Ek is onlosmaaklik deel van 'n stelsel wat kon beleef hoe die geklingel van 'n ou afgeleefde Volkswagen Kombi kon klink. Want ek onthou nog voor die ou Volkswagen Kombi die handmodel en die jonge swart man wat straat af in Friedman Street (tot vandag toe praat mens daai naam in Haar Majesteit se Ingels!) afgekom het. Ons het hom altoos gestop. Nie vir die roomys wat hy verkwansel het nie want ons het nooit geld gehad daarvoor nie. Vir die Droë ys. Want vet weet, jy kon baie uitrig met droë ys en ek wonder of mens nog droë ys kry? Ek kon altyd die ys kry want hy was my bra bloot omdat ek sy Sotho kon praat en ek wit was. En hy altyd gehoop het ek gaan uit my wit rykdom koop. Bummer vir hom ek was 'n arm witte.
So hoor ek van die oom hier local wat ek al ken amper vandat ek kop het. En dis maar van nou die dag af. Die ou man het altyd sy sigarette hier kom koop en ek het altyd gekyk hoe groot hy was want hy was groot en ek het gewonner waar hy klere koop en nou wonner ekkie merie want nou is ekke maar nie ver van sy size affie en moet ek self rondsoek. Vir klerasie en, wel ...
Die oom het nie net een roomyskar gehad nie, hy het sommer 'n hele bolling vannie goed gehad. Ek wetie hoevelie want hulle het altyd die hele donnerse plek vol gestaan as dit skoutyd of Diaz-fees of enige ATKV-gedoente was. Sommer op elke straathoek. Uitgekamp, stoele buite en Crocs uitgeskop maar goedkoop draairoomys die wil ons mos maar hê. Nie een van die ou Volkswagen-kombi’s was padwaardig nie. Daarom is elkeen toegerus met 'n tripod. Om te sleep. Want as jy hom sleep kan hy dalk gebreek gewees het iewers en het jy nie papiere nodig nie. Of so iets het die ou man my eendag beduie.
En toe verloor ons mekaar innie besigheid en ek sien nie meer die Kombi's verbygaan nie en, wel, as kinners nie draairoomys hettie het hulle darem nog Ola, so dinge issie te kak by die punt in Oesterland nie.
Ek hoor later 'n poliesman beduie vir my dat hy gesien het JB Scrap het die ou man se Volkswagens kom oplaai. Al vier van hulle.
"Al vier, net so kompleet? Met al die roomysgoed in? Hoe so?"
"Die ou man issie meer met onsie. Hy is nou so mal soos meeste van ons. Maar hy registreer nie meer nie."
"Ja maar hy het daardie Kombi's oor jare ingerig ..."
Vandag daag hier 'n dronk bliksem op en hy beduie vir my hy het 'n klomp skroot. Ek bekyk wat hy beduie as skroot en ek sien sorgvuldige sweiswerk. Presisiewerk wat bitter min ambagsmanne vandag kan nadoen. Wel, ek sal kan en ek moet spog ...
Ek vra oor die roomyskarre want ek weet wie sy pa was en hy beduie hy bring netnou die masjiene. Die goed is nog splinternuut soos die ou man dit gelos het. Ek vra hom oor die ou man en sy antwoord maak my dankbaar dat ek darem nog my vader geag het en vir ewig sal ag.
Ek koop sy pa se lewe vir letterlik skrootmetaalprys en dit neuk my op. Want ek weet elke sent is keel af.
Bekyk die rotgevrete gemors wat hy hier aanbring en toe sien ek waarom selfs digters so bekommerd is oor hierdie nasie se toekoms en die res klaar in Parys sit.
oester