
Heilna du Plooy
Heilna du Plooy se nuutste digbundel is op Saterdag 27 Mei 2023 in Jeffreysbaai bekendgestel. Dit heet Getye van tyd.

Carina en haar man, Gerrit
Carina Stander het die gesprek gelei.

Louise Viljoen, Carina Stander, Antoinette Venter met Heilna du Plooy
Verskeie ander skrywers het die geleentheid bygewoon.

Lucia Prinsloo
Louise Viljoen, Antoinette Venter en Lucia Prinsloo was van die plaaslike skrywers wat hulle steun kom toesê het, maar ’n hele paar ander in die gehoor het ook al akademiese of geskiedkundige werke gepubliseer.
Die gaste het hulself om ’n groot eetkamertafel en op banke en stoele tuisgemaak.

Dries du Plooy
Dries du Plooy, Heilna se man, het die geleentheid geopen.
Carina Stander en Heilna du Plooy het aan die kop van die tafel gesit en gesels.
Dit was ’n pragtige dag in die kusdorp. Die see was ’n diep blou, soveel anders as die donker wolke op die voorblad.
Stander het daarop gewys dat talle van die skilderye teen die muur deur Du Plooy self geskep is. Ook die voorblad van Getye van tyd is detail uit ’n skildery wat Du Plooy self geskilder het.
Wat kom eerste, wou sy weet, die beeld of die woord?
Du Plooy vertel toe dat sy moeite gedoen het om ordentlik te leer skilder onder leiding van Barend Grobbelaar, die eienaar van Studio Visio. In Potchefstroom het hy hulle dikwels uitgedaag om landskappe te skilder, maar die veld aldaar is nie juis inspirerend nie. Soms was daar ’n enkele bloekomboom om op te fokus. Dan het sy partymaal by die huis gekom en geweet dat sy daardie boom deeglik bekyk het en steeds geen idee het hoe om dit te skilder nie, maar sy kon die boom skryf.
Dit wissel egter. Die kyk na en maak van kuns is vir haar belangrik, of dit nou in poësie of met verf is. Dikwels oorvleuel die twee, soos in die gedig “III Skilderdoek”:
Die wind is roekeloos kreatief,
selfversekerd, ferm, sy aanslag uniek:
Met sy gulhartige kwas en palet
manipuleer hy struktuur en ontwerp
Of op die volgende bladsy, in die gedig “I Oranje see”:
Die wind se groot ateljee,
is die ooptes ver oor die see.
Daar stoot hy wolkbanke rond asof hy treine rangeer
Uiteindelik word vorm en woord een, ook in Du Plooy se digkuns. Die gedig “I Reënboog” gaan ek nie probeer oortik nie. Dis gewoon te slim.
Die volgende gedig, “II Golf”, begin met “Ek wil so graag ’n gedig maak oor die see wat meer is as lettertekens”. Die leser kan maar self kyk hoe Du Plooy woord en beeld laat saamwerk om dié versugting te verbeeld.
Die bundel open met die woorde “Daar moet oerwoorde wees / om oor die see te praat”. Die tyd en die getye word saam ingespan om soms ’n tydsgees en soms ’n tydloosheid saam te vat.
Die gedig “Stillewe” verwys byvoorbeeld direk na die tydperk waarin ons almal in huisarres was weens die virus, en al woon die verteller in “’n windvervulde huis reg langs die see” (in “Verblyf”), is daar in “Stillewe” “bedags net eggo’s van die meeue”. In “Kuur” “pak sy stillewes uit / vase en blomme en boeke”.
Du Plooy vertel vir Stander dat tyd vir haar juis meer as bloot ’n lineêre gegewe is. Die letterkunde toon ook in hoe ’n mate tyd ’n struktuurelement in die skeppingsproses is.
Sy wou egter juis nie bloot verhalend of verslaggewend met die virus omgaan nie. Sy wou juis kuns skep oor daardie gety.
Dit is ook waarom sy nie direk betrokke raak by politiek in haar werk nie, sê Du Plooy. Sy voel dat politiek en ideologie skrywers kan lamlê.
Selfs die godsdiens word onderspeel, merk Stander op. Tog is dit duidelik daar. Wind, die immerteenwoordige wind, sou dikwels met “gees” vervang kon word.
“Jy lees goed,” was Du Plooy se kommentaar.
“Intellektueel, maar toeganklik,” is hoe Stander die bundel opsom. En toe sy haar verbasing uitspreek oor die erotiese gedigte in die bundel, het Du Plooy stout geglimlag en gesê: “Ek het vier kinders.”
Die bundel eindig met vertalings van ander digters se werk, maar met die laaste gedig voor die vertalings (“Besluit” – let op die meerduidige betekenis), sluit Du Plooy aan by die openingsgedig:
daar moet altyd nuwe woorde kan wees
om oor ’n lewe te kan praat
soos die bergspruit altyd nuwe druppels afstuur
oor die landskap en deur die land
tot by die droomwaters van die see.
Getye van tyd word deur Imprimatur uitgegee.
Lees ook:
The post <i>Getye van tyd</i> op Jeffreysbaai bekendgestel appeared first on LitNet.