...
Die uitstalling staan nie vir my in afsondering nie. Jy kan nie help om met elke treë by ’n venster verby of met elke voetval op die swaar houtvloere te besef dat jy in geskiedenis – waar slawerny en onderdrukking ook vir drie eeue geseëvier het – stap nie.
...
Die historiese Boschendal-wynplaas tussen Stellenbosch en Simondium wat uit 1685 dateer en die Norval-stigting het verlede week ’n formele vennootskap aangekondig wat ’n reeks satelliet-kunsuitstallings in Boschendal se historiese herehuis en die omliggende terrein behels.
Besoekers aan die plaas kan ’n kontemporêre kunsversameling gaan ervaar wat in skerp kontras met die herehuis se ryk geskiedenis staan. Die eerste jaar se program kom uit Norval se Homestead Collection, wat kunstenaars van regoor Afrika bevat, maar met ’n sterk Suider-Afrikaanse verteenwoordiging. Uitstallings sal elke drie tot vier maande wissel.
Wanneer jy by die deli en restaurant aan die linkerkant en proelokaal en winkel aan die regterkant verbystap, wink die herehuis aan die einde van die eikeboomlaning. Sy staan al vir meer as 300 jaar daar in haar witgekalkte muur en rietdakglorie. Van die buitekant is daar niks wat verklap wat binne op jou wag nie.
Die herehuis is in kunskamers verdeel en heel voor links is ook ’n klein kunshandel-afdeling met onder meer unieke kleivase deur ontwerper en beeldhouer Githan Coopoo, wat spesifiek vir Boschendal geskep is. Die uitstalling Githan Coopoo: Structural Integrity is die kunstenaar se eerste solo-uitstalling. Ander items, soos die plaas se lyfprodukte-reeks, poskaarte en linneware, is ook te koop.
“Die kombinasie van Boschendal se ryk kulturele erfenis en die Norval-stigting se ongeëwenaarde toegang tot kontemporêre Afrika-kuns sal ’n buitengewone ervaring vir al ons gaste skep,” het Georgie Davidson, HUB by Boschendal, oor middagete aan gaste vertel. “Ons is trots om hierdie unieke vertoonvenster bekend te stel wat geskiedenis, kuns en innovasie meng, en sien daarna uit om gaste van regoor die wêreld by ons historiese plaas te verwelkom om saam met ons inspirerende Suid-Afrikaanse en Afrika-kreatiewe talent te vier.”
Davidson het bygevoeg dat die plaas in geskiedenis gehul is, en dat die volgende stap kultuur was. Sy het gesê dit was ’n voorreg om die herehuis nuwe lewe te gee.
’n Sensitiewe opknappings- en restourasieprojek aan die historiese herehuis is in oorleg met spesialiste van Cape Heritage, Boschendal en sy argitekvennote onderneem en tydelike veranderings is aan die herehuis se binnekant aangebring om die kunsuitstallings te akkommodeer.
Dis treffend hoe die moderne wit tydelike muurpanele waarteen die eerste kunsuitstalling, die swart en wit fotografiereeks van Zanele Muholi getiteld Somnyama Ngonyama (“Hail, the Dark Lioness”) hang, kontrasteer met die gebou se Kaaps-Hollandse boustyl. Die ou geverfde blomraam wat om die vensters en teen die mure loop, is plek-plek blootgelê in die wit muurpanele om hulde te bring aan die erfenis wat agter die panele waghou.
Muholi is in 1972 in Durban gebore en beskryf haarself as visuele aktivis wat fotografie as medium gebruik. Op een van die muurpanele in die herehuis is geskryf dat sy “die swart queer en trans visuele geskiedenis van Suid-Afrika herskryf, sodat die wêreld kan weet van ons verset én bestaan op die kruin van haatmisdade in Suid-Afrika en elders”.
Dit lui voorts dat hoewel die foto’s selfportrette is, daar ’n oorweging is – nie net van Muholi se identiteit nie, maar ook van ons eie identiteite en die manier waarop ons dit verander en struktureer afhangend van wie kyk. “Muholi se werk as ’n visuele aktivis veg vir queer en swart mense se menseregte en doen dit dikwels deur gehore te konfronteer met hul eie fasade en hul eie blik.”
Ek is gelukkig om een van net twee besoekers op ’n gegewe tyd in die ou vertrek te wees. Die koel vroegoggendluggie wat van buite om my enkels speel, is eintlik al maat wat ek het. Dis nou behalwe al die fasades in my kop.
Die uitstalling staan nie vir my in afsondering nie. Jy kan nie help om met elke treë by ’n venster verby of met elke voetval op die swaar houtvloere te besef dat jy in geskiedenis – waar slawerny en onderdrukking ook vir drie eeue geseëvier het – stap nie. Dat die beelde van hierdie kunstenaar steeds veg teen gelykheid en erkenning nie. Buite teug besoekers aan vonkelwyn en stap op lowergroen grastapyte waar ons almal behoort tuis te voel, te ontspan, te lag en die omgewing te geniet. Maar die foto’s en boodskap binne die herehuis is baie duidelik: Hierdie sorgelose genot is ook maar net ’n tydelike vals muurpaneel wat die vooroordeel, kritiek en onverdraagsaamheid van ons samelewing versteek.
...
Die foto se kontras is hoog: pikswart raam buite om, swart spieëlraam, haar swart vel met net die wit van haar oë en die weerkaatsing van die wit mure sigbaar. Sy as mens is amper onsigbaar. Die onverbiddelike boodskap van ’n wêreld wat meestal net swart of wit sien; geen toelating vir die reënboog tussenin nie.
...
Een foto val my veral op: Muholi het haarself in ’n spieël afgeneem. Die foto se kontras is hoog: pikswart raam buite om, swart spieëlraam, haar swart vel met net die wit van haar oë en die weerkaatsing van die wit mure sigbaar. Sy as mens is amper onsigbaar. Die onverbiddelike boodskap van ’n wêreld wat meestal net swart of wit sien; geen toelating vir die reënboog tussenin nie. Ek verpoos daar. Van al die foto’s is dit die een wat my sal bybly. Hoeveel mense voel nie daagliks só onsigbaar in my blik nie?
Saam met die uitstalling binne is daar ’n reeks beeldhouwerke op die terrein rondom die herehuis te sien, wat die dialoog tussen die verlede en die hede voortsit. Werke van Kyle Morland en twee beeldhouwerke deur Edoardo Villa is tans daar op uitstalling. Al drie die kunswerke word op die plaveisel tussen die herehuis se flanke uitgestal met die berge wat in die verte waghou. Die amper futuristiese werke gee jou verbeelding vrye teuels tot interpretasie.
Owen Martin, die direkteur en hoofkurator by die Norval-stigting, sê: “In teenstelling met die Stigting se kontemporêre ruimte in Tokai, wat ’n galery en beeldetuin langs ’n beskermde, endemiese vleiland insluit, sal Boschendal se veel langer geskiedenis besoekers aanmoedig en inspireer om nuwe vertolkings van die kunswerke wat daar vertoon word te vind, terwyl dit ook die kuratoriese span uitgedaag het om met innoverende oplossings vorendag te kom.”
Die Norval-stigting is ’n sentrum vir kuns en kulturele uitdrukking, gewy aan die navorsing, opvoeding en uitstalling van 20ste- en 21ste-eeuse visuele kuns van Suid-Afrika en verder. Dis in 2018 gestig is en die enigste plek in Afrika om Yinka Shonibare se Wind Sculpture SG (III) te sien.
Die Gerard Sekoto-stigting, die Edoardo Villa Estate Collection en die Alexis Preller-argief het ook hul tuiste by die Stigting in Tokai.
Die Norval-familie is die stigters en aanvanklike befondsers van die Norval-stigting en hul doel is om kuns wyd toeganklik te maak vir plaaslike en internasionale besoekers deur ’n selfonderhoudende sentrum vir kuns te skep. Die opbrengs van kapitaalskenkings word gebruik om die Stigting vir toekomstige geslagte te verseker.
Die Stigting glo dat kuns die krag het om ons lewens te verryk en dat kunstenaars op diepgaande maniere bydra tot ons gemeenskappe.
- Boschendal en Norval-stigting se kunsvennootskap
- Met werke van Zanele Muholi, Githan Coopoo, Kyle Morland en Edoardo Villa
- Tot Maart 2022
- Boschendal-wynplaas tussen Stellenbosch en Simondium
- Toegang gratis
The post Kunsvennootskap gee Norval-stigting wynlandse vlerke appeared first on LitNet.