Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21983

Lesersindruk van Koos Visser se boek Die geestelike noodtoestand in die kerk

$
0
0

Titel: Die geestelike noodtoestand in die kerk
Skrywer: Kobus Visser
ISBN: 978-0-7961-2119-6
Publikasiedatum: 2023
Uitgewer: Selfpublikasie
Aantal bladsye: 344

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

’n Noodtoestand verg ’n noodsein. Hierdie boek is so ’n noodsein wat die krisis in die kerk beskryf en is ’n wekroep  aan alle lidmate om kennis te neem en daadwerklik op te tree. Hier is inligting wat vir elke Christen as barometer kan dien om te bepaal of dwaalleer verkondig word, sowel as ander inligting wat van onskatbare waarde is vir Christene in die eindtyd waarin ons ons tans bevind.

Francois Carr van Heart cry South Africa, wat Kobus Visser jare al ken en saam met hom geestelike uitreike gedoen het, skryf in die eerste voorwoord hy glo dat hierdie boek die leser sal help om bewus te word van die dilemma waarin die kerk verkeer. Piet Otto, leraar van Bethal Moedergemeente, skryf in die tweede voorwoord dat hierdie boek ’n raak beskrywing is van die toestand waarin die kerk hom bevind – gegewe die getuienis voorhande en beoordeel in die lig van die Skrif.

Die skrywer is diep besorg oor geestelike afvalligheid en die verval van die kerk. Die boek is nie geskryf om die kerk af te breek nie, maar om die kerk aan te spoor om terug te draai na die waarheid. Die volgende onderwerpe word uitvoerig bespreek: Wie en wat is die kerk? Wat is die Bybel? Evangelisasie; dissipelskap; dwaalleer en die eindtydgebeure.

Al word daar plek-plek na gebeurtenisse en spesifieke persone in die NG Kerk verwys, is dit meesal van toepassing op denominasies in die algemeen en kerke wêreldwyd.

Die verkondiging van die evangelie is vir Visser van groot belang.  Dit is sy bede dat die kerk erns sal maak daarmee om die volle evangelie aan verlore mense te verkondig soos wat Jesus en die apostels dit gedoen het sodat ware bekerings kan plaasvind. Wanneer iemand tot bekering gekom het, moet hy opgelei word om ’n dissipel te word wat van ander dissipels maak.

In die hoofstuk oor die kerk noem Visser drie kenmerke van die ware kerk: suiwer woordverkondiging, suiwer bediening van die sakramente en suiwer toepassing van die kerklike tug. Daar moet onderskei word tussen die ware en die valse kerk. Alle ware Christene is deel van die universele kerk – dit is ’n geestelike eenheid; dit is die eenheid waarna in die Bybel verwys word, nie ’n strukturele eenheid nie. Vir die laaste 70 jaar beywer die ekumeniese beweging hom daarvoor om die kerk struktureel te verenig ten koste van die geestelike eenheid. Dit het ook die deur oopgemaak vir wat een wêreldgodsdiens ten doel het.

In die hoofstuk oor die Bybel lees ons van die aanslae op die Bybel. Dwaalleraars het ’n lae dunk van die Bybel. Hulle verkondig wyd en syd dat hulle steeds met die Bybel erns maak, maar vir hulle is die Bybel mensewoorde oor God, en bloot oergeskrifte. Hulle  streef nie na verantwoordbare herinterpretasie van die Skrif nie – hul hooffokus is om die Skrif aan te pas by die kultuur van die dag.

Die toegewyde Christen het ’n hoë agting vir die Skrif, en beskou die Bybel as die Goddelik geïnspireerde Woord van God, God se Woord in mensetaal. 

Die doel van die hoofstuk oor dwaalleer is om die erns van misleiding in die universele kerk te ondersoek, te bepaal wat die redes daarvoor is en watter metodes Satan gebruik om mense te mislei, sodat ons as Christene ons daarteen kan verset. Verder wys die skrywer daarop hoe spesifieke dwaalleraars daarmee begin het om ’n spesifieke waarheid nie meer te glo nie en hoe hulle dan verder ander waarhede in die Bybel verwerp het. Dit word dan soos domino’s wat omval. Dit maak opsig en tug soveel belangriker, sodat daar met liefde en respek met hierdie persone in gesprek getree word en hulle kans kry om terug te draai na die waarheid. Dwaalleraars is in alle denominasies wêreldwyd, maar omdat hy in die NG Kerk grootgeword het, gee die skrywer meesal voorbeelde in die NG Kerk van persone wat op bepaalde gebiede dwaal of selfs  reeds volslae dwaalleraars is. Dit word gedoen nie om hulle aan te val nie, maar om die dwaalleer wat hulle verkondig, aan te spreek.

Opsig en tug wat reeds vir jare nie meer ernstig opgeneem word nie, is een van die belangrike redes vir die noodtoestand in die kerk. Die skrywer skryf van leertugondersoeke waarby hy self betrokke was en sê dat die ommekeer in die kerk plaasgevind het toe Skrifkritiek en sogenaamde Bybelwetenskap deur liberale teoloë as van hoër gesag as die Bybel geag is. Hulle het skynbaar al die antwoorde wat die kerk oor die eeue heen nie gehad het nie. Die kenmerke van ware Christene is dat hulle die Bybel ernstig opneem, die waarheid liefhet, glo, ken en gehoorsaam, en ’n gees van onderskeiding het. Volgens dwaalleraars is die historiese gegewens in die Bybel onbetroubaar en het die wonderwerke nie regtig plaasgevind nie.

Die laaste hoofstuk gaan oor die eindtyd waaroor God in sy Woord dit vir ons duidelik maak dat die groot afval nou in volle swang is. Dit moet ons almal oproep om self gereed te maak en voorbereid te wees. Dit moet ons opnuut inspireer om te baklei vir die waarheid en siele van mense, omdat die tyd daarvoor min is.

Hierdie boek is nie vir vinnig-deurblaai lui lesers nie. Dit vra lees en herlees, en in die meeste dele vra dit ook vir selfondersoek. Dit is propvol nuttige inligting  en werd om byderhand te hou vir naslaanwerk. Dit is ’n moet lees vir elkeen wat besorgd is oor die toestand van die kerk.

Kobus Visser sluit af met hierdie woorde: “My gebed is dat die Here in hierdie boek aan die woord sal kom, dat jou hart aangeraak sal word en die inligting jou sal transformeer, sodat jy sal uitgaan om God se koninkryk uit te brei, en Hy al die eer sal kry; dat ek en jy deur die genade van God eendag sal hoor: ‘Mooi so! Jy is ’n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal Ek jou aanstel. Kom in en deel in My vreugde!’” (Matteus 25:21).

Die boek is verkrygbaar by die skrywer self, by dcvisser@mweb.co.za of by 082 415 0713.

Lees ook:

LitNet loof maandelikse Crito-prys vir lesersindrukke uit

The post Lesersindruk van Koos Visser se boek Die geestelike noodtoestand in die kerk first appeared on LitNet.

The post Lesersindruk van Koos Visser se boek <i>Die geestelike noodtoestand in die kerk</i> appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21983


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>