Ons moeder Krotoa
Gun my die eer om te dig van ’n vrou – ons moeder Krotoa –
gebore uit ’n volk so trots soos ’n rype,
regop koringaar in somerson.
Keer op keer verneder, verlaat, verstoot
– maar nie vernietig –
Krotoa, gekaap in die Kaap ...
Gestroop van haar naam, herdoop na Eva.
Gestroop van haar lewe, gestroop van haar volk,
met net die eggo in haar gemoed ...
Is ek Krotoa? Of is ek dan Eva?
En haar volk bloei ...
maar nie van bloed nie, van treur.
Krotoa, verban na die eiland van robbe,
die tolk van haar tong leeggetap,
weggestoot, weggeskeur, wéér verneder,
weér verplaas.
Oorgelaat aan die dranklus se spons
en die simbiose tussen hoekoms en waaroms,
styf genestel aan die kanker van haar gemoed.
Haar beker leeg ... haar woorde min:
Is ek Krotoa? Is ek dan Eva?
En ver van daar sit haar volk en bloei
Dié keer van treur én bloed.
In haar sel op die eiland van robbe
het haar stem stil weggeraak.
Vandag is óns haar stem.
Onse moeder Krotoa, mag jou siel nou
in vrede rus.
Laat ons nie meer bloei van treur nie.
Laat ons nie meer bloei van bloed nie.
Laat ons nou bloei van trots.
Gun my die eer om te dig van ’n vrou:
Ons moeder Krotoa.
The post Ons moeder Krotoa appeared first on LitNet.