gesproke – tot goeie gedigte.
........

Hierdie plekke – stede, woonbuurte, plase, treinstasies, kroeë, museums, tesame met items soos foto’s en selfs enkele boeke en musiekkomposisies – dien vir die spreker as plekke van herinnering, of lieu de mémoire, soos die Franse historikus, Pierre Nora, die verhouding tussen plek en herinnering verstaan. Herinneringe aan die verlede – en veral aan traumatiese gebeure – word dikwels opgeroep wanneer die spreker landmerke vanuit sy geheue teëkom. Om hierdie plekke deur die skryfproses te herbesoek is ’n konfronterende, maar moontlik ook helende ervaring vir die digterspreker, terwyl dit die leser dien deur moeilik-verwoordbare terugflitse aan konkrete beelde te heg. Plekspesifieke poësie verteenwoordig nie bloot ’n vorm van katarsis vir die digterspreker nie, maar dit lei – eenvoudig gesproke – tot goeie gedigte.

Fyn waarnemings en oomblikke wat stil-stil verbyglip, bly in die spreker se herinneringe behoue met verloop van tyd. “[E]k onthou nie die musiek nie, / wel luidsprekers buite – / ’n funky vrou sou blykbaar / optree teen die sonsondergang” (bl 32), verwoord hy dit so juis. Ek het nie veel om by te voeg nie. ’n Gedig soos “&Union” (bl 32–3) sê dit alles:

ek sien jou daar staan, duideliker as al die Dinsdae
in die sonsondergange daarvan, asof ek eenmaal
helderheid gehad het en toe, nooit weer nie.
die streng kam van jou hare, daardie dissipline
van jou gelaat, jou rugbyletsels.
daar was ’n sweempie tranerigheid, niks meer nie.

deesdae onthou ek minder en minder van daardie laatmiddag,
ek het weggeglip, Shaun verwar,
my palm gehou teen my voorkop
asof ek iets wat uitstort wou keer
asof ek jou per slot van rekening
na ’n ander laatmiddag, ’n ánder kroeg,
’n verder heelal
kon weer

maar hoe kon ek?
jou lovebite wat te ver gegaan het
lyk soos ’n komeet. (bl 33)

Soms is ’n oomblik ’n gánse bestaan.

Die laaste afdeling gedigte – wat ingelei word deur ’n aanhaling van Elisabeth Eybers: “Jou geheue omhels die eertydse en lag” (bl 67) – het die potensiaal om die bundel op ’n besondere sterk noot af te sluit. Die trefkrag gaan ongelukkig plek-plek verlore weens enkele gedigte wat na my sin te veel na abstraksie en sentimentaliteit neig. Ek verwelkom dit om reggehelp te word – die digter skryf immers self dat hy ’n broertjie dood het aan dié twee digterlike sondebokke.

In “oordrag” (bl 71) is daar byvoorbeeld sekere reëls wat afbreek doen aan wat andersins ’n besonderse gedig aan en oor die spreker se ma is: “jy was altyd sterker as wat jy gedink het”; “ek weet nou dat jy die digters ontbied het, / [...] jy het geweet dat ek hulle nodig sou kry, [...] om in te staan vir Pa op die grens en vir jou”; en “jy’s fine – / jy was maar altyd fine, liewe Moeder, wat my geleer het / hoe ’n mens cope sonder dat jy regtig cope”.

Ook in “sekwense aan my pa” (bl 76–9) word daar soms vir die leser te véél emotiewe taal op ’n skinkbord gegee:

onthou jy daardie pistool daardie soel someraand
in Wildevystraat? onthou jy hoe ek die vuurwapen
voor jou wegraap toe jy reik daarna asof na die verlossing
waarvan jy vir ons in stiller tye uit Oupa se Statebybel
tydens huisgodsdiens by daardie einste eetkamertafel gelees het?
onthou jy hoe ek met alles in my twaalfjarige lyf
vir jou skree dat jy ons nie vanaand
oor my dooie liggaam sal doodmaak nie?
(ja, ek was toe al een vir ironie, mevrou die Keurder) (bl 77)

Maar dan lok die digter my terug met selfbewuste waarnemings oor die afgetrokkenheid, verwytende en meganiese manier waarop die spreker deesdae met sy ma praat – “ook dit maak nie meer saak nie, want / hierdie is die koninkryk waarin ek jou opvolg / en ek is alreeds jy” (bl 71). En hierdie woorde aan sy pa: “deesdae voel dit of al die oorlewing / toe ek jou kind was my nou begin inhaal” (bl 79). Sjoe.

........
En hierdie woorde aan sy pa: “deesdae voel dit of al die oorlewing / toe ek jou kind was my nou begin inhaal” (bl 79). Sjoe.
........

Die digterspreker is immers bewus van hoe moeilik dit is om oor familie te skryf. “[V]an bosoorloë en posttrauma raak lesers nou al bored / oor Boet en Sus en Pa en hond en Ma se kop is sleg,” skryf hy in “‘die huisgesin’ maak dit nie” (bl 72). “[B]egin by Pa, jou mooimaakma, verslawing in die eg / hou verby die niksseggings, vermy ook altyd ‘word’ / oor Boet en Sus en hond en Ma se kop is sleg,” gaan hy voort. “[T]oe gaan ek vort, ek dig die vers, die skandes staan tereg / [...] oor Boet en Sus en Pa en hond en Ma se kop was wég”.

En hier, omdat ek nie weet hoe om ’n besinning oor ’n bundel wat oor járe geslyp is, en wat van noemenswaardige moed en vakmanskap getuig, af te sluit nie, die slotstrofe uit “Jakob worstel met die engele” (bl 73):

ék bly net Jakob met die aarde
onder my lomp voete met veertig jaar
van op en af met ’n leer; ’n handvol verse
wat stink na brandende vere
en die spyt soos stukke van ’n stralekrans
wat net hiér in my borskas bly steek.

Lees ook:

Chase Rhys se Misfit: Jy het nog nie voorheen só iets gelees nie

Ontaard deur Pieter Odendaal: ’n resensie

USAN-kongres 2024: ’n onderhoud met Elodi Troskie

Van vaders en vlugtelinge deur SJ Naudé: ’n resensie

Die begrip vervreemding in S.J. Naudé se Die derde spoel en Van vaders en vlugtelinge – ’n psigoanalitiese en filosofiese beskouing

 

The post Plekspesifieke poësie in Jaco Barnard-Naudé se Om my kastele in Spanje te sloop first appeared on LitNet.

The post Plekspesifieke poësie in Jaco Barnard-Naudé se <em>Om my kastele in Spanje te sloop</em> appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21784


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>