Stasies: ’n speurverhaal
Joan Hambidge
Protea Boekhuis (2023)
ISBN: 9781485314141
Ons ken almal die soetsappige en voorspelbare clichés van verhale wat by die honderde geproduseer en verkoop word. Soos Joan Hambidge in haar mees onlangse roman, Stasies: ’n speurverhaal, verwoord:
Daardie verwagtinge wat uitgewers aan skrywers, subtiel en dikwels minder subtiel, opdring. ’n Plot, ’n storie wat vorentoe beweeg en closure. Met ’n verteerbare storielyn wat ’n resensent onmiddellik kan opsom. Met ’n voorblad wat nie veel aan die verbeelding oorlaat nie. (10)
Stasies is allesbehalwe ’n “verteerbare” storie. Met tipiese postmodernistiese elemente, skynbare toevallighede, herhalings, metatekste, sinchronisiteit, filosofiese mymeringe, verwysings na mitologiese figure en ’n lover wat verdwyn, is hierdie verhaal vir die “superleser” bedoel (22). Stasies is tegelyk ’n verhaal én ’n studie van wat ’n verhaal is, met bykomende leidrade (as jy dit so wil sien) vir hoe om hierdie verhaal te benader. Ek het byvoorbeeld in die besonder die nadenke oor watter klere die karakters dra en waarom dit belangrik is (48–50), geniet.
........
Stasies is tegelyk ’n verhaal én ’n studie van wat ’n verhaal is, met bykomende leidrade (as jy dit so wil sien) vir hoe om hierdie verhaal te benader.
........

Stasies: ’n speurverhaal deur Joan Hambidge (Protea Boekhuis, 2023)
Hannah Loubser (die verteller en fokaliseerder in groot dele van Stasies, en ook ’n skrywer) se herinneringe aan The Speakeasy, ’n “kroeg-cum-eetplek” (12) waar sy en ’n uiteenlopende groep “gefnuikte” (70) mense gereeld bymekaargekom het, word aangewakker wanneer sy lees dat een van hulle vermoor is. Dit lei tot die opwel van die verloop van gebeure wat plaasgevind het voordat ’n voormalige liefdesbelangstelling – Lizelle de Bruin, wat deel was van die Speakeasy-bende – soos mis voor die son verdwyn het. ’n Breakup sonder closure. Uit een van die aanhalings in die motto kan die leser aflei dat hierdie storie moontlik geïnspireer is deur Hambidge se eie lewe, maar dit word ook duidelik gemaak dat dit ’n gefiksionaliseerde vertelling is: “The greatest novelists are not writing their life stories. They are taking material from their lives and transforming it into something else” (Paul Auster in Stasies).
Stasies is sekerlik die mees onsentimentele sentimentele boek wat ek nog gelees het – op die beste manier moontlik. Gedistansieerd dog emotief. Dit is ’n erkenning en verkenning van die eensaamheid wat die skryfproses (en leesproses) dikwels behels, sowel as ’n opskrywing van die ervaring van verlies. Die karakter Hannah verwys meermale daarna dat sy as toeskouer, as onbetrokke waarnemer optree – “[d]ie waarnemer van die kantlyn” (9). Sy is in die meerderheid situasies verwyderd van haar omgewing en die mense wat haar omring. Daarmee saam speel haar werk as dosent ’n groot rol in haar perspektief op die lewe, deurdat sy gereeld verwys na onder meer filosofie, psigoanalise en literatuurstudie in die poging om sin te maak van haar leefwêreld en om traumatiese gebeurtenisse te verwerk. Van die temas wat uitstaan in Stasies, is verlies, eensaamheid en sluiting (closure), die skryfproses en waarheid teenoor fiksie.
Verlies, eensaamheid en sluiting
Hannah verwys na die idee dat die verlede en die teenwoordige en toekomende tyd tegelykertyd bestaan. Die herinneringe wat in haar voortleef van dinge en plekke en mense wat nie meer bestaan in die nou nie, bestaan steeds in haar geheue of “gedagtewêreld”: “Die bouwerk het verdwyn maar die plek bestaan steeds” (12). Volgens haar bepaal die verlede die hede en dit “[bly] ondraaglik die nou” (12). Omdat die verlede en haar verliese as’t ware by haar spook, kan sy nie vorentoe beweeg nie en het alles vir haar ’n “afrigting vir die dood geword” (12). In hierdie opsig vra sy haar af: “Kan tyd en ruimte geskei word? En waarom praat ons van tydruimtelike kwessies in ’n roman?”
Dit blyk dat die verteller gereeld van haar eie leefwêreld probeer sin maak deur daarna te kyk asof dit ’n verhaal is, “die lewe net as ’n teks” (11). Moontlik in die poging om afstand te kry van haar omstandighede en vir die kans op verwerking. In hierdie vervaging van die grense tussen teks en werklikheid worstel die verteller met die vraag of die “skrywer die verhaal skryf en of die verhaal die skrywer skryf” (27).
........
Dit blyk dat die verteller gereeld van haar eie leefwêreld probeer sin maak deur daarna te kyk asof dit ’n verhaal is, “die lewe net as ’n teks” (11). Moontlik in die poging om afstand te kry van haar omstandighede en vir die kans op verwerking.
........
Hannah meen dat “in ’n sekere sin moet jy eensaamheid kan oorwin ten einde te kan [...] skryf” (29). Die aanname is dat die skryfproses ’n eensame een is: “Ek is die Hermiet, die alleenloper” (78). Die skrywer vertoef amper deurentyd in ’n liminale toestand waar sy van buite af waarneem met die agenda om later aan die werklikheid te ontleen vir haar verhale.
Wanneer skryf gebruik word om (traumatiese) gebeure in die werklikheid te verwerk, raak dit ’n kwessie van balans. ’n Balans wat reeds vir Hannah moeilik is om te handhaaf wanneer sy oor die verlies van Lizelle wil skryf. In hierdie opsig word fiksie gelykgestel aan die rouproses: “Fiction is similar to grief; it is unfinished love” (139).
Die verteller is bekommerd dat Lizelle haar versinsel is vir haar skryfproses: “In ’n fantasie vir ’n speurreeks stel ek my voor jy het verdwyn” (81). Ander kere is sy weer seker van Lizelle se bestaan en daadwerklike impak op haar lewe: “Lizelle het bestaan. Lizelle het geskryf. Lizelle het verdwyn” (43). Die verteller en skrywer moet waak daarteen om te ver verwyderd te wees van haar situasie en haarself, terwyl sy ook nie te na aan haarself en haar leefwêreld kan wees as sy ten minste tot ’n mate objektief daarna wil kyk nie. In beide gevalle sal dit haar verhoed om werklik berusting en sluiting te vind.
Die skryfproses
Die skryfproses is een wat dikwels as ’n worsteling verwoord word. Dit word duidelik wanneer die verteller meld: “Want elke skryfverslaafde, opgefokte is geslaan met depressie. ‘Ek skryf omdat ek woedend is,’ word hier: ‘Ek skryf omdat ek melancholies is’” (137).
As daar een ding is waarop Stasies ’n mens attent maak, is dit dat skryf baie maal vir skrywers as ’n soort verslawing manifesteer, maar dat dit nie verhelp kan word nie. Met verwysing na Ernest Hemingway sê die verteller: “Alle biograwe wys daarop dat skryf die enigste manier was waarop hy sy demone kon besweer en toe hy nie meer kon skryf nie, was die dood waarskynlik die enigste uitweg” (61). Dit blyk dat skryf vir Hannah dieselfde waarde en gewig dra as vir Hemingway. Die verteller ontbloot self dat sy in die Instituut vir Skryfverslaafdes (137) opgeneem is. Dog sy het nie ’n geromantiseerde blik op die skryfproses nie en sy meen “skryf [is] helaas ’n onspirituele proses. Jy skuif dekstoele rond op die Titanic. Narcisme-in-aksie” (80).
Die skryfproses dring sigself op dwingende wyse aan die skrywer op; dit bly ’n konstante drang. Daarmee saam word nie elke teks waarmee die skrywer begin, voltooi nie, wat vir die ware verslaafde net nog aansporing is om meer en meer te produseer. Hierdie gegewe word veral beklemtoon deur die aantal metatekste wat in die roman te vinde is – van kort-kortverhale tot ’n “episodiese roman” (Die buikspreker) en selfs twee operas (Anti-Laius en O, roos van my hof: ’n minimalistiese opera) en gedigte.
........
Skryf is tegelyk onderhoudend en vernietigend; die skrywer is afhanklik van skryf vir haar oorlewing, maar dit sal ook haar einde beteken.
........
Wanneer die verteller verwys na The biographer’s tale, meen sy dit is ’n “mosaïek van tekste, verwysings, parodieë, vertalings, toespelings en fragmente” (77). En sy haal aan: “This is an addict’s book about the dangers of literary addiction” (Hermione Lee in Stasies, 77). Hierdie siening is woord vir woord van toepassing op Stasies. Skryf is tegelyk onderhoudend en vernietigend; die skrywer is afhanklik van skryf vir haar oorlewing, maar dit sal ook haar einde beteken. “Ek eet my Dasein op. My woorde vreet my op” (150).
Waarheid teenoor fiksie
Anton Verdun, ’n kollega met wie Hannah ’n haakse verhouding het, meen dat sy ’n blote “buikspreker” is vir “groot teoretici en geleerdes” (67). Die skrywer word dikwels as leuenaar en dief voorgestel in Stasies, iemand wat bloot gegewens en karaktereienskappe “steel” by die werklikheid en van werklike mense in die poging om ’n storie aanmekaar te sit. In hierdie opsig vra die verteller haar af: “Waarmee is ek besig? Met outofiksie?” (25). Waar lê die grens tussen waarheid (outo-) en fiksie? Of soos sy dit in haar roman Die buikspreker verwoord: “Wanneer is ’n storie net ’n storie, ’n ‘blote storie’?” (120).
Terwyl fiksie natuurlik versinde verhale is, is dit tog gegrond in werklike ervaringe wat die skrywer meegemaak het – al was dit in ’n droom – wat die skeiding tussen fiksie en die werklikheid laat vervaag. Die verteller meen: “[O]ns tekste laat wel spore (traces) van waar ons was en wie ons is” (25). In hierdie opsig is fiksie onafskeibaar van die werklikheid en kan die verbintenis as “’n soort vennootskap” (139) verstaan word.
Die “waarheid” kan nooit werklik waar wees nie, oftewel daar kan nooit net een waarheid bestaan nie, want ons interpretasie van gebeure is eie aan onsself. “Jy lees die kodes van ’n vreemde land of stad [of mens of teks] vanuit jou persepsie” (148). In dieselfde lig is ons verhoudinge elkeen uniek en het elkeen ’n eie perspektief op ’n gegewe verhouding. Wat Lizelle byvoorbeeld vir Hannah beteken en hoe sy haar sien, stem nie ooreen met die verhouding wat Lizelle met Anton het nie.
........
[V]ir die geduldige leser wat nie lees vir die verwagte begin-middel-einde nie, is hierdie boek een wat oor en oor geniet en waardeer kan word.
........
Met betrekking tot die vraag hier bo of Lizelle net ’n versinsel van Hannah se verbeelding is, is die antwoord dus beide ja en nee. Ja, Hannah se beskouing van Lizelle is slegs vir Hannah “waar”. Nee, Lizelle was (of is) ’n “regte” persoon in die romanwêreld. Of so neem ons aan. Die onbetroubaarheid van Hannah as verteller laat natuurlik altyd ruimte daarvoor dat Lizelle werklik nooit bestaan het nie en dat sy net een van Hannah se karakters is.
Ek sou graag nog iets wou sê oor die leesproses, liminaliteit en die dood, maar ter wille van bondigheid roep ek nou eerder halt. Kyk, die kruks van die saak is dat Stasies nie noodwendig leesstof is vir diegene wat skop, skiet en donner of ’n vurige romanse wil hê nie; maar vir die geduldige leser wat nie lees vir die verwagte begin-middel-einde nie, is hierdie boek een wat oor en oor geniet en waardeer kan word.
Lees ook:
Poësie as ’n proses eerder as ’n voltooide produk: ’n onderhoud
The post Stasies: ’n speurverhaal deur Joan Hambidge: ’n resensie first appeared on LitNet.
The post <em>Stasies: ’n speurverhaal</em> deur Joan Hambidge: ’n resensie appeared first on LitNet.