
Yuwinn Kraukamp (Foto: Danie Kriek)
Yuwinn Kraukamp, een van LitNet, Huisgenoot en die Jakes Gerwel Stigting se Kommadagga-skryfstudente, het uitstekende nuus oor sy skryfwerk ontvang. Rachelle Greeff, slypskoolaanbieder, berig uit Somerset-Oos se Paulet Huis, waar die groep aspirantskrywers tot 31 Oktober onder haar vlerk vertoef.
Een van vanjaar se Kommadagga-skryfstudente, Yuwinn Kraukamp, se “borskas het so bietjie gevibrate” toe hy die oggend van 21 Oktober om vyfuur sy e-pos oopmaak.
Yuwinn het hom van dag een by die Kommadagga-slypskool as naguil openbaar. Hy neem saans ná aandete altyd vir hom ’n bord van die aand se oorskiet vir sy nagskrywery. Daarom was dit nie vreemd dat hy teen vyfuur die oggend vir die tweede keer die nag op was nie.
Tog het hy vir ’n oomblik gedink hy droom: ’n Storie wat hy vroeër vanjaar vir die Toyin Fálolá-prys vir kortverhale uit Afrika ingeskryf het, “iHeart You Forever”, het die skryfkompetisie se langlys van 25 gehaal. Dit beteken dit word opgeneem in ’n versamelbundel stories uit Afrika wat die Pan-African University Press volgende jaar uitgee. Dié uitgewery is in Texas se hoofstad, Austin, aan die Colorado-rivier.
Sowat 200 skrywers het stories vir die kompetisie, wat in Mei vanjaar gesluit het, voorgelê.
Yuwinn het ’n goeie kans om die kortlys van 10 te haal, volgens die e-pos wat hy van die pryssameroepers, Tolupe Oke en Damilare Bello, gekry het.
Die totale prysgeld van $2 500 word tussen die wenner en die kortlysskrywers gedeel.

Yuwinn Kraukamp by die Glen Avon-waterval in Somerset-Oos waarheen die Kommadagga-skrywers op ’n uitstappie gegaan het. (Foto: Danie Kriek)
Die Toyin Fálolá-kompetisie is nou in sy derde jaar. Die eerste wenner, in 2020, was die jong Algerynse skrywer Fayssal Bensalah. Op verlede jaar se kortlys van agt was twee Suid-Afrikaanse skrywers, Mandi Nkomo en Tshepiso Mabula. En toe wen Mabula se verhaal “Iphupho Le Vezandlebe” boonop.
Die kompetisie is oop vir skrywers tussen 15 en 35. Dit word jaarliks op die internet geadverteer, mét die tema van daardie jaar. Vanjaar s’n was “vryheid”, in verskillende betekenisse van die woord.
Yuwinn gee vir my ’n paragraaf uit die storie om te lees. Hy maak verskoning: “Die kwaliteit is bietjie sketchy, nie na wat ek nou hier leer nie.”
Die verhaal is nog nie vir publikasie geredigeer nie, maar voorspel reeds fantastiese moontlikhede vir Annie Oorgewig of Anton Aknee, want “Inside the iHeart world, you had access to an infinite amount of weight-slicing, nose-shortening, pigment-altering tools you could ever dream of. You could edit and rearrange the eye colour and the skin colour and the vocal chords of your avatar every single day if you wanted to. In this universe, all your flaws and imperfections could be surgically – or digitally – rectified with one easy push of a button.”
Dís mos nou ’n storie met ’n “goeie einde”.
En, wie weet, dalk plaas dit Yuwinn se wêreld, Bredasdorp, in die Suid-Kaap soos niks tevore nie op die map.
Nog Kommadagga-nuus:
Kommadagga-skrywers skrik nie vir moue oprol ten bate van gemeenskappe nie
Kommadagga writers roll up their sleeves for the benefit of the community
The post Blye nuus vir Yuwinn Kraukamp by Kommadagga-slypskool appeared first on LitNet.