In die begin van die 1970's was ek in die polisiekollege. As deel van die opleiding moes ons deur traanrook hardloop en ek onthou dat dit my neus erg gebrand het, en natuurlik traan jou oë dan. Ons het ook 'n formasie geleer wat in die geval van onluste gebruik moes word, genoem die "D" formasie. Voor staan die manne in 'n boog en agter staan manne in 'n reguit ry, wat by die punte van die boog aansluit. Die voorste ouens het die ligte wapens, knuppels en skilde, en ek meen haelgewere met donshael. (Ek kan nie onthou of hulle toe al rubberkoeëls gehad het nie.) Die agterste ouens het die skerp wapens gehad, gewere en selfs masjiengewere, as ek reg onthou.
Heelwat later werk ek by 'n ander staatsdepartement waar ek die pos moes help oopmaak en die stukke lees om te bepaal na watter afdeling dit gaan. Op 'n dag was daar 'n verslag van die distriksgeneesheer oor 'n polisieman wat vreemd dood is. Dit was tydens onluste in Port Elizabeth. Die polisie was aan die verdaag na dinge gekalmeer het. Een van hulle het met 'n leertjie opgeklim teen die militêre voertuig toe 'n skoot afgaan en hy dood op die grond neerval.
Die distriksgeneesheer het in sy verslag gesê dat hy geen ingangswond of koeël kon vind nie, maar hy het vasgestel dat die man se dunderm in twee gesny was - "soos die kleed in die tempel" - soos hy dit gestel het. Daar was ook verskeie ander stukkend plekke.
'n Professor in patologie van Stellenbosch Universiteit het die verslag bestudeer en dadelik gesê "die man is geskiet." Verdere ondersoeke met ondermeer X-strale het die koeël gevind waar dit in sy nek vasgesteek het en aan die een kant van sy anus was 'n ligte kneusplek. Dit blyk toe dat, terwyl die oorledene met die leer opklim, het 'n ander polisieman onder gestaan en sy geweer ontlaai toe die skoot afgaan. Die koeël is dus by die anus in en het by sy nek vasgesteek.
Wat 'n tragiese geval, juis toe hulle sou huis toe gaan.
Varkspek
The post Onluste en die tragiese dood van 'n polisieman appeared first on LitNet.