Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21991

Die menslike dieretuin: ’n onderhoud met François Durand

$
0
0

https://naledi.co.za/product/die-menslike-dieretuin/

Die menslike dieretuin
François Durand
Naledi
SKU: 9781776172436

Koop die boek by Graffiti

François Durand se Die menslike dieretuin is onlangs vir die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se LW Hiemstraprys vir niefiksie benoem. François praat met Naomi Meyer oor sy boek.

François, ek het die bal misgeslaan deur te dink jou boek is hoegenaamd iets soos Animal Farm. Die organismes waaroor daar in hierdie boek geskryf word, teer dalk soms op mense, maar sonder politieke agendas. Oor wie skryf ek hier? Wie is jy en waaroor handel jou boek?

Met die kennisontploffing word kennis in vakkies en pakkies opgedeel sodat mens dit bietjie vir bietjie kan hanteer en absorbeer. Dit is hoekom daar vakke soos plantkunde, dierkunde, geologie, geografie, paleontologie, antropologie ens is; maar eintlik is alles verweef en dele van een groter ding: die natuur. En watter vak is nou belangriker as die ander? Dierkunde? Want dit is sekerlik waar ons almal se liefde vir die natuur begin – met daardie hond wat jy as kind gehad het, of die hamster, of die hanslammetjie. Maar dan is plantkunde mos net so belangrik – want waar leef hierdie diere en wat eet hulle? Maar dan is geologie mos ook net so belangrik – want dit bepaal waar hierdie plante en diere kan voorkom. Maar dan is geografie mos óók net so belangrik – want dit is die studie van alles op aarde en waar dit voorkom. Plante, diere, geologie, water, atmosfeer en selfs die mense en die interaksie tussen al hierdie organismes en hulle omgewing is die studie van ekologie. Maar dan is antropologie en argeologie en paleontologie mos net so belangrik – want dit laat ons toe om die herkoms van alles te bestudeer.

Kortliks: Alles is belangrik en dus verkies ek om myself ’n paleontoloog en ekoloog te noem, want hierdie twee woorde omarm die meeste van die natuur wat ons oor die laaste paar eeue in verteerbare stukkies opgesplinter het. Dit is ook hoekom ek, nadat ek plantkunde, dierkunde en geologie gestudeer het, ’n paleontoloog geword het, en dit is hoekom ek, na ek by RAU, nou UJ, gaan werk het, ek meer en meer in ekologie begin belangstel het, want dit kombineer weer eens al hierdie vakgebiede, maar in die hede.

Maar eintlik is ek ’n storieverteller – alles wat jy weet, is in woorde na jou oorgedra en is in woorde in jou kop gebêre. Selfs herinneringe aan kleure en reuke en smake kan jy net in jou brein stoor as dit in die vorm van ’n woord is. Dit is ook hoe ek kennis na mense oordra – of dit nou in ’n lesing, ’n publieke praatjie, op die radio of in my skrywes is. Mense sukkel om lyste en lyste feite en diagramme te onthou; mense onthou baie makliker ’n storie en veral as daar prente daarmee saamgaan. Gelukkig is ek ook ’n kunstenaar – maar nie een van daardies waar mense nie verstaan wat die persoon geskilder het nie. My tekeninge is op die man af, duidelik en met soveel detail as wat ek kan regkry, wat ook geen spasie vir interpretasie of misverstand laat nie. Terloops, ek gebruik ’n oudtydse inkpen en Indiese ink om mee te teken.

Foto: verskaf

Noudat ek hierdie vrae vir jou tik, is ek bewus daarvan dat my vel aan so baie dinge blootgestel is. Hoe op aarde het jy in hierdie onderwerp begin belangstel? Kan jy onthou wat die eerste dag en eerste herinnering aan alles op jou vel was wat jou laat voel het jy wil navorsing daaroor doen?

Eerstens: Die natuur is vir my allerbelangrik – alle ander dinge, soos kultuur, filosofie, kuns, volg daarna en bestaan slegs danksy die natuur. Die natuur is nie iets apart van ons nie en die rede hoekom ons vandag in die verknorsing van ekolgoiese vernietiging, besoedeling en klimaatsverandering is, is dat ons vanaf die Middeleeue gedink het dat die natuur iets apart van die mens is en dat die mens daaroor durf te heers. Die natuur is en daarsonder is ons nie.

Die hoofdoel van Die menslike dieretuin is om vir mense te wys hoe ons absoluut deel van die natuur is – ons is mos die habitat van triljoene organismes van honderde spesies en ons onderhou nog meer, want daar is benewens die organismes wat in en op ons leef, daardies wat net so nou en dan ook ons kom vreet. Daar is selfs spesiale spesies wat slegs op die mens voorkom en wat sonder die mens sal uitsterf. Dit sluit kop-, lyf- en pubiese luise in, en die sowat miljoen follikelmyte wat op elke mens voorkom. Ander, soos die dermspoelwurm, varklintwurm en mensvlooi, deel ons met varke – of deel hulle hul parasiete met ons? Dus, alhoewel die meeste mense dit nie besef nie, is ons uit die staanspoor deel van die natuur.

’n Paar jaar gelede, toe ek navorsing vir my artikel “Nature, creation and morality: the case of parasites” gedoen het, het ek op ’n baie belangrike feit afgekom: 80 persent van alle spesies op aarde is parasiete! Biodiversiteit is basies parasitologie! Daardie feit alleen behoort elke mens in sy spore te stuit en baie belangrike vrae te laat vra – soos: Hoekom is daar so baie parasiete? Dit lyk of die meeste organismes wat nie fotosinteer nie, op mekaar voed terwyl hulle nog leef! Predatore is die uitsondering; parasiete is die reël! Daar is selfs parasiete wat op parasiete teer wat op parasiete teer! Die natuur bestaan nie, soos wat jy geleer het, uit gras, bokke en leeus nie; nee – dit is veel ingewikkelder en meer verweef as wat jy ooit gedink het! Energie vloei dus van die son deur lewende wesens terwyl die meeste nog leef.

............
Die meeste mense, selfs dié wat omgee vir die natuur, besef nie dat jy nooit die renoster gaan red deur om hom in ’n dieretuin te sit nie. Die renoster bestaan as evolusionêre produk van die Bosveld-ekologie en slegs omdat hy ’n lewensbelangrike rol in die ekologie speel. Laat ons een ordevlak dieper delf: Die renoster is, soos die mens, die tuiste van triljoene organismes!
.............

Die meeste mense, selfs dié wat omgee vir die natuur, besef nie dat jy nooit die renoster gaan red deur om hom in ’n dieretuin te sit nie. Die renoster bestaan as evolusionêre produk van die Bosveld-ekologie en slegs omdat hy ’n lewensbelangrike rol in die ekologie speel. Laat ons een ordevlak dieper delf: Die renoster is, soos die mens, die tuiste van triljoene organismes! Daarbenewens is daar insekte soos miskruiers en die plante wat die renoster eet wat ook van die renoster se bestaan afhanklik is. As die renoster sterf, sterf ’n honderd en een spesies. Die punt is om die Bosveld met sy duisende spesies te bewaar – waarbinne die renoster leef en sy rol vervul soos elke ander spesie in die Bosveld.

In die boek skryf jy in toegankike taal oor ’n wye verskeidenheid organismes: swamme, myte, weeluise, vlieë. Dit klink alles maar grillerig. En tog wys jy daarop dat selfs iets soos’n vlieg belangrik is. Wil jy dalk noem wat een van die interessantste feite vir jou omtrent enige van bogenoemde is wat jy gedurende jou navorsingstyd kon vasstel?

Daar is so baie! Maar van die interessantste feite wat ek met die navorsing vir Die menslike dieretuin ontdek het, was dat Charles Rothschild, wat as die bose poppemeester van die Illuminati gesien word, een van die grootste parasitoloë op aarde was. Dat katte wel die bose poppemeesters is wat hul omgewing deur biologiese manipulasie verander in ’n habitat waarby hulle optimaal baat terwyl mens en muis hulle gedienstige slawe is. Dat jou dermmikrobioom (wat mense as dermflora ken) grootliks vir jou gesondheid verantwoordelik is en die meeste van die serotonien en die helfte van die dopamien – twee van die belangrikste senuweeoordragstowwe in jou senuweestelsel – vervaardig. Wanneer jou dermmikrobioom beskadig word (soos met antibiotika, die eet van preserveermiddels of drink van alkohol), kan dit tot allerlei lewensgevaarlike siektes, van veelvoudige sklerose tot artritis, vetsug, depressie en nog baie meer, lei.

Ek het geglimlag vir jou verwysing na “die kleinste wurmpie voed hy”. Meer dikwels as wat mens daaraan wil dink, is jy as mens self die kos. Wil jy verduidelik?

Dit is juis die dissonansie in mense se verwysingsraamwerk tussen wat werklik is – en reg voor hul neuse gebeur – en die dogma waarin hulle glo, wat daardie aanhaling uit die Bybel geïnspireer het. Die feit dat die meeste mense glo dat God alles geskape het, maar nie wil weet, of glo, of apaties is oor die feit, dat die oorgrote meerderheid spesies parasiete is wat spesiaal ontwerp is om op die lewende liggame van ander te voed nie, ongeag die pyn en verskriklikheid daarvan. Dit is juis hierdie feit wat Darwin die volgende laat sê het: “I cannot persuade myself that a beneficent and omnipotent God would have designedly created the Ichneumonidæ with the express intention of their feeding within the living bodies of Caterpillars.” Maar tog, as jy in ’n Skepper glo, is dit presies wat jy moet glo – soos die Bybel sê. En nee, parasiete en siektes het nie ná die sondeval ontstaan nie – daar was parasiete reeds miljoene jare voor daar mense was.

Hoekom hou jy nie katte aan nie? Het dit te doen met die katspoelwurm? En wat dan van honde en ander troeteldiere?

Mens kan inderdaad ’n hele paar parasiete, soos rondewurms, met honde en ander troeteldiere deel, maar dit is nie die rede hoekom ek katte letterlik vrees nie. Katte is die gashere van ’n baie spesiale en verskriklike parasiet: Toxoplasma gondii. Hierdie skrikwekkende parasiet is ’n eensellige organisme wat mens van katmis kry. Dit dring jou bloedstroom binne en versprei so deur jou lyf – insluitende jou brein. In sommige selle wat die parasiet binnedring verdeel die parasiet dan ongeslagtelik totdat die gasheersel oopbars en honderde parasitiese selle verder deur jou liggaam versprei. Die parasiet kan binne sekondes van buite ’n sel – insluitende breinselle – binnedring sonder dat jou liggaam enige weerstand daarteen het. Oorspronklik was ons onder die indruk dat wanneer die parasiet nie verdeel nie, dit dormant in die sel rondhang, maar onlangs het ons uitgevind dat dit nie so is nie. Hierdie parasiet neem die sel se funksies oor en belemmer die breinsel se vervaardiging en verspreiding van belangrike senuweeoordragstowwe soos dopamien, glutamaat, serotonien en noradrenalien. Daar is nou bewyse dat toksoplasmose skisofrenie, Altzheimers, bipolêre steuring, depressie, epilepsie, dwelmverslawing, selfmoordneigings en obssesief-kompulsiewe gedrag veroorsaak. Swanger vrouens kan miskrame hê of die baba kan met ernstige neurlogiese afwykings gebore word as die swanger ma toksoplasmose opdoen. Die ergste hiervan is dat nie slegs kateienaars hieronder deurloop nie, maar ook hul onskuldige bure in wie se groentetuin die kat sy besigheid doen. Ongeveer 30–50 persent van mense (dit wissel van plek na plek) op aarde is met toksoplasmose besmet!

Dis wonderlik om so baie te weet. Maar laat dit jou nie soms verlam voel oor al die risiko’s as jy so baie kennis het van al die mikroskopiese (effektief: onsigbare!) gevare orals rondom en bo-op ’n mens nie?

Iemand het vir my ’n soortgelyke vraag gevra oor die honderde skedels wat ek in my kantoor het, naamlik: “Raak jy nie depressief met al hierdie skedels om jou nie?” My antwoord was: “Natuurlik nie; ons het elkeen een in ons kop, en elke keer wat jy glimlag, kan ek ’n deel daarvan sien uitsteek!” Dit is deel van die dissonansie wat ons met die natuur het – baie mense poog om die natuur daar buite te hou en verkies ’n stuk glas tussen hulle en die natuur – ’n TV-skerm of ’n venster. Dit is seker ook waar vir mense wat dink hulle verander in skelette in hul doodskiste eerder as wat weer molekule vir molekule deur die natuur opgeneem word en weer deel van ander organismes word. So nee, ek aanvaar heeltemal die onafwendbaarheid van die natuur wat gretig vir my molekules wag, al moet ek vir nou tydelik met talle ander organismes deel terwyl ek nog leef. Jy weet, eensaamheid is vir baie mense die ergste straf – ten minstens weet ek dat ek nooit alleen sal wees nie.

Foto: verskaf

Ek vra jou of jy nie skrik vir al die goggas nie, maar jou boek wys ook op baie belangrike voordele van die gediertes. Verstaan ek reg dat die uitwissing van sommige parasiete al tot baie sterftes gelei het? Wat is die punt? Balans in die ekosisteem? En hoe op aarde stel mens dit nou reg, noudat die balans al so erg versteur is?

Na jare se navorsing in grot- en grondwaterekologie het ek agtergekom daar is erg en dan nog erger. Dis soos die verskil tussen Hades en Tartarus. As jy dink dat dit sleg gaan, troos jouself aan die wete dat dit nog baie, baie slegter kan gaan. Dieselfde met die ekologie. Daar sal altyd ekologie wees, selfs na klimaatsverandering, en selfs na ’n kernoorlog. Ekologie sal bestaan totdat die son uitbrand oor omtrent vyf miljard jaar van nou, maar dit sal nie die tipe ekologie wees wat mense sal kan onderhou nie. Die son skyn nie in die diep deel van ’n grot nie en dus kan plante nie daar bestaan nie. Tog wemel grotte en veral vlermuismis daarbinne van lewe vanaf bakterieë en swamme, tot ontelbaar baie myte en tientalle spesies rondewurms, insekte en spinnekoppe. Maar mense sal nie daar kan oorleef nie.

Dit is bloot ’n feit dat parasiete nie net deel van die ekologie is nie, maar ’n verskriklike belangrike deel van die ekologie, al sien die meeste mense dit nie raak nie. Jy sien ’n voëltjie bessies van ’n boom vreet en dink: Hoe fraai! Maar sien nie die honderde spesies parasiete wat beide die boom en die voël vreet nie. Die feit dat beide sterk en springlewendig is, is ’n aanduiding dat die parasiete, nes predatore in die geval van die voëltjie en megaherbivore in die geval van die boom, hulle werk gedoen het deur die sterkste te selekteer. Dit is normaal om tientalle spesies op jou te hê en dit is heeltemal abnormaal om sonder parasiete te wees.

Jy het op RSG met Amoré Bekker oor jou navorsing gesels. Hoe het die gereelde radiogesprekke ontstaan?

Ek praat eintlik al vir meer as drie dekades op die radio en was deel van die oorspronklike Hoe verklaar u dit?-span op Afrikaans Stereo toe die SAUK nog ’n ateljee in Silverton in Pretoria gehad het. Toe die Silverton-ateljee sluit, het die span oorgeskuif na Radio Pretoria, waar ek vir amper 20 jaar deel van die Ek wil weet-span was. Intussen het ek dikwels op SABC TV-nuus oor onderwerpe soos paleontologie, ekologie en klimaatsverandering gepraat en onderhoude op die radio gedoen. Dit was Veronique van Heyningen wat my genader het om op Amoré Bekker se program Alhoebekker te gesels en nou gesels ek met Eloise Cupido op Intussen met Eloise op RSG. Waarvan ek die meeste op hierdie programme op RSG hou, is dat die omroepers my die geleentheid gee om ’n tema te kies waaroor ek dan vir drie maande op ’n slag op Dinsdagoggende gesels. Ons het al oor stedelike oorlewing en ekologie, vreemde diere, interessante plante, fossiele van Suid-Afrika en klimaatsverandering gepraat, en nou gesels ons oor hoekom ons doen wat ons doen, wat alles dek van grondtalle tot ons begrip van rigting, die vorm van die aarde, waar geld vandaan kom, die rede hoekom ons agterstevoor wiskunde doen en nog baie meer. Ek plaas artikels oor hierdie temas op my webwerf https://wereldomons.co.za.

Een van die wonderlike waarnemings is dat die webwerf my wys van waar die besoekers na die webwerf kom en wanneer. Ek kry maandeliks duisende besoekers na my webwerf en ek sien die grootste aktiwiteit op Dinsdae, net na my onderhoud. Maar dis nie al nie; daar is elke week besoekers van Namibië en Botswana, soos mens sou verwag, maar ook die VSA, Australië, Kanada en Europa, wat bekend is vir hul groot oud-Suid-Afrikaanse gemeenskappe. Maar die interessantste: Daar is gereeld besoekers van Rusland, China, die Midde-Ooste, Meksiko en Suid-Amerika! Dit is ’n riem onder die hart om te weet dat soveel duisende mense na RSG luister – en dat ons daardie mense in al die uithoeke van die wêreld bereik – en dit nogals in Afrikaans!

Jou boek verduidelik inderwaarheid vir mens hoe belangrik die organismes is terwyl ons lewe en ook wanneer ons sterf. Ons is net soveel soos die organismes deel van die groot ekosisteem/ekosisteme op aarde. Ons is ’n ekosisteem, elkeen van ons! Of hoe? Wil jy iets hieroor sê?

Inderdaad – dis so interessant – en belangrik. Wanneer mens doodgaan, is jy ook nog steeds deel van die ekologie en jou eie dermmikrobioom wat jou aan die lewe gehou en versorg het, staan reg om jou liggaam terug te besorg aan die res van die natuur. Die molekules binne jou het jy net tydelik geleen – en dan gaan dit terug na die natuur waaruit jy dit geneem het.

Een van die interessantste goed wat ek ontdek het toe ek navorsing vir die boek doen, is die feit dat amper elke organisme op aarde geparasiteer word. Natuurlike seleksie sorg dat die bes-aangepaste, sterkste, mees weerstandbiedende individuee oorleef. Wanneer jy in die veld ry en na ’n pragtige, gesonde trop wildsbokke kyk, dan weet jy daar is ’n predator wat die trop so mooi en gesond hou – deur al die siek, ou of afwykendes op te vreet. Dieselfde reël geld vir parasiete. Enige organisme is veronderstel om die parasiete wat op hom teer te kan hanteer. As die organisme se immuunstelsel gekompromitteer is deur siekte, ouderdom of onvermoë, sal die parasiet so aanteel dat dit daardie individu se einde sal beteken.

Westerlinge is die groep mense op aarde wat die minste onder parasiete deurloop omdat ons ’n antiparasiet-fetisj – eintlik antinatuur-obsessie – ontwikkel het. Alles moet gesteriliseer en skoon wees. Ons stofsuig ons vloere, bad en stort elke dag, verf ons huise so dikwels as wat ons dit kan bekostig, sterilseer ons hande en badkamers ens. Dan is dit ’n skok wanneer jy agterkom dat Westerlinge ook die groep is met die meeste allergieë op aarde en dat mense wat in die natuur leef, nie weet wat dit is nie. Ondanks die stuifmeel, stof en goggas om hulle, het nie een ’n snotneus of kuggie of asma of uitslag nie – maar hulle het dermrondewurms. Dermrondewurms was van die vroegste tye – van ons vis-, amfibieë-, reptiel-, oersoogdier- en primaatvoorsate af – ons intieme metgeselle. Die swakstes onder ons het natuurlik weens hulle teenwoordigheid uitgesterf – en so het hierdie dermrondewurms bygedra om sterker en beter en meer weerstandbiedende organimes te selekteer. Ons is veronderstel om dit te kan hanteer en die meeste mense met dermrondewurms weet nie eens dat hulle dit het nie. Dermrondewurms eet in elk geval jou derminhoud – en nie vir jou nie. Dermrondewurms vervaardig egter ook ’n proteïen wat jou weerstand teen allergene gee. En daar het jy dit – vanaf die begin van tyd vorm die mens en dermrondewurms en jou dermmikrobioom ’n hegte ekologiese eenheid wat ons nou eers begin waardeer.

Jou boek is as niefiksieboek deur die SA Akademie benoem vir ’n niefiksietoekenning – baie geluk! Is dit vir jou belangrik om jou navorsing in Afrikaans te skryf, en indien wel, hoekom? Is Afrikaans dalk vir jou ook een van baie tale op aarde wat dalk nie moet uitsterf nie, waarvan die voortbestaan belangrik is om te verseker sodat die groter taaldiversiteit op planeet Aarde kan bly voortbestaan? Dalk kan jy ook vertel van jou reeds genoemde webwerf, https://wereldomons.co.za.

Hier is ’n paar eenvoudige feite: Die groep Hu sing net in Mongools en die groep Skáld sing hul liedjies in Oudnoors. Daar is 5,7 miljoen Mongoolse sprekers. Daar is 5,4 miljoen Noorssprekende mense op aarde. Hierdie twee groepe verkoop miljoene liedjies en is wêreldwyd bekend. Nie een van hierdie groepe was een keer apologeties oor die feit dat hulle in hul eie tale sing nie. Ons eie Die Antwoord, wat Afrikaans sing, se liedjies was onder die top 50, en selfs die top 10, populêre liedjies in Europa, Noord-Amerika en Australië.

Foto: verskaf

Die posisie van Afrikaans teenoor die ander 6 500 wêreldtale

Min mense weet dat dat daar meer as 8 miljoen Afrikaanssprekendes is – en hulle is oral! Let op: 8 miljoen is meer as 5,7 miljoen, 5,4 miljoen of 44! Daar is 6 500 tale op aarde en Afrikaans is die 69ste grootste taal op aarde. Dus, wanneer iemand my vra hoekom het ek nie my boek in Engels geskryf het nie, vra ek die persoon hoekom hy nie ’n boek in Chinees geskryf het nie. Die tweede ding wat ek vra, is hoekom vra jy so ’n simpel vraag? Hoekom sou ek? Hoekom wil ek?

............
Daar is 6 500 tale op aarde en Afrikaans is die 69ste grootste taal op aarde. Dus, wanneer iemand my vra hoekom het ek nie my boek in Engels geskryf het nie, vra ek die persoon hoekom hy nie ’n boek in Chinees geskryf het nie. Die tweede ding wat ek vra, is hoekom vra jy so ’n simpel vraag? Hoekom sou ek? Hoekom wil ek?
..............

Nou hier is ’n interessante staaltjie: Twee Afrikaanse studente in ons departement kom na my en vra of ek asseblief hulle Afrikaanse opsommings vir die Akademie en Kuns se Studentesimposium kan deurlees, want hulle voel bietjie sleg omdat hulle Afrikaanse vaktaal so sleg is, want hulle het mos net in Engels klas gekry. Ek lees dit deur en inderdaad, dit was maar goed dat ek hulle gehelp het, maar ongelukkig moes ek hulle meedeel dat hulle Engels, toe hulle by my klas gehad het, maar net so vrot was.

Alle grappies op ’n stokkie – een van die lekkerste ervarings van Die menslike dieretuin was die voorreg om Afrikaanse vaktaal te laat herleef waar ek bestaande woorde wat amper al verlore geraak het, soos kwal, horsel, weekdier en skaaldier, of woorde soos kuonodont, dinosauriër en mieregel geskep het waar dit nooit behoorlik ontwikkel het nie. Nou het ek net nog vier ander mense nodig wat bereid is om hierdie woorde in druk te gebruik om dit in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal opgeneem te kry. Die woordelys, wat helfte van Die menslike dieretuin beslaan, is my geskenk aan elke Afrikaanssprekende – die woordelys is op sigself genoeg rede om die boek aan te skaf, want daarmee kan jy vir die eerste keer moeilike en obskure biologiese begrippe in maklik verstaanbare Afrikaans ontsluit. My grootste wens is dat elke mens in sy of haar taal skep, kommunikeer en die lewe voluit ervaar. Elkeen van ons word maar net ’n paar duisend dae op hierdie planeet gegun – maak die beste gebruik daarvan!

Foto: verskaf

In Cradock waar ek en my studente opgrawings doen

 

Lees ook:

Aankondiging: Wenners van die SA Akademiepryse 2023

The post <em>Die menslike dieretuin</em>: ’n onderhoud met François Durand appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21991


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>