Universities, language, access, education, and student protest – follow the debate. |
Die pas afgelope 81ste kongres van PEN Internasionaal, in Quebec gehou, het grootliks gefokus op vryheid van spraak en die verskillende maniere waarop hierdie vryheid bedreig word.
Soos wat nou al tradisie geword het, was daar op drie aktiviste gefokus wie op een of ander manier van hulle vryheid van spraak ontneem is deurdat hulle gevange geneem is, of gedood is. PEN Quebec het, in samewerking met die stad Quebec, ’n installasie met drie leë stoele, met inligting oor wie die stoele verteenwoordig, gereël. Die tentoonstelling was op ’n stadsplein net buite die hek van die ommuurde ou stad, waar honderde toeriste elke dag verbyloop. Elke oggend het PEN-lede dan in stilte op die plein gaan staan, waarna die kongres begin het met ’n inligtingsessie oor die leë stoel vir daardie dag. Dis ’n kragtige herinnering aan die mag van simbole. Dis ’n selfs kragtiger verdediging van vryheid van spraak, sonder dat ’n enkele woord gespreek word.
Soms dink ek ons in Suid-Afrika aanvaar vryheid van spraak as vanselfsprekend, iets wat natuurlik daar moet wees. Ons vergeet vinnig dat so kort gelede as twee dekades terug was ons nie toegelaat om vryelik te praat en assosieer nie. Ons besef nie hoe vlietend daai vryheid kan wees nie.
Jennifer Clement, wie gedurende die kongres as PEN Internasionaal se eerste vroulike president verkies is, het in haar toespraak die volgende gesê: “I have always helped others in other countries when they had freedom of expression problems. I never dreamt the day would come when I, too, would need help. But it happened.” Sy verwys na die situasie in Mexiko, waar sy woon. Verlede week terwyl ek op televisie die #FeesMustFall-protes sien ontvou het, was ek telkens herinner aan haar woorde.
By die kongres was daar paneelbesprekings deur vooraanstaande joernaliste en skrywers oor alles van die effek van Charlie Hebdo op vryheid van spraak tot elektroniese sekuriteit indien jou regering jou dophou, en veel meer. Ons het egter ook op meer persoonlike vlak ervaar wat dit beteken wanneer state hulle eie burgers ontneem van die reg om te sê wat hulle dink. Ons in Suid-Afrika beskou ons vryhede dalk as ’n reg, maar vir baie ander is dit ’n voorreg waarvoor hulle ten duurste moes betaal. Ek wil dit illustreer by wyse van drie vinjette.
Ek het in ’n huis gebly saam met vroue van China, Eritrea en Colombia en ’n Koerdiese vrou van Iran. Later sou ek uitvind die toesighouer is ’n vlugteling uit Tsjeggo-Slowakye. Toe ek op die Kanadese dag van danksegging by die huis aankom, was dit pas nadat die bomme by Ankara in Turkye ontplof het. Ons het die Sondag deur Istanbul-lughawe gekom, en selfs ’n dagtoer deur die stad geneem. Die spanning in die stad was tasbaar. Dit was veral op die lughawe sigbaar, waar doeanebeamptes met een hand op ’n pistool hulle werk gedoen het. Tog het die etniese aard van die spanning nie regtig tot my deurgedring nie, totdat ek ’n gesprek met die Koerdiese vrou gehad het. Dit was ’n surreële oomblik toe ek, in die gewoel wat daar altyd is wanneer ’n klomp vroue saambly, besef dat uit die groep van tien wat op daardie oomblik daar was, ek die enigste een is wat in staat is om huis toe te gaan. Die res is almal uitgewekenes, mense wie se eie regerings hulle lewens bedreig.
Die vier afgevaardigdes van PEN Ethiopië moes na afloop van die kongres inderhaas na Toronto gaan om aansoek om asiel te doen, nadat die veiligheidsmagte in Ethiopië klopjagte op hul huise uitgevoer het en aangedui het dat hulle arresteer sou word wanneer hulle die land binnekom.
Een van die ander afgevaardigdes is ’n uitgeweke intellektueel wie van die Viëtkong ontvlug het. Oor tee een middag het hy my vertel hoedat hy en sy vrou ontsnap het, hoedat hulle 11 weke lank op die oop see gedobber het in ’n oorlaaide boot met 64 ander mense, en hoedat hulle vier keer deur seerowers aangeval en van hulle karige besittings beroof was. Geen land wou hulle aanvaar nie, totdat hulle uiteindelik in Switserland, die vierde land waar hulle om hulp aangeklop het, toegelaat was.
Soveel verhale van verlies, soveel verlange na ’n tuiste wat nie meer bestaan nie. Dwarsoor die wêreld is daar soveel parallelle wat getrek kan word tussen verskillende nasies en die manier waarop regerings kragdadig optree om hulle mag te behou en burgers se reg om protes aan te teken, onderdruk. Afrika is geen uitsondering nie. Ons hoor gereeld die spreuk “Africa is not a country.” Dit ís nie, maar ons is wel familie. Enige klein dorpie in ons land het vlugtelinge van dwarsoor Afrika wat ’n nuwe lewe probeer bou, weg van die geweld en onderdrukking van hul tuislande. Ons hoef net na Zimbabwe te kyk om te sien hoe delikaat, bros en breekbaar ’n demokrasie is, en hoe vinnig burgers hulself in die hande van ’n despoot kan bevind. Ons kan nie bekostig om met olifantvoete oor ons Grondwet en ons vryhede te loop nie.
Dit maak die gebeure van die afgelope week, met die #FeesMustFall-beweging, so kommerwekkend. Studente wat vreedsaam protes aanteken, word kragdadig hanteer, gearresteer en aangeval. Waterkanonne wat ingespan word, traangas en selfs rapportering van lewende ammunisie wat by UWK gebruik was, bring ’n beklemming om my hart. Die toegewing van die presidensie om nie enige fooiverhoging in werking te stel in 2016 nie, voel soos ’n Pyrrhiese oorwinning. Niks het regtig verander nie. ’n Aankondiging dat die regering groter finansiële steun aan tersiêre inrigtings sal verleen, sou meer betekenisvol gewees het. President Zuma se weiering om die studente toe te spreek of te woord te staan, en sy keuse om eerder ’n aankondiging oor televisie te maak, het waarskynlik bygedra tot die geweld en vandalisme wat Vrydagaand in Pretoria uitgebars het. Niks kan die geweld goedpraat nie, maar ek reken tog dat ’n groot deel van die blaam voor die regering se deur geplaas kan word.
Die Freedom Charter, die bloudruk vir demokrasie waarop die ANC en ander bevrydingsorganisasies hulle bestaan geskoei het, skop af met die belofte “The doors of learning and culture shall be opened to all.” Studente dring tereg daarop aan dat die regerende party hierdie belofte gestand moet doen, en dat dit nie kan gebeur terwyl gelde vir tersiêre opvoeding onbekostigbaar is en steeds duurder word nie. Die #FeesMustFall-veldtog is waarskynlik die grootste enkele krisis wat die Zuma-regering nog die hoof moes bied, en daar word sterk standpunt ingeneem na alle kante toe. Intussen groei steun vir die studente dwarsoor die wêreld, en die regering lyk toenemend asof hulle nie weet hoe om op te tree nie. Hierdie week word daar na bewering ’n optog na die Uniegebou gereël deur die ANC se Vroueliga, met die hashtag #HandsOffOurANCPresident. Hulle protesteer dat dit niks met die #FeesMustFall-protes te doen het nie, maar die tydsberekening laat vele vrae. Sou dit nie beter gewees het om die studente te ondersteun en aan hulle optog deel te neem nie? Die mees opvallende kenmerk van die studenteprotes was tog die feit dat dit oor partypolitieke grense, kleur- en taalgrense heen steun gewen het. Dit was waarlik ’n protes “by the people, for the people”.
Die vraag wat ’n demokrasie nou eintlik is, kom op. Soveel kenners daar is, soveel menings is daar. Almal stem egter saam dat die volgende eienskappe aan die hart van enige demokrasie lê: vryheid van spraak, wat insluit die reg om protes aan te teken; aktiewe deelname aan die politieke proses deur burgers, wat nie net die reg om te stem en te staan vir verkiesing insluit nie, maar ook die reg om verkose beamptes tot verantwoording te roep vir hulle besluite; en onafhanklikheid van die regbank.
Die regering weet nie hoe om protes van enige aard te hanteer nie, soos duidelik blyk uit die aanval op studente wat vreedsaam by die parlement in Kaapstad vergader het. In reaksie het ons gesien dat studente toenemend meer militant raak en protes in solidariteit regoor die wêreld versprei. Die optrede van die regerende party het dit duidelik gemaak dat hulle nie die basiese beginsels van ’n demokrasie respekteer nie, en dit selfs aktief ondermyn. Vrydag se toespraak het gevoel soos ’n oefening in openbare betrekkinge, eerder as ’n poging om daadwerklik met burgers in gesprek te tree.
Ons gaan op ’n baie ongeërgde manier om met demokrasie, asof dit vanselfsprekend en robuust is.
Dit is nie.
Demokrasie, vryheid van spraak, onafhanklike denke is glasballe wat hier gejuggle word met ’n nonchalantheid wat te kenne wil gee dit is rubberballe.
Dit is nie.
Soms, veral met die krampagtige vashou aan grootliks uitgediende konsepte van taal, kultuur en identiteit, blyk dit duidelik daar is vrese dat uniekheid soos mis voor die son sal verdwyn indien ons ander ’n plekkie in die son sou gun.
Dit sal nie.
Demokrasie, veral op hierdie oomblik in ons geskiedenis, herinner aan die roos wat die kleine prinsie in die fabel deur Antoine de Saint Exupéry so versigtig versorg – ’n delikate, weerlose, brose kweekhuisplant wat onder die illusie verkeer dat dit in staat is om ditself te beskerm.
Dit is nie.
Ons het ’n plig as burgers om aanspraak te maak op ons regte, en om bankvas te staan agter diegene wat protes aanteken wanneer daar inbreuk gemaak word op daardie regte.
Madiba het gesê: “For to be free is not merely to cast off one’s chains, but to live in a way that respects and enhances the freedom of others.” Hy het ook by sy inhuldiging as die eerste demokraties verkose president gesê: “Never, never and never again shall it be that this beautiful land will again experience the oppression of one by another.”
Het ons so vinnig vergeet?
Wat kan vandag se studente uit die protes van die verlede leer? Ons publiseer graag sterk en bondige bydraes, insluitend essays, gedigte en lirieke. Jy kan ook aan hierdie gesprek deelneem – stuur jou mening aan naomimeyer@litnet.co.za. |
The post Juggling die glasballe van ’n demokrasie appeared first on LitNet.