
Marlene le Roux (Foto verskaf)
Die oorhandiging van die Andrew Murray-prysfonds se pryse en toekennings vir 2023 het op 26 Mei in die Desmond Tutu-sentrum, Kaapstad, plaasgevind.
Marlene le Roux is die ontvanger van die Jaap Durand-Denise Ackermann-toekenning vir Eenheid, versoening en geregtigheid.
Hier volg haar aanvaardingstoespraak. ’n Verkorte weergawe is by die toekenningsgeleentheid voorgelees.
Sien ook:
Persverklaring: Die wenners van die Andrew Murray-prysfonds se pryse en toekennings vir 2023
...
Kyk ek na my geboortedorp, Wellington, sit daar Sondae twee afsonderlike gemeentes regoor mekaar met die standbeeld van Andrew Murray tussenin.
...
Dit is vir my ’n besondere eer en voorreg om die ontvanger te wees van die besondere toekenning. Graag rig ek ’n woord van bedanking aan die paneel wat my gekies het vir die toekenning. Verder ’n woord van gelukwensing aan al die onderskeie individue wat ook toekennings ontvang. Laastens ’n spesiale woord van dank aan die Andrew Murray-prysfonds onder leiding van Frits Gaum.
Dit is vir my ’n voorreg dat ek eerstens oorweeg is, en vanaand die ontvanger is, waar ek staan hier voor ’n uitgelese gehoor van akademici, hoogleraars en predikers. ʼn Besondere woord van dank aan Artscape, die voorsitter, raad en al my kollegas wat dit moontlik maak dat ek elke dag met passie voluit kan leef.
Andrew Murray was van 1871–1917 predikant van die NG Moedergemeente, Wellington. Hy het hom onderskei as ’n produktiewe skrywer van ongeveer 250 Christelike boeke, waarvan talle in verskillende tale vertaal en vandag nog wêreldwyd gelees word.
Jaap Durand het as predikant in die NGK gelegitimeer, was ’n anti-apartheid- teoloog en dogmatiekprofessor aan die Universiteit van Wes-Kaapland, wat ook dekaan van die Fakulteit Teologie en adjunk-visekanselier was, asook waarnemende visekanselier tot met sy uittrede in 1995.
Arch Tutu het dit as ’n besondere gebaar van versoening beskou dat dié 19de eeuse NG dominee en die 20ste eeuse Anglikaanse aartsbiskop se name later verbind is onder die vaandel van die Prysfonds.
Denise Ackermann is die pioniersvrou van Suid-Afrikaanse en, saam met Mercy Oduyoye, ’n Afrika-feministiese teologie.
Beide Durand en Ackermann was baanbrekers en het teen die grein van die samelewing ingegaan en te danke aan hulle toegewydheid vir ons die rigting aangewys deur hul onderskeie nalatenskappe.
Die Bybel in konteks is soveel meer as vertalings en onderskeie interpretasies; dit is gelykheid vir die ganse mensdom. God is vir almal. So was aartsbiskop Desmond Tutu; hy was vir die stemloses, weerloses, uitgeworpenes en sondaars. Al drie individue was persone wat, ongeag die uitdagings, bly vasklou het aan waarin hulle onteenseglik geglo het. Waar is ons nou met menslikheid, omgee en die waardes van die belydenis van Belhar, naamlik eenheid, versoening en geregtigheid wat Oom Jaap, Denise Ackermann en Desmond Tutu beliggaam het?
Tog waar ons vandag staan, is daar nog steeds vraagstukke waarmee die kerk gekonfronteer word. Onder meer die volle onvoorwaardelike aanvaarding van vroue in die kerk. Ongehude moeders moet nog steeds voor die kerkraad vir tug verskyn, maar nie die pa nie, net die ma. My geliefde moeder Tietie (Christine le Roux) is as geskeide vrou gebrandmerk deur die tug van die kerkraad. Sy het eerstehands die kerk as ’n manlike instelling ervaar, en dit boonop met ʼn gestremde kind. Die kerk wou my nie doop nie, want Tietie wou nie tug loop nie. Sy was oortuig en reg van die onbillike handeling teenoor vroue. Sy het onvoorwaardelik in my geglo. ’n Balans moet tog gevind word, nie waar nie?
Daar moet indringend gekyk word na kulturele praktyke rakende persone met gestremdhede. Gedurende 2022 was ek deel van ’n werksgroep wat op informele vlak deur belanghebbende persone met gestremdhede, onder leiding van aartsbiskop Makgoba, gelei het tot die saamstel van ’n aanbevelingsverslag rakende die kerk en die hantering van gestremdhede. Teoloë is ook betrek om te fokus op gestremdheid binne die teologie. In die verslag is daar onder meer ’n lys van aanbevelings saamgestel wat die volgende insluit:
- Die kerk se uitkyk op gestremdheid,
- riglyne vir die ontwikkel van ’n inklusiewe kerk,
- praktiese aspekte rakende toeganklikheid, en
- ’n Sondag van bewussyn onder gemeentes rakende gestremdes.
Verder die verwelkoming en manier hoe die kerk die LGBQT+ gemeenskap akkommodeer? Hoe kan ’n mens waarlik vry wees indien daar gedikteer word hoe en wie jy mag liefhê? Waar staan ons vandag? Hoe kan die kerk genesing voorskryf met voorwaardes? Die groepe word nog steeds gemarginaliseer en is nie vrylik welkom nie.
Ek het grootgeword in Wellington, die hartland van Andrew Murray met sy sendingywer. Ek was kerkgebonde in die kinder- en jongdogtersbond, asook die kinderkoor wat my blootgestel het aan wat dit is om te behoort. Daar het ek geleer van waardes van naasteliefde, omgee en barmhartigheid. My grootwordwêreld was oorwegend vasgevang in armoede, maar tog het die wat min gehad het, gedeel met die wat niks gehad het nie.
Die kontras sou my op negejarige ouderdom tref toe ek genooi is om te gaan sing by die NG Moedergemeente oorkant die pad, die laaste gemeente van Andrew Murray waar hy 35 jaar lank die predikant was. Ek mag nie die kerk binnegegaan het nie. Ek moes in die konsistorie gaan wag tot dit my beurt was om te sing.
In my wildste drome sou ek nooit kon dink dat ek die ontvanger sou wees van die Andrew Murray-prys nie. Hier staan ek nou die ontvanger, maar as jong student wou ons as aktiviste ons sterk teenkanting teen apartheid in aksie wys. Dit was vir ons belangrik dat die kerk moet kennis neem van die verdeeldheid, die onreg van die politieke sisteem. So het ons tot aksie oorgegaan en die Andrew Murray-standbeeld uit protes pers geverf; die kerk moes kennis neem van die euwel van apartheid.
...
So het ons tot aksie oorgegaan en die Andrew Murray-standbeeld uit protes pers geverf; die kerk moes kennis neem van die euwel van apartheid.
...
Vandag kleef beide gemeentes, skaars 300 meter van mekaar, nog vas aan hul identiteite van bruin en wit kulture. Sondae word daar nog steeds meestal apart kerkgehou. Hoe beweeg ons vorentoe op die pad van versoening tussen diverse gemeenskappe, ook wat klas, inkomste, plek, taal, disability, gender en seksuele oriëntasie betref?
Kyk ek na my geboortedorp, Wellington, sit daar Sondae twee afsonderlike gemeentes regoor mekaar met die standbeeld van Andrew Murray tussenin. Die straat verdeel die Verenigde Gereformeerde Kerk (VGK), meestal bruin kerkgangers, en die Nederduits-Gereformeerde Kerk (NG), meestal wit kerkgangers, met die beeld van Andrew Murray; twee wêrelde, een geloof. Ons moet saam brood breek.
Soveel individue het deur my lewe my pad gekruis wat ’n voorbeeld was, en natuurlik die grootste van almal was my geliefde moeder Tietie. My ouma Christine Abrahams was ʼn waarlike voorbeeld van menslikheid. Sy was ʼn kerkvrou en ʼn natuurlike leier wat haar gesin van 10 kinders, en vir my die 11de een, grootgemaak het. Sy het as bediende vir wit mense gewerk. Ondanks die lang ure het sy haar gesin elke oggend en aand eerste gestel. Sy het haar geloof en naasteliefde prakties uitgeleef en altyd gesorg vir kos op die tafel, ook vir die armes.
Gedurende die somervakansies het ons almal, ouma, ma en niggies, op die lorrie geklim en by die 40 grade Celsius-stellasies droë vrugte gepak vir 10 sent ’n stellasie. Baas Koen se seun het vir my jammer gevoel en my elke oggend van die lorrie afgehaal en sy broodjie vir my gegee tot die dag dat sy pa hom ’n loesing gegee het en ek nie meer mag saamkom nie.
Nog steeds klou ons aan verlede tyd-identiteite waarmee ons gemaklik voel. Dit is nodig dat ons werk na die waardes waarvoor Christus staan.
Die Belhar-belydenis as konsepbelydenis is in 1986 aanvaar, ’n geloofsdokument. Die Belhar-belydenis handel oor eenheid, versoening en geregtigheid. Die belydenis was ’n direkte gevolg van die familie van NG Kerk in Suid-Afrika, naamlik die Nederduits-Gereformeerde Sendingkerk (NGSK), Nederduits-Gereformeerde Kerk in Afrika (NGKA) en die Evangelies Gereformeerde Kerk in Namibië. Die gevolg, die Verenigde Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika (VGKSA). Opgestel deur ’n kommissie van die sinode van die (destydse) NG Sendingkerk. Lede van die kommissie was onder andere Allan Boesak, Dirkie Smit, Jaap Durand en Gustav Bam.
Die Belhar-belydenis het die euwels van apartheid uitgelig.
Vandag moet ons onsself die vraag vra, werk ons tot die beëindiging van armoede en sosiale euwels gevul met geweld teen vroue en kinders, bendegeweld en werkloosheid? Werk ons as kerkgemeenskap om die uitdagings aan te pak of raak ons ego’s, selfs die van ons predikers, groter? Word die kerk se stem gehoor?
Ná skool is ek na die UWK en daar het ek my stem gevind met die hulp van aartsbiskop Desmond Tutu, alombekend as die “Arch”, wat ons vergesel het op kampe en diep gesprekke met ons gehad het by ANSOC, die Anglikaanse studentevereniging. Die huidige aartsbiskop Thabo Makgoba was toe studentevoorsitter van ANSOC. Ek sal nooit vergeet van die Witdoeke nie, hoe ons saam na die township toe is agterop ’n lorrie met Arch en studentekapelaan Courtney Samson om te gaan help. Alle hel breek los toe ons afklim en die security police ons inwag met Casspirs en traangas oral. Jong kinders in die kerk het my probeer help en ’n jong man het my gegryp en die donkerte ingehardloop deur shacks en my uiteindelik in ’n hokkie laat wag. Hy het sy eie lewe in gevaar gestel.
Op ’n vroeë tyd in my lewe was ek bevoorreg om leiers te hê wat praat in aksie laat oorgaan het. Leiers soos die Arch, Allan Boesak en Jaap Durand. Gedurende my eerste jaar as jong student by die UWK was ek bevoorreg om vir Helen Joseph te ontmoet. ’n Vrou met ’n sagte stem, maar met soveel krag wat ons jong aktiviste toegespreek het. Ma Winnie Mandela se volgehoue veggees teen apartheid het my gemotiveer as aktivis. Jare later met haar 80ste verjaardagvieringe by Artscape wou sy net weet waar is haar medekollegas, die maatskaplike werksters, en het ontuis gevoel tussen die uitgelese gaste.
Laastens verdien Wangari Muta Maathai vermelding. Maathai, vroulike omgewingsaktivis van Kenia, was die eerste Nobelpryswenner as vrou van Afrika (2004). Die prys is toegeken op grond van haar “holistic approach to sustainable development that embraces democracy, human rights, and women’s rights in particular”. Haar organisasie The Green Belt Movement, reeds gestig in 1977, het meer as 30 miljoen bome geplant. ʼn Vrou in aksie wat bekendgestaan het as die “boomvrou”. Sy het besef dat Afrika en die groter wêreld se oorlewing direk verbind is aan die beskerming van ons natuurlike omgewing, en daadwerklik deur onder meer die plant van bome. Die onwettige delf van bloeddiamante bevoordeel nie die plaaslike inwoners nie, maar versterk die finansiële sakke van mynmaatskappye en wapenhandelaars ten koste van die lewens van Afrikane en hul omgewing. Soveel ontberinge, maar so onwrikbaar in haar strewe na ʼn beter volhoubare lewe. Soveel het my geïnspireer om my stem te gebruik teen ongeregtigheid, om my disability te omhels, wat my aanvaar het met my mank been en al.
Graag deel ek die volgende insidente: Dit was nog ’n dag van chaos en protes by die hekke van die UWK, en natuurlik moes ek ook gaan.
Toe vra die Arch my: “Ousie, is jy seker jy wil march?”
Heel vol bravade sê ek toe: “Arch, jy dra ’n cloak en ek ’n calliper; miskien is ons saam stadig!”
Dieselfde aand breek die veiligheidspolisie in by al die hostels. Ons hoor net gille van alle kante: Tokkelokke wat geslaan word; ons vriende word detain. Toe is dit Cassinga 1 se beurt. Ek was al in die bed en my beenstut was al uitgetrek (waarsonder ek nie kon loop nie). ’n Jong wit soldaat bars in my kamer in. My gang is al aan’t hardloop en skree, maar ek kon nie sonder my calliper nie. Hy lig sy knuppel op om my te slaan, en ek sê: “Kyk, vanaand kan jy my maar doodslaan! Ek kan nie weghardloop nie...” Hy sien my calliper en vir ’n oomblik is daar lig in sy dowwe oë; vir ’n paar sekondes was ons net twee vreesbevange 18-jarige jong mense. Hy draai om, gaan uit en ek hoor net hoe hy en sy maats die houe slaan en skree. Tot vandag nog wonder ek waar is die jong man wat ter wille van ’n kriminele apartheidideologie sulke verskriklike dinge gedoen het, soos soveel ander.
...
Hy sien my calliper en vir ’n oomblik is daar lig in sy dowwe oë; vir ’n paar sekondes was ons net twee vreesbevange 18-jarige jong mense.
...
Why do I relate these events, more than thirty years ago? Because we must tell and hear each other’s painful stories; so that we can learn from each other and start believing in each other; so that we can rediscover our humanity, heal together and hope together. And that includes the stories of people living with disabilities and that of LGBTQ+ communities.
Dit is vir my ’n kring wat die ervaring as student by die UWK in die onstuimige politiek gedurende die middel 1980’s voltooi. My hart klop warm en ek is innig dankbaar vir die rol wat die UWK nie net in my lewe nie, maar ook die pad vir Suid-Afrika help bou het tot ons demokrasie. Dit moet gesê word, die UWK het my hele wêreld verander.
Kerkgangers van elke uithoek en oord het gemobiliseer tot ’n eenheid in protes teen die apartheidregime. Teoloë het rallies bygewoon, hulle was godsdiens in aksie!
Daar is soveel individue wat in die strugglejare my pad gekruis het. Kapelaan Courtney Samson was ook ’n dosent by die UWK. Gedurende 1999 is hy aangestel as die voorsitter van die Wes-Kaapse provinsie van die Onafhanklike Verkiesingskommissie. Hy was vir 22 jaar in die pos tot en met sy aftrede in 2021. Wat opvallend was, as voorsitter van die OVK was sy verbintenis met persone op grondvlak. Daar was ’n gebrek aan behoorlike infrastruktuur in informele nedersettings wat dit uiters moeilik gemaak het vir mense om te gaan stem. Hy het daadwerklike pogings aangewend om tydelike strukture met elke verkiesing daar stel.
My pad met die kerk was deel van my menswees. Te danke aan mense wat bereid was om die moeilike pad te loop, stroom-op teen die regering en medekerkgenote op te staan vir gelykheid en regverdigheid.
God is ons Skepper. God is ’n God van liefde en ons is geskep na Sy beeld. Ons geloof is gesetel in die drie-enige God, die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Hoe klein en nietig ons as individue ook is, lê die waarheid in elke mens opgesluit. Ons is geskep na Sy beeld en ons kan ’n verskil maak, elke dag, deur die uitleef van naasteliefde en barmhartigheid, soos telkemale aan ons bewys.
Elke mens is uniek, maar ook na die beeld van God geskape. Ons mag verskil, deur ons eie individualisme, taal en kultuur, maar ons het een doel voor oë: Gelykheid, vrede en voorspoed. Vandag kan ons terugkyk na leierfigure soos Jaap Durand, aartsbiskop Desmond Tutu en Denise Ackermann wat opgestaan het en leiding geneem het teen die apartheidregering. My vraag, waar is ons leiers wat ons vandag moet lei?
Die dogmatiek, of in leketaal die leerstellings van die kerk, is rigtinggewers deur die intellektuele, die akademici, die navorsers wat die Woord vir ons as leke vertaal en interpreteer.
Die strugglejare as jong student aan die UWK is waar ek die destydse Arch ontmoet het, ’n verbintenis wat my lewe verryk het. Wat ’n voorreg om ’n lang pad saam te kon stap. Inspirerend en opbouend, ondanks al die aanslae van buite, doodsdreigemente, die lewenslange strewe na ’n Suid-Afrika se mense in ’n land vry van rassisme en diskriminasie, ’n land gevul met vrede.

"Beide van ons is met fisiese gebreke gelaat." (Foto: Gerswin Cupido)
Op ’n persoonlike vlak het beide van ons polio as babas opgedoen. Beide van ons is met fisiese gebreke gelaat. Ek het polio as baba opgedoen weens ’n tekort aan entstof by die swart kliniek en weiering by die wit kliniek wat my mank gelaat het en ek moet met ’n beenstut loop. Die aartsbiskop se regterhand is sodanig aangetas dat hy met sy linkerhand weer moes leer skryf. Die Belhar-belydenis was ’n keerpunt waar die skeuring in die NG Kerk-geledere gekom het vir en teen die aanvaarding van apartheid.
Kyk ons terug na die lewe van die geestelike leiers, Jaap Durand, Desmond Tutu en Denise Ackermann, is dit met diep dankbaarheid. In hul onderskeie bydraes het hulle ’n nalatenskap vir ons gelaat wat ons van nuuts af motiveer vir ’n gelyke samelewing waar ons in geloof, in ons werk en by die kerk, méns kan wees, een kan wees in ons verbintenis tot ons Skepper. Bogemelde was by uitstek individue gevul met nederigheid en menslikheid.
Die rolmodelle het my geleer om binne my lewensraamwerk ’n beskeie poging aan te wend om veral die jeug te bemagtig. Verder om my stem te voeg tot die gestremdes wat soveel ontbreek. Om waarlik te luister. Binne Artscape leef en werk ons as een groot familie, elkeen in sy eie geloof, taal en identiteit, gevul met respek en naasteliefde. Saam is ons in staat om van diens te wees vir die publiek en kunstenaars, om ’n ruimte van omgee en ’n gevoel van vrede na te streef in harmonie.
...
Die rolmodelle het my geleer om binne my lewensraamwerk ’n beskeie poging aan te wend om veral die jeug te bemagtig. Verder om my stem te voeg tot die gestremdes wat soveel ontbreek.
...
Dis juis deur die begrip vir verskeidenheid dat ons kan werk en leef met uitnemendheid. Elke jaar in Augustus vier Artscape Vrouemaand waar ons handevat met ander om te bemagtig, te bevorder, uit te reik en die siel te voed.
Kyk ons terug na die pad wat ons geloop het na die totstandkoming van Suid-Afrika as demokrasie, kan ek nie anders as om terug te keer na die Waarheids-en Versoeningskommissie onder leiding van aartsbiskop Desmond Tutu nie. Die eerste sedert die Tweede Wêreldoorlog, met die verskil dat dit in die openbaar voor kameras vir die ganse wêreld gebeeldsend is om te sien hoe lyk die onregte gedurende die apartheidjare. ’n Uiters volledige, stap-vir-stap, deurdagte verslag waarin die gruwels van apartheid gedokumenteer en die verlede van onreg, die hartseer, maar ook individue se vergifnis gedokumenteer is. Daar is ’n lys van aanbevelings gemaak as deel van die verslag om die pad van gelykheid en ’n vrye demokrasie vir elke Suid-Afrikaner moontlik te maak.
Tog het die politici nie enige aanbevelings opgeneem en geïmplementeer nie. Die rigtingwyser is daar vir ons, net soos die Belhar-belydenis, en tog kies die regering om dit nie prakties te implementeer nie. Ons leiers het die aanbevelings versaak. Die struggle is vandag nog steeds met ons, armoede, werkloosheid, rassisme, xenofobie, geweld teen vroue en kinders, ’n samelewing van onverdraagsaamheid.
Pumla Gobodo-Madikizela writes that forgiveness is the wrong word for describing what unfolds when a victim encounters a perpetrator, like the young white soldier from my youth. When we witness and acknowledge each other’s pain, we bear a responsibility that conveys compassion and care. She calls this process “empathetic repair”, pointing not just towards your own healing, but also to our responsibility to participate in the building of a society in which people could come together and be fellow human beings – to touch the other, to feel the other – sharing in the vision of a more humane society.
Dit is nog steeds “my” versus “jou”, dit is nie “ons” nie. Is dit nog steeds geografiese skeidslyne van ’n pad, ’n brug, ’n treinspoor, ’n straat, soos in Wellington? Een geloof, maar verdeelde gemeentes? Ons aanbid dieselfde God en luister Sondag na Sondag na die 10 gebooie. Implementeer ons dit dag tot dag of net selektief volgens keuse?
...
Is dit nog steeds geografiese skeidslyne van ’n pad, ’n brug, ’n treinspoor, ’n straat, soos in Wellington? Een geloof, maar verdeelde gemeentes?
...
Toenemend bly die uitdagings, maar die kerk se stem het stiller geraak. Kerkgeboue staan dorpies vol maar nog steeds is daar nie onderlinge geloofseenheid nie. Jeuginteraksies is die grondslag vir ’n gelyke geestelike verryking. Uitreikprojekte onder katkisante van Stellenbosch en Mitchells Plain kan ’n beter begrip en deernis skep van verskillende agtergronde. Kore kan saam optree en Bybelstudiegroepe kan interkerklik uitreik. Die nood, die behoefte is so groot, maar uit gemak uit, gerief, miskien deur vrees of gebrek aan waagmoed, sit ons Sondag vir Sondag oorkant mekaar wanneer die onderskeie kerkklokke lui.
My gestremdheid het my help vorm tot die mens wat ek is. Juis deur my andersheid kon ek leer om beter en dieper te kyk, waarlik te luister en van ander te leer. So, ek is dankbaar dat ek in my menswees geestelik kon groei ondanks my fisiese gestremdheid. Deur ’n bewustheid te skep van mense met gestremdhede maak ons ’n verskil. Ek is besonder bevoorreg ek beskik oor ’n goeie werk met ’n goeie inkomste wat my toegang gee tot mediese sorg en ander hulpbronne. Daarom is dit my verantwoordelikheid as bevoorregte om deure vir ander te open.
Die strewe na eenheid vir alle kerke en erkenning van alle gelowe in Suid-Afrika is van kardinale belang. Mag alle gelowiges, ongeag die straat waarin hul woon, oor die vryheid en vrymoedigheid beskik om uit te reik. Mag die liefde en die genade van onse/hul God ons bewaar en toevou.
So, vanaand kyk ons terug na Jaap Durand en Denise Ackermann en soveel ander leiers wat vir ons die pad gebaan het met waardigheid, respek, gelykheid en regverdigheid. Ek is ’n optimis. Ek glo dat ’n mens ’n verskil moet maak waar jy nou is. Transformation gaan oor meer as the colour of your skin.
Egos must go; we need each other desperately!
Ek wil graag hierdie toekenning opdra aan Adam George, my engel wat my die lig laat sien het van onvoorwaardelike liefde. Verder ook aan Aimee George, my dogter, die volgende generasie van Afrikane wat die fakkel van hoop en lig die toekoms in dra.
Ek neem graag die toekenning in ontvangs ter nagedagtenis aan die Arch en sluit af met sy woorde (uit Tutu the Authorised Portrait):
“What faith you belong to is very largely an accident of birth and geography ... it is not the faith that comes first, it is the fact of being human together, the truth being that we are all loved equally by God.”
I thank you. Baie dankie. Enkosi.
The post Aanvaardingstoespraak: Die Jaap Durand-Denise Ackermann-toekenning vir Eenheid, versoening en geregtigheid appeared first on LitNet.