Izak Spangenberg skryf op Facebook
Sekere goed kan ek eenvoudig nie weggegooi kry nie. Soos hierdie foto van 36 eerstejaarstudente wat in 1971 saam Grieks en Hebreeus begin studeer het in die hoop om in 1977 hul teologiese studies op Stellenbosch te voltooi en uiteindelik as predikante in die NG Kerk georden te word.
As iemand in 1971 my sou vertel het dat ek 50 jaar later nie meer lidmaat van die NG Kerk sou wees nie en myself selfs buite die tradisionele Christelike geloof sou bevind, sou ek dit nie geglo het nie. Maar die lewe het verskillende draaie met elkeen van ons geloop. Enkeles op die foto het vroeg reeds uitgeklim en hulle vir ander beroepe bekwaam. Ander het predikante van die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) geword, maar die meerderheid het getrou gebly tot die einde toe en uiteindelik as NG Kerk predikante afgetree. Ek wonder soms of van my klasmaats van destyds ook dikwels terugkyk oor die afgelope 50 jaar en kan vertel van veranderinge in hulle teologiese insigte en oortuigings.
Ek besit ’n boek met die titel How I Have Changed: Reflections on Thirty Years of Theology (London: SCM, 1997). In die boek vertel ’n aantal prominente teoloë oor hoe hulle sienings oor jare verander het. Dis teoloë soos Jürgen Moltmann, Eberhard Jüngel, Dorothee Sölle, Jörg Zink, Hans Küng, Norbert Greinacher en nog ander. Twee stellings in die boek sal my altyd bybly: Die eerste een is van Norbert Greinacher: “My theology of unquestioning certainty has increasingly become a theology of doubt” (1997:51). Die tweede een is van Jörg Zink: “A theology which knows nothing but the lonely family history or family tragedy between God and humankind is a thing of the past” (1997:58).
Vir my het die Christelike meesterverhaal van sondeval-verlossing-eindoordeel geen betekenis meer nie. My teologiese studies van die afgelope 50 jaar het my daartoe gebring om daardie verhaal vaarwel toe te roep. Ek glo nie meer in die “tragiese verhaal” van ’n sondeval met die gevolglike breuk tussen God en mens nie. Maar ek glo ook nie meer in ’n lewe na die dood of in ’n wederkoms en eindoordeel nie. Vir my het die Aarde oor die afgelope twee dekades in belangrikheid toegeneem. Ons is van die Aarde en keer eventueel na die Aarde terug. Aarde is ons enigste woonplek en ons moet die woonplek koester en bewaar. Voorts is ons aan alle lewendes sorg en deernis verskuldig.
The post Elders gesien: Sekere goed kan ek eenvoudig nie weggegooi kry nie appeared first on LitNet.