Die teenoorgestelde is net so waar
Azille Coetzee
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798182355
Ingid van der Walt praat met Azille Coetzee oor Azille se jongste boek, Die teenoorgestelde is net so waar.
Kort nadat Azille se eerste boek verskyn, stuur ’n vriendin uit Stellenbosch ’n foto van die voorblad en sê ek moet dit dadelik gaan koop. “Sy verstaan wat ons dink, hoe ons praat, waaroor ons gesels,” verduidelik sy. In my vel was een van my gunstelingboeke van 2019, en ook dié van baie van my vriende. Een wat ons gereeld sou aanhaal en na terugverwys in gesprekke.
En nou, twee jaar later, het Azille nog ’n boek gepubliseer! Dié keer haar eerste roman, Die teenoorgestelde is net so waar. Weer is dit ’n heerlike leeservaring en ’n boek wat besonder interessante temas aanraak en belangrike gesprekke ontketen. Ek het vir Azille by Power & the Glory in Kloofstraat ontmoet om oor haar nuwe boek en die skryfproses te gesels. En hoe sy dit weer reggekry het om ons almal aan die dink te sit.
Een van die eerste goed wat jy genoem het toe ek jou gelukwens met die boek, is dat jy baie op jou senuwees is oor hoe die boek ontvang sal word. Hoe voel jy oor die proses van ’n boek publiseer in Suid-Afrika? Veral in die sin dat mens jou skryftalent blootstel aan Suid-Afrika (en die baie opinies)? En voel jy daar is ondersteuning van ander skrywers – jonk en oud?
Op ’n subjektiewe, persoonlike vlak kan die proses absoluut senutergend wees. Ek was baie bang vir die moontlikheid van ’n mislukking, veral ook omdat mens met ’n roman iets kunstig probeer skep (eerder as iets meer feitelik soos akademiese navorsing of selfs memoir). Op ’n meer objektiewe vlak was dit ’n wonderlike ervaring sover. Die Afrikaanse scene is regtig baie verwelkomend. Afrikaanse skrywers, en veral Afrikaanse vroueskrywers, het my met ope arms verwelkom – skrywers soos Ingrid Winterbach, Marita van der Vyver en Zelda Bezuidenhout het my op Instagram gelukgewens; Joan Hambidge het ’n resensie geskryf; Joah van Dyk was by die boekbekendstelling. Ek voel só verwelkom.
.......
Die Engelse skrywers het dalk meer lesers, maar ek dink nogal nie hulle het naastenby die tipe intieme gehore en kontak wat Afrikaanse skrywers met lesers het nie. Die intimiteit het natuurlik sy voor- én nadele, maar ek beskou dit as my voorreg om in Afrikaans te kan skryf, en as ’n skrywer in die taal verwelkom te word.
.........
Die Afrikaanse lesersgemeenskap is dalk klein, en jy’s reg, daar is wel baie sterk idees en opinies, maar die voordeel daarvan is dat almal geweldig engaging is. As jy iets skryf, gaan mense opdaag, hulle gaan dit lees, en hulle gaan engage. Die Engelse skrywers het dalk meer lesers, maar ek dink nogal nie hulle het naastenby die tipe intieme gehore en kontak wat Afrikaanse skrywers met lesers het nie. Die intimiteit het natuurlik sy voor- én nadele, maar ek beskou dit as my voorreg om in Afrikaans te kan skryf, en as ’n skrywer in die taal verwelkom te word.
Die proses van ’n roman skryf is uiteraard baie anders as ’n memoir óf akademiese publikasies – iets wat jy gereeld skryf. Hoe het dit gebeur dat jy aan ’n roman begin skryf het?
Daar was momente tydens die skryf van In my vel waar ek moes dink aan detail, en hier en daar ’n toneel moes beskryf en kleur gee. Dit was in daardie oomblikke toe ek myself toegelaat het om novelistically te kyk na ’n toneel wat my laat besef het ek wil ’n roman probeer skryf. Dis absoluut die vorige boek wat die deur in my kop oopgemaak het. Ek het dadelik nadat ek klaar was met In my vel weer begin skryf.
Hoe was die proses van karakterisering vir jou? Skryf jy van mense in jou lewe? Of het jy net elemente van die kleurvolle en interessante mense in jou lewe vasgevang?
Die karakters skryf en skep was verskriklik lekker. Ek was heeltemal obsessed met hulle vir twee jaar. Ek het baie spesifiek probeer om nie mense wat ek ken of myself as karakters in die boek in te skryf nie. Ook omdat ek voel ek het nou reeds oor my werklike lewe geskryf, wou ek graag suiwer fiktief skryf.
En wat my verstom het van die proses is hoe interessant dit die gewone lewe maak en hoe dit verander hoe mens deur die wêreld beweeg. Ek sal sien hoe ’n vriendin ’n gebaar maak, of haar kop op ’n manier draai, en dan sal ek weet Katryn sal dit doen. Of dis hoe Charlotte sal lyk as sy skaam is. Dit is ’n proses wat verskriklike aandag verg en dit verander hoe mens na mense om jou kyk. Elke liewe ding, alles wat mense doen – hoe mense beweeg, hoe hulle praat – word interessant net omdat jy dit myn om tekstuur te kry vir die wêreld wat jy skep. Dis eintlik ’n tipe mindfulness practice.
Jy is ’n uitsonderlik fyn waarnemer. Was dit nog altyd so, of is dit iets wat jy ondersoek het in die proses?
.......
In ons familie is my ma se bynaam “die spy”. Sy het dit in haar geaardheid om mens dop te hou. Ons spot altyd dat sy ’n speurder moes geword het – sy weet altyd alles wat aangaan. Ek dink ek het bietjie van dit geërf.
.......
In ons familie is my ma se bynaam “die spy”. Sy het dit in haar geaardheid om mens dop te hou. Ons spot altyd dat sy ’n speurder moes geword het – sy weet altyd alles wat aangaan. Ek dink ek het bietjie van dit geërf.
Maar ek dink ook dis ’n baie vroulike eienskap. As vrou word ons gesosialiseer om bewus te wees – ons maak seker almal in die vertrek is gemaklik en geniet hulself. Ons sien om na ander, stel belang. As vrouens word ons geleer om daai werk te doen. Dalk essensialiseer ek? Maar ek het nogal deurentyd in die proses gedink aan hoe dit amper ’n tipe feminine care practice is om ’n boek te skryf – om só bewus te wees van ander dat jy ander mense se gevoelens en denke kan opmerk en verstaan hoe om dit te kan gebruik.
Iets wat my ook opval, is dat jy ook baie ingestel is op klimaat en omgewing. Jy skryf baie van hoe die son val, hoe donker dit buite is, die soel aande in die Kaap ...
Dit is baie Capetonian om so behep te wees met die weer, juis omdat die weer so wispelturig is. Ek het met die vorige boek ook die weer baie bygewerk, en die redigeerder het vir my gesê mens skryf nie regtig oor die weer nie, tensy dit ’n baie spesifieke plot point is. Maar ek het besluit om nie na hom te luister nie, want soveel van my ervarings gaan oor die weersomstandighede, oor hoe alles vir my voel en lyk. Dit is vir my ’n baie belangrike element van enige narratief in my eie wêreld.
Dis so waar! En dis die ding van jou boek wat in so baie gesprekke opkom – jy beskryf en omskryf so baie van hoe ons dink en wat ons doen – die verwysings wat jy gebruik, die register, gesprekke, millenniër-angs. I feel seen! Deborah Steinmair noem jou boek in haar resensie ’n tipe tydsdokument. Was dit jou intensie met die boek, of is dit bloot wat natuurlik vorendag gekom het?
Ja, ek wou definitief iets weergee van die ervaring van ons generasie. ’n Vorige generasie vroueskrywers het dit ook gedoen – dink Ingrid Winterbach (daai tyd as Lettie Viljoen), dink Marita van der Vyver … so daar is ’n vorige generasie vroue wat dit ook baie spesifiek gedoen het, maar somehow is dit nou ’n paar dekades terug wat daai soort prosa uitgekom het vir jong vroue. So ek skryf op daardie manier in ’n tradisie in.
.......
Ek dink ek is ook baie gelukkig in terme van die globale tydsgees. Dit is nou die tyd dat jong vroue se stories oor jong vroue baie spesifiek aandag kry en ernstig opgeneem word in die literêre wêreld. Ek het gevoel die tyd is weer reg vir so iets in Afrikaans.
.......
Ek dink ek is ook baie gelukkig in terme van die globale tydsgees. Dit is nou die tyd dat jong vroue se stories oor jong vroue baie spesifiek aandag kry en ernstig opgeneem word in die literêre wêreld. Ek het gevoel die tyd is weer reg vir so iets in Afrikaans.
Was daar enige behoefte by jou om ander of ouer generasies te laat dink?
Ek dink eintlik nie so nie. Met my vorige boek het ek baie spesifiek uitgegaan om mense te laat dink. Terwyl ek met hierdie boek regtig graag ’n wêreld maak wat mense in kan glo, wat mense hulself in kon verdiep, wat mense kon ervaar saam met my. Om myself te immerse in my generational ervaring was die vanselfsprekende wêreld wat ek met gevoel kon uitbou.
So dit het iets te doen met ander mense deel maak van jou leefwêreld?
Ja, ek dink tog so. Ek het regdeur die proses myself gevra hoekom skryf mens ’n boek? Hoekom sit ek dit uit in die wêreld? En dit bly ’n bietjie misterieus hoekom ek myself deur dit sit. Die beste antwoord waarby ek uitkom, is dat dit ’n soeke na connection is. Om vir ander mense iets te wys wat ek sien en ervaar van die wêreld.
Dis natuurlik so oud soos die mens, hierdie soort behoefte om iets te skep en dit dan vir iemand anders te wys. So ek dink dit wat jy artikuleer is presies hoekom ek die boek geskryf het. En nie vir een of ander onbaatsugtige rede nie. Ek dink dis ’n selfsugtige kreatiewe en menslike impuls. Om jouself te sien en om ander jou te laat sien.
Te laat sien en hóór. Dit is so lekker om te lees hoe ons klink! Jy gebruik die mooiste Afrikaans, maar dan meng jy ook, nes ons doen. Was daar dele van die boek wat jy meer in Engels wou skryf? En hoe het jy te werk gegaan om die balans reg te kry?
Dit was so ’n interessante proses. My eerste drafts het baie meer Engels in gehad. Ek het byvoorbeeld die hele toneel waar die kunshistorikus met Charlotte ’n onderhoud voer, in Engels geskryf. Dis hoe dit sou uitspeel in my kop, en vir my is daai woordeskat alles in Engels.
Maar toe het ek baie naby met die redigeerder, François Bloemhof, en my uitgewer, Nèlleke de Jager, gewerk. En saam het hulle my gehelp om ’n soort balans te probeer kry. Die Afrikaans wat ons praat, is so ver verwyderd van ’n suiwer Afrikaans. Die oomblik wat mens goed in suiwer Afrikaans skryf, dan klink dit nie meer soos ons sal praat nie.
Daar was dele waar ek net eenvoudig lui was met die Engels, dan sou François voorstelle maak vir sterker of mooier Afrikaanse alternatiewe en ek besluit of ek saamstem. Maar dit was natuurlik ook vir my belangrik om ernstig opgeneem te word as Afrikaanse skrywer, en ek dink dit is ook goed dat ons nie te lui is met ons taalgebruik nie.
Ek is egter baie nuuskierig oor Lerato en of sy Engels is? Daar is ’n Potchefstroom-agtergrond, maar sy woon in Johannesburg.
Ek is seker sy is baie goed met die Afrikaans, maar in my kop praat sy net Engels.
So sy en Katryn praat eintlik Engels?
Dis hoe ek dit vir myself verbeel het. Sy woon in Jo’burg, and she only speaks English.
Ek woon langs ’n Engelse swart vrou van Johannesburg, en kan nie anders as om bewus te wees dat hierdie tipe vriendskappe makliker in boeke gebeur nie. Wou jy graag diversiteit bywerk in die boek? Is dit dalk ’n manier om die Suid-Afrika waarvan ons droom te probeer manifesteer?
Ek dink nie mens kan vandag ’n storie skryf in Afrikaans en in Suid-Afrika en jy het nét wit Afrikaanse karakters in die boek nie. Maar aan die ander kant is daar al die vraagtekens en debatte rondom wie mag wie se storie skryf? Wie mag wie uitbeeld? Is dit oukei as ek ’n swart vrou uitbeeld?
Ek het aanvanklik vir Lerato ’n kleiner rol gegee. Maar toe het van die keurders gesê hulle dink ek moet haar uitbou. En die uitgewer het my ook aangespoor om te probeer om vir haar ’n stem te gee. En as ek foute maak in die proses, dan maak ek foute, maar dat ek ten minste moes probeer. En ek was baie gespanne oor of ek dit goed genoeg doen.
En jy’s reg – in Kaapstad is ons wêreld nog so gesegregeerd. Hoe maklik en vinnig sy en Katryn sulke goeie vriendinne raak is baie onwaarskynlik hier. Ek het dit probeer omseil deur vir Katryn in Johannesburg te plaas waar die wêreld baie meer geïntegreer is. En die ander ding wat ek gedink het sal help, is dat Katryn ’n beroemde aktrise is. En op daai manier sou daai vriendskap makliker gebeur as dalk met jou en my. Maar ek moes baie mooi daaroor dink, en ons sal moet sien of daar kritiek is. Dit bly maar ’n komplekse ding.
Iets wat my ook baie opval, is jou liefde vir en intieme kennis van die kunswêreld. Charlotte se storielyn en kunsprojekte is so fassinerend! Ek het ’n paar keer myself gevang dat ek haar wou Google om te kyk waar ek haar kuns kan gaan kyk! Is kuns ’n groot deel van jou lewe? Sal jy ooit jou eie hand waag aan ’n kunsprojek?
Ek’s so bly jy dink dis interessant! Ek het kuns op skool gehad, en wou kuns gaan studeer. So dit is ’n belangstelling van my en ek het ’n spul vriende wat kunstenaars is, so ek spandeer nogal tyd om kuns te kyk en bespreek, en daaroor te lees.
Wat my ook opval, is dat daar so baie Afrikaanse boeke die laaste jaar uitgekom het wat kuns as ’n tema aanraak of insluit. As jy dink aan Ingrid Winterbach se nuutste boek, Willem Anker, SJ Naudé, Vin van Lien Botha. Ek wonder nog daaroor – het dit iets te doen met ons tyd in Suid-Afrika, nou?
Met visuele kuns kom mens by dinge uit wat mens nie met taal by uitkom nie. Dis ook natuurlik ’n lekker manier om idees in die boek in te sit sonder om dit in dialoog te moet inprop. Ek het baie gewonder of die idees in my kop nie eerder ’n werklike kunsprojek is wat ek moet probeer skep eerder as skryf in ’n boek nie. Die reeks gesinsmoordskilderye wat Charlotte maak byvoorbeeld. Maar ek het nie die vaardighede daarvoor nie.
Jy sê so, maar ek kan nie anders as om te wonder of die kuns nie ’n tipe verlengstuk van die boek is of kan wees nie. Wat die kuns wel bydra tot die boek, is simboliek. Kan jy my ’n bietjie vertel hoe kuns ’n aanvangspunt was vir ander belangrike temas wat jy wou bywerk?
Ja, dit is al die dinge waaraan ek dink. Ek en ’n vriendin praat so gereeld oor honde as ’n filosofiese onderwerp in ons kultuur. Wit Afrikaners (ek ingesluit) is obsessief oor hul honde. En daar is allerhande weird goed met honde – honde wat rassisties is byvoorbeeld. Goed wat ons nog nie genoeg geartikuleer het in ons kultuur en taal nie. Honde absorbeer allerhande dinge op simboliese en politieke vlakke. As Charlotte ’n groot boerboel maak uit klei wat lewensgroot in die middel van ’n vertrek staan, dan is dit iets wat dadelik as ’n beeld, as ’n image, ’n simbool, soveel goed aanroer vir mense. Ons almal het verskillende ervarings gehad met honde. En dit word dan ’n belangrike gesprek met Frank. Die hond as ’n beeld, as ’n figuur, roep so baie op in ons koppe dat dit so ’n maklike tema is om by te werk wat lekker dinge doen in die teks.
Buiten die honde is daar ook verwysings na visplakkies, Intercity-busse, vrugte pluk in agterplase. Dit bring soveel ’n nostalgie tot die leeservaring. Ek het met tye byna ’n Meisies van Maasdorp-gevoel gekry. Joan sê in haar resensie: “Die wit apartheidsbestaan word skerp geteken: vibracrete, snorre, perms.” Wou jy graag ons grootwordjare in die ’90’s ’n moment gee in die boek?
........
Nostalgie het op die oomblik baie kulturele gewig. Ook in globale populêre kultuur – iets soos Stranger things, die musiek waarna ons luister. So dit was ’n bietjie indulgent op daai manier, maar so lekker om te kon skryf oor kinderjare in die ’90s.
........
Nostalgie het op die oomblik baie kulturele gewig. Ook in globale populêre kultuur – iets soos Stranger things, die musiek waarna ons luister. So dit was ’n bietjie indulgent op daai manier, maar so lekker om te kon skryf oor kinderjare in die ’90s. Jy praat nou van die Maasdorp-meisies – ons ma’s se kinderjare is vasgevang in daardie tipe boeke, of iets soos Dinge van ’n kind (Marita van der Vyver). Terwyl óns kinderjare ’n baie vreemde en spesifieke ’90’s-childhood was met die oorgangsjare na apartheid, en ’n klomp ander groot oomblikke in wêreldgeskiedenis, soos die val van die Berlynse muur. Dit het nie meer soos Maasdorp gelyk nie. As kind besef mens dinge is vreemd of anders, maar mens weet nie regtig hoekom nie. Ons was clueless. Ék was so clueless ...
Dit was ’n vreemde tyd, was dit nie? As ek terugdink, het ek baie keer die gevoel gekry dat ons ouers dink ons is die generasie wat verloor, tog was dit kleurvol en opwindend?
Ek het ’n diep fassinasie met ons kulturele moment. En die details is fantasties! Ek het dit so geniet om dit te probeer uitbeeld. Suid-Afrika was vir lank so geïsoleer, wat beteken het ons generasie was die eerstes wat ons behoorlik kon oopmaak vir globale populêre kultuur ná die demokratiese oorgang. Die nineties was hierdie liminal space in ons kultuur en taal. Afrikaans moes homself herkonfigureer en rebrand. En dis nog so min getematiseer in Afrikaanse letterkunde en kultuurprodukte.
Nog iets waaroor ek en my vriendinne gesels het, is hoe ons ons verbeel die karakters lyk, veral Charlotte as hoofkarakter. Is sy so mooi en sexy soos ons ons voorstel? En is dit dalk omdat jy dink dis wat die lesers nodig het?
Ek weet almal lees karakters verskillend. Maar in my kop is Charlotte iemand wat nie spesifiek voldoen aan die konvensionele standaarde van vroulike skoonheid nie. Sy trek vreemd en eklekties aan, sy skeer gewoonlik nie haar been- of armhare nie, en sy dra nie grimering nie. Sy is sexy, maar dis omdat sy hou van seks, nie omdat sy op 'n sekere manier lyk nie. Katryn is wel beeldskoon en sexy op konvensionele maniere. Ek wou so 'n karakter insluit omdat soveel van ons sulke vroue in ons lewens het en vriendskappe daarrondom moet probeer navigeer.
Iets wat hulle al drie gemeen het, is dat hulle baie sterk is en opinies het. Hulle neem bold besluite. Was jy bang die boek is te feministies vir ons kultuur en lesers?
Ek het met die vorige boek gesien hoeveel ontvanklikheid daar vir meer feministiese leesstof is. Soveel mense het na die eerste boek vir my gesê die boek het vir hulle baie beteken. Hulle het dit gesê op grond van die vrouestem, die feminist sensibility. So ek het geweet daar is definitief ’n mark vir boek wat baie eksplisiet feministies is. En dis ook hoekom ek goeie mans in die boek ingeskryf het, om dit duidelik te maak: I’m not hating on men. Maar ek weet dis nie almal se ding nie, en ek weet dat die feit dat die boek so op vroue en hul stories fokus, al klaar maak dat baie mense uit die staanspoor nie soveel daarin belangstel nie.
En dit is ’n risiko wat jy bereid was om te vat?
Ja, en sover lyk dit of dit die moeite werd is. Daar is soveel vroue wat na my toe kom en sê hulle is geraak deur die boek. Een resensent het gesê sy erken haarself in die vroue, maar dat hulle het meer guts het as sy. Daar is iets ’n bietjie utopies aan dit. Maar dan ook nie heeltemal nie, want ek en jy ken vroue wat so is.
.......
So ’n utopiese element is ook kenmerkend van feministiese teorie. Ons probeer dink hoe lyk ’n samelewing waar ons bemagtig is en waar ons kan sê en doen wat ons wil. Ek wou graag van daai utopiese sin inbou.
.......
So ’n utopiese element is ook kenmerkend van feministiese teorie. Ons probeer dink hoe lyk ’n samelewing waar ons bemagtig is en waar ons kan sê en doen wat ons wil. Ek wou graag van daai utopiese sin inbou. Dis so lekker om in daai terme te dink! In die boek is die bekende teatermaker ’n swart vrou; die vrou wat die internationally trending TV-reeks Siembamba maak, is ’n bruin vrou. Op die oomblik lyk die landskap nog nie so in Suid-Afrika nie, dis steeds meestal mans. Maar ek het doelbewus ’n bietjie gespeel met utopiese feministiese ideale, terwyl ek ook probeer het om dit geloofwaardig te hou.
Die boek begin by ’n troue, en soos die storie ontvou, kry ons deur die drie hoofkarakters te doen met verskillende en interessante verhoudings en vriendskappe. Dit laat mens dink aan ons alledaagse idees van verhoudings, en hoe dit lyk en werk?
Ons kultuur is nog baie patriargaal, as mens byvoorbeeld dink aan die samelewing se verwagtinge oor hoe ons lewens moet lyk. Daar word van ons verwag om te trou, om kinders te kry. Op die ou end is daar baie min mense, en veral vroue, wat dit anders doen. Met my vorige boek het ek die marriage plot geskryf – twee mense raak verlief, dan is daar probleme en dan eindig dit met die mooi liefde. Dis so ’n bietjie hoe my lewe ook lyk. Maar in hierdie boek het ek gevra: Hoe lyk dit as mens nie die marriage plot skryf in Afrikaans nie? Hoe lyk dit in ons kultuur as mens dit nie leef nie? Watter ander soorte konfigurasies is daar? Dis deel van die vraag wat ek vra – hoe lyk dit as ons dit ’n bietjie anders doen?
Dit gaan dalk ’n paar mense ongemaklik maak, maar dis ook nodig?
En ek hoop dat mense diep genoeg in die karakters se koppe is dat hulle hulle besluite verstaan. En kan vrede maak daarmee. Soos wanneer ’n familielid ’n besluit neem waarmee jy nie noodwendig saamstem nie. Ek hoop dat ek die karakters op ’n manier aanbied dat lesers aan hulle kant sal wees.
Terwyl ons praat van familie – die boek is opgedra aan jou ma en skoonma?
........
Mens vra natuurlik hoe ek na haar kan verwys as “skoonma” as ek nie getroud is nie. Wat eintlik net wys dat ons nie die woordeskat het vir ons verhoudings as mens nie trou nie. My kêrel se ma vervul al vir 13 jaar die rol van ’n skoonma, van nog ’n moeder in my lewe. En ek het nie ’n ander woord om na haar te verwys buiten “skoonma” nie.
.........
So baie mense vra vir my hieroor. Mens vra natuurlik hoe ek na haar kan verwys as “skoonma” as ek nie getroud is nie. Wat eintlik net wys dat ons nie die woordeskat het vir ons verhoudings as mens nie trou nie. My kêrel se ma vervul al vir 13 jaar die rol van ’n skoonma, van nog ’n moeder in my lewe. En ek het nie ’n ander woord om na haar te verwys buiten “skoonma” nie. Dis vir mense jarring om daai woord te sien buite die konteks van ’n huwelik. So ek het dit ’n bietjie simbolies gedoen.
En die ander rede is omdat dit ’n boek is wat vrae vra oor die vorme van kinship wat nie net rondom mans draai nie. Ek en sy het ’n verhouding onafhanklik van my kêrel. Sy sal altyd daai rol speel in my lewe. So ek probeer iets oproep van ’n woman-centred kinship, soos wat ek in die storie probeer uitbeeld.
Daar is ook ’n storie binne die storie, die TV-reeks Siembamba wat jy hier bo noem, waaroor almal praat. Was iets soos scriptwriting of misdaadfiksie iets wat jou interesseer?
Ek het nog nooit probeer nie en dit het my verbaas hoe lekker dit vir my was om die speurverhaal te skryf. Ek het ’n bietjie navorsing gedoen oor die struktuur van speurverhale en dit was heerlik om daarmee te speel.
Die ander beweegrede was ook die realiteit dat ons so baie televisiereekse kyk deesdae. Ek het ’n groot deel van die boek tydens die inperking geskryf en toe het almal baie TV-reekse gekyk. So dis deesdae deel van mense se lewens en roetines, en ek wou dit graag bywerk. Dit was ook ’n manier hoe Lien vir Katryn kon sien wanneer hulle paaie skei. Ons is eintlik heeltyd besig om na mekaar te kyk op skerms. Ons is so visible vir mekaar. Dis iets waaroor ek nogal baie dink.
Ek dan moet ek vra: Dink jy ook (soos baie van ons) die boek het TV- en filmpotensiaal? En sou jy graag jou karakters op die skerm wou sien?
Ek hoop so, ja. Dit sal vir my baie lekker wees om dit op skerm te sien. En die Afrikaanse TV- en filmbedryf is in ’n baie interessante space. Ek het onlangs vir die eerste keer Afrikaanse reekse en films op Showmax ontdek en ek was so aangenaam verras met wat beskikbaar is in Afrikaans.
Waarmee is jy tans besig wat jou opgewonde maak? En kan ons uitsien na nog boeke?
Ek is ’n postdoktorale navorser by die Centre for the Afterlife of Violence and the Reparative Quest by Stellenbosch-universiteit, waar ek feministiese en gedekolonialiseerde filosofie gebruik om vroue se herinneringe van apartheid te teoretiseer. Ek geniet dit verskriklik.
Ek’s ook al baie lus en opgewonde om ’n nuwe roman te begin skryf. Ek het ’n lekker idee! Maar ek moet nog begin. Aan die ander kant is ek ook nogal rusteloos en ek hou van nuwe dinge, so ek sal waarskynlik nog baie eksperimenteer met wat ek uitsit in die wêreld.
The post <em>Die teenoorgestelde is net so waar</em>: ’n onderhoud met Azille Coetzee appeared first on LitNet.