Wat kan vandag se studente uit die protes van die verlede leer? Ons publiseer graag sterk en bondige bydraes, insluitend essays, gedigte en lirieke. Jy kan ook aan hierdie gesprek deelneem – stuur jou mening aan naomimeyer@litnet.co.za. |
Terwyl kampusse dwarsoor die land verlede week deur studenteprotes geskud is en tonele buite die parlement en die Uniegebou herinner het aan die dae toe polisie “die sambok ingelê het”, was ek in die Karoo, by die BookBedonnerd-fees in Richmond. Wanneer ek kon, het ek my slimfoon uitgehaal en half gehipnotiseerd deur die opskrifte op sosiale media geblaai. Daar was te veel om te lees. Dit het my met ’n gevoel van moedeloosheid, weemoed en beklemming gevul, want selfs nadat daar aangekondig is dat universiteitsklasgelde nie onmiddelik verhoog sal word nie, en studente die strate van Pretoria ingejaag is, lyk dit vir my steeds na skaakmat.
Ek het nog niemand wat met studente werk teëgekom wat nié saamstem dat die koste van hoër onderwys arm studente ’n groot onreg aandoen nie. Wanneer daar oor Suid-Afrika se wyer maatskaplike en ekonomiese probleme gepraat word, word daar telkens gesê die oplossing lê by gehalte-onderwys. Dan moet daardie onderwys tog toeganklik wees. Dit help ook nie ons sit net met derduisende verbeterde matrieksertifikate nie – die ontwikkeling van ons jeug hou nie daar op nie. Dit is in ons almal se belang dat talent en vaardighede ontgin word, dat gesinne vir hulself kan sorg, dat gemeenskappe floreer en dat elkeen met menswaardigheid kan leef. Dit is een van die fondamente van ’n gesonde en stabiele samelewing. In daardie opsig is dit nie moeilik om konsensus te bereik oor die noodsaaklikheid van toeganklike, gehalte hoër onderwys nie.
Dit is egter nie so eenvoudig nie.
Mens kort nie ’n graad om te weet die regering se aankondiging dat universiteitsgelde nie nou verhoog gaan word nie, die probleem net uitstel nie. Universiteitsdosente sidder al klaar, want akademiese departemente loop reeds vir jare mank-mank met ’n handjievol personeel wat nie voldoende uitgebrei word om die ontploffing in studentegetalle die hoof te bied nie. Dan praat ons nie eens van die feit dat die skoolstelsel studente nie voldoende vir tersiêre studie voorberei nie. Daar is ’n legio probleme binne die hoëronderwysstelsel. Ons moet egter nie te verstrengel raak in ’n gesprek oor hierdie probleme nie, want dit is nie al waaroor die protes gaan nie – net soos wat #RhodesMustFall nie net oor ’n standbeeld gegaan het nie.
Ons moet ons ook nie blind staar teen die regering nie. Die regering het inderdaad universiteite – en soveel ander instellings – finansieel in die steek gelaat, en dit is ’n bitter pil om te sluk wanneer ons begin somme maak en sien hoe geld wat deur korrupsie en wanbestuur vermors is, anders spandeer kon gewees het. Ek kan my dit nie indink dat ons regering, wat in die greep van diepgewortelde patronaatsnetwerke is, sy bestedingsgedrag gaan aanpas nie – daar lê té veel gevestigde belange daarin opgesluit. Dit is egter steeds nie die kern van studente se protes nie. Hulle retoriek gaan oor die samelewingstruktuur en die waardes en denke van daardie samelewing, en daarop moet ons steeds ag slaan.
Die idees wat geopper word, is in baie opsigte geldig. Wanneer swart of bruin studente vir jou vertel van die alledaagse rassisme wat hulle beleef, is hulle nie besig om dit te versin nie. Ek onthou hoe ’n swart kennis van my destyds deur kampusveiligheidspersoneel aangekeer is toe hy in sy motor wou klim – hulle was vas oortuig hy is besig om die motor te steel. My (wit) buitelandse kollegas het al telkemale vir my vertel van die alledaagse rassisme wat hulle in ons winkels waarneem en die sameswerende knikke wat wit mense vir hulle gee – nie wetende dat hulle nie “binnestanders” is nie. Wanneer ek van sulke insidente hoor, laat ek my kop sak. Ons is al só afgestomp dat ons dit óf nie raaksien nie, óf dit ná die aanvanklike ongemak gou afskud. Dit beduiwel soveel ander pogings tot wedersydse respek. Hierdie daaglikse aanslae op menswaardigheid moet nie onderskat word nie, en dit sien ons in ons geskiedenis. Een van die groot emosionele dryfvere van die Afrikaner-nasionalistiese beweging was persepsies van Engelse meerderwaardigheid.
Oral om my sien ek ander onrusbarende ooreenkomste met ons verlede. ’n Paar maande gelede was ek by Mail & Guardian se literêre fees, wat deel gevorm het van die Suid-Afrikaanse Boekebeurs. Daar het ek aandagtig geluister na jongmense wat by die #RhodesMustFall-beweging betrokke was. Ek is onder andere getref deur ’n aantreklike jong (swart) man wat in perfekte privaatskool-Engels vertel het hoe hy, danksy ’n bevoorregte agtergrond, grootgeword het met die idee van kleurblindheid, en die ontnugtering en woede toe hy besef dit bestaan nie werklik nie. Hy het verder vertel hoe die beweging hom op die kwessie van ras toespits – maar hulle is versigtig vir klasseonderskeid, want as daar tussen bruin en swart, ryk en arm onderskei moet word, sal die beweging deur verbrokkelling lamgelê word. Ek kon die redenasie daaragter begryp, maar dit was ’n begrip wat ek al vantevore teëgekom het – in die geskrifte van ’n ander nasionalistiese beweging, ’n eeu gelede. Ons hét al in ons geskiedenis gekies om op ras te fokus, en om verdeeldheid wat deur klasseonderskeid veroorsaak is uit te skakel deur, onder andere, ’n gedeelde geskiedenis van verontregting. Dit bou op geldige griewe, dit is ’n uiters effektiewe wyse om te mobiliseer en dit lewer resultate. Maar ons leef vandag ook met die nadraai daarvan – en die nadraai is lelik.
Tans word Frantz Fanon en Steve Biko opnuut opgehef om ’n intellektueel-ideologiese stukrag aan die beweging te verleen. Die ideologiese komponent daarvan bring ’n rigiditeit mee wat ander kennisraamwerke as ongeldig afmaak en teen die grein van vrye diskoers gaan. Daar is binnestanders en buitestanders, verontregtes en aandadiges. Daar is wel uitsonderings, soos die wit studente wat aan die proteste deelneem. Dit is krities belangrik, want dit daag heersende stereotipes uit, maar ek weet nie of dit genoeg is om die oorhoofse narratief in ’n ander rigting te stuur nie. Om my sien ek hoe daar links en regs laer getrek word. Hierdie beweging na eksklusiewe identiteite, wat tans dwarsoor die spektrum plaasvind, is bitter verontrustend. Ons was tog al vantevore hier gewees.
Vele sê hierdie is 'n keerpunt in ons land se geskiedenis, en dit is moontlik so. Ons moet egter waak teen die verromantisering van die verlede. Keerpunte is belangrik, maar hulle is ook pynlik. Keerpunte bring ook nie dadelik resultate nie – en ook nie noodwendig ’n nuwe utopie nie. Daar word tans baie na die studenteopstand van 1976 verwys, en alhoewel daar groot verskille is, is daar ook ooreenkomste. Die Soweto-opstand was een van die groot waterskeidings in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Dit word jaarliks herdenk en dit vorm deel van die narratief waarmee die huidige geslag grootgemaak is. Die geslag van 1976 word soms ook die verlore geslag genoem: die jongmense wat bygedra het tot die val van apartheid het en met hul lewens, hul opvoeding en hul toekoms daarvoor betaal. Apartheid het boonop eers agtien jaar later tot 'n val gekom, na nog vele vlae van geweld en brutaliteit.
Die ander voorbeeld waarna daar kort-kort verwys word, is die Arabiese Lente: daar het gefrustreerde jongmense, in die nuwe era van sosiale media, regerings tot 'n val gebring. Niemand verlang na Noord-Afrika se diktators nie, maar hul omverwerping het 'n magsvakuum en baie onstabiliteit teweeg gebring.
Beteken dit dat 1976 of die Arabiese Lente nie moes gebeur het nie, of dat sulke opstande "verkeerd" is, soos sommiges aan die hand doen, of dat dit op ander maniere bedryf moet word? So 'n vraag is eerder 'n uitdrukking van die vraagsteller se ongemak. Die geskiedenis is besaai met opstande: dit is hoe samelewings frustrasie uitdruk en ordes verander word. Dit beteken egter nie noodwendig dat ’n gevestigde orde onmiddelik omvorm gaan word nie. Die moontlikheid is groot dat dit eerder ’n nuwe, en moontlik pynlike, fase in ons geskiedenis inlui, en die uitkoms is onvoorspelbaar.
Universities, language, access, education, and student protest – follow the debate. |
The post #FeesHaveFallen – Wat nou? appeared first on LitNet.