Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20660

Die geskiedenis van die lemoenbome in die binnehof van die Ou Goewermentsgebou in Bloemfontein

$
0
0

Op 29 November 2021 is vier lemoenboompies by die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln) geplant. Amanda Groenewald het hierdie stuk aan LitNet voorgelê.

Mariana le Roux by een van die lemoenboompies wat deur haar eggenoot, wyle Hennie le Roux gekweek is. (Bron: Naln)

Om te verstaan waarom juis lemoenbome en nie ’n ander soort boom nie in die binnehof van die Ou Goewermentsgebou geplant is, moet eers verstaan word waarom daar verkeerdelik lemoenbome op die amptelike wapen van die Republiek van die Oranje-Vrystaat verskyn.

Die korrekte wapen sonder lemoene aan die boom (Bron: Naln se digitale fotoversameling)

Op hierdie amptelike wapen het aanvanklik ’n boom verskyn. Hierdie boom het die vryheid van die republiek gesimboliseer (dit wil sê dit was simbolies van die “Vry staat”). Hierdie heraldiese boom was nie ’n spesifieke soort boom nie, allermins ’n lemoenboom.[1] Tog het hierdie boom deur blote taalkundige mistasting teen die 1890’s na ’n lemoenboom verander.

Daar is twee teorieë waarom dit juis ’n lemoenboom geword het:

  • Die eerste teorie sê dat gedurende die middel-1860’s ’n Londense drukkery verantwoordelik was vir die druk van die eerste amptelike seëls van die Republiek van die Oranje-Vrystaat. Hierdie drukkery het verkeerdelik gedink dat “Orange” in die Engelse benaming van die republiek (Orange Free State) na lemoene verwys, min wetende dat dit eintlik na die Nederlandse Willem V van Oranje verwys. Die naam van die republiek het niks met lemoene te doene gehad nie, maar die Engelse drukkery het dit nie geweet nie, want hulle het geen kennis van Nederlands gehad nie. Nog minder het hulle enige agtergrondkennis gehad van die geskiedenis van die verre republiek aan die suidpunt van Afrika. Hierdie taalkundige mistasting het die drukkery laat besluit dat die vryheidsboom op die wapen ’n lemoenboom moet wees om die “Orange” in “Orange Free State” te simboliseer. Die gevolg was dat die drukkery op eie inisiatief ’n paar lemoene by die boom gevoeg het.
  • Die tweede teorie lui dat ’n Duitsgebore kunstenaar, HR Hochapfel, vir die verandering na ’n lemoenboom op die wapen verantwoordelik was. Hochapfel is om en by 1891 deur die Nasionale Museum in Bloemfontein opdrag gegee om die republikeinse wapen vir die museum te verf. So gesê, so gedaan, maar hy voeg op eie inisiatief ook ’n paar lemoene aan die boom by. Eers op 11 Maart 1933 verduidelik Hochapfel in ’n onderhoud met The Friend waarom hy die lemoene bygevoeg het. Volgens Hochapfel was hy destyds ’n nuweling in Bloemfontein. Hy kon slegs ou afbeeldings van die wapen kry as ’n voorbeeld om die nuwe wapen te verf. Dit het hom op eie houtjie laat besluit dat die boom op die wapenskild ’n lemoenboom moet wees, want hy het ook verkeerdelik gedink dat die “Orange” in die Engelse benaming na ’n lemoenboom verwys. Hochapfel was egter nie van sy fout bewus nie en gaan voort om die lemoene op die wapen te verf. Sy mening was dat ’n boom met lemoene aan ’n teken van vrugbaarheid is en só sal dit die simboliek van die republiek beter op die wapen laat vertoon.

Watter teorie die korrekte een is, weet niemand nie. Hoe dit ook al sy, almal het met verloop van tyd begin aanvaar dat die boom op die wapen ’n lemoenboom is en so het dit gebly.

Dit bring ons by die Ou Goewermentsgebou, wat sedert sy ontstaan die sentrum van die regering van die dag se administrasie was.

Op 28 Oktober 1908 is die Ou Goewermentsgebou deur ’n verwoestende brand in puin gelê. As die regeringsentrum was dit belangrik dat die gebou so spoedig moontlik herbou moes word. Gevolglik is in Oktober 1909 alreeds daadwerklik met die bouwerk begin om die gebou te herstel. Die herstel van die gebou het ook die binnehof ingesluit. Omstreeks 1909/1910 is vyf lemoenbome in die binnehof geplant – een in elke hoek en die vyfde een in die middel. Vermoedelik is op lemoenbome besluit omdat daar voorheen lemoenbome in die binnehof was. Niemand weet of daar voor die brand van 1908 wel lemoenbome in die binnehof was nie, maar dit is moontlik.

...
Vir ongeveer 100 jaar lank het hierdie vyf lemoenbome gegroei en gebloei tot reusebome van ongeveer agt meter hoog
...

Vir ongeveer 100 jaar lank het hierdie vyf lemoenbome gegroei en gebloei tot reusebome van ongeveer agt meter hoog.[2] Elke jaar het hulle ’n drag gesonde lemoene gelewer. Dit is ongewoon dat lemoenbome so in die Vrystaat floreer, omdat die Vrystaat nie eintlik ’n geskikte klimaat het vir lemoenbome nie. Die binnehof met sy hoë mure reg rondom maak dit egter ’n ideale beskutte plek vir die lemoenbome om te floreer.

Omstreeks 2002 het die boom aan die suidoostelike kant van die binnehof die eerste tekens van ’n siekte begin toon, want van sy takke het begin doodgaan. Kenners van die Universiteit van die Vrystaat (UV) se hulp is ingeroep, maar niks kon vir die boom gedoen word nie. So het die bome een na die ander begin doodgaan, party net vroeër as die ander. Die suidoostelike boom was later heeltemal dood. Na hom het die boom in die noordwestelike hoek gevolg. In hierdie tyd is ook begin met die restourasie van die gebou. Volgens die argiteksplanne moes ’n opelugverhoog in die binnehof aangebring word, maar die middelste boom was in die pad. Hierdie drie bome (suidoostelik, noordwestelik en die middelste boom) is in 2007/2008 as deel van die restourasieproses uitgehaal. Slegs twee van die oorspronklike vyf bome was nog oor – een aan die noordoostelike kant van die binnehof en die ander een aan die suidwestelike kant.

In ’n poging om hierdie laaste twee bome te red het die destydse kurator van Naln, Otto Liebenberg, in 2008 die Citrus Growers’ Association (CGA) in Hillcrest gebel. Alhoewel hierdie laaste twee bome steeds lemoene gedra het, het van hulle takke alreeds begin doodgaan. Veral die boom aan die suidwestelike kant van die binnehof het baie meer tekens van afsterwing getoon.

Die CGA was baie verbaas om te hoor van 100 jaar oue lemoenbome in die Vrystaat wat nog steeds vrugte dra. Dit was vir hulle ongehoord. Hulle kon ongelukkig nie help nie, omdat plantsiektes buite hulle veld val. Maar Gloria Weare, die uitvoerende assistent van die uitvoerende hoofbeampte, was baie geïnteresseerd in hierdie twee lemoenbome en het dit op haar geneem om hierdie twee bome te probeer red. Sy het Hennie le Roux, voorligtingsbestuurder by Citrus Research International (CRI) in Nelspruit, gekontak. Nadat sy die probleem verduidelik het, het hy dadelik vir Otto Liebenberg gekontak. Hulle het afgespreek dat hy Naln so spoedig moontlik sou besoek om hierdie twee lemoenbome vir ’n moontlike oplossing te ondersoek.

Op 29 September 2008 het Le Roux die twee oorblywende bome gediagnoseer met ’n soort dodelike wortelvrot, naamlik Phytophthora collar rot. Volgens hom kon die bome nie meer gered word nie. Hy was reg, want ten spyte daarvan dat die dooie takke op 12 November 2015 afgesaag is, het die afsterwing van die ander takke voortgeduur. Dit was  al so erg dat teen Januarie 2018 meer as 50% van die suidwestelike boom se takke reeds in dood was. Die laaste boom, die noordoostelike boom, was ook stadig maar seker besig om dieselfde pad as die ander bome te loop. Ongeveer 65% van sy takke was op daardie tydstip nog lewend. Die dooie takke van beide bome het jaarliks meer geword totdat hulle albei ook op 5 Junie 2020 afgesaag is.

Gelukkig het elke donker wolk ’n silwer randjie. In hierdie geval is dit ook so omdat dit nie heeltemal die einde van hierdie lemoenbome in die binnehof is nie. Op Liebenberg se versoek het Le Roux tydens sy besoek aan Naln genetika van die ou lemoenbome geneem. Hy het dit na Fanie van Vuuren van die CRI geneem, wat hierdie genetika op die wortelstok van die Swingle citrumelo geënt het. Hierdie wortelstokke is meer bestand teen grondsiektes soos wortelvrot. Dit maak hierdie soort wortelstokke ook die beste keuse, omdat dit van meet af die bedoeling was dat die nuwe lemoenboompies later weer in die binnehof oorgeplant gaan word. Die nuwe lemoenboompies is hierna na ’n kweekhuis geneem, waar hulle gebly het totdat hulle groot genoeg was vir oorplanting.

Op 21 Februarie 2014 is ses jong lemoenboompies uit hulle kweekhuis in Nelspruit gehaal en met ’n permit van die Departement Landbou, Bosbou en Visserye na Bloemfontein vervoer. Le Roux het persoonlik saamgery om oor die boompies toesig te hou. Me Weare het ook spesiaal van Hillcrest gekom om die boomplantery by Naln by te woon.

Twee van die ses boompies is op Saterdag 22 Februarie 2014 in die binnehof geplant. Die een boompie is in die suidoostelike hoek geplant en die ander een in die noordwestelike hoek – op dieselfde plekke waar die ou lemoenbome gestaan het. Hierdie boomplantseremonie was terselfdertyd ’n herdenking van die Republiek van die Oranje-Vrystaat se 160-jarige verjaarsdag. Le Roux en me Weare het die geleentheid as eregaste en verteenwoordigers van die CRI en die CGA bygewoon.

Die oorblywende vier jong lemoenboompies is aanvanklik in potte in die binnehof gehou. Naln se veiligheidswag, Abel Mocumi, het dit op hom geneem om die boompies getrou nat te maak. Amanda Groenewald het weer gereeld fondse van die Vriende van Naln bekom om kunsmis en kompos vir die boompies aan te koop en toe te dien.

Met al hierdie sorg het die boompies gefloreer en pragtige lemoene gedra. Die oes lemoene was later so groot dat daarvan aan liefdadigheidsorganisasies uitgedeel is, sommer by die boks vol. In 2020 het die Yadé-huise in Bloemfontein in die oes gedeel. In 2021 was dit gesinne van die Vereniging van Blindes, Vrystaat, se beurt om aan die soetigheid te proe.

Dit is asof Uys Krige sy gedig “Lied van die lemoen” spesiaal vir Naln se lemoenbome geskryf het:

Ek wil ’n goue glans wees tussen groen,
gepluk word dan, só met my lot versoen,
lemoen wees slegs, lemoen, lemoen, lemoen![3]

Wintertyd lees Annelien Diedericks (vakkundige van Naln) spesiaal hierdie gedig van Krige aan besoekers voor. Hulle kry dan ook ’n geleentheid om van die vrugte te pluk. Vir baie is dit die eerste keer dat hulle die voorreg het om self vrugte van ’n boom te pluk. En so met ’n wye draai eet ons vandag letterlik die soet, goue vrugte van eergister se mistasting met die woord “orange”.

Die geskiedenis van die lemoenbome eindig nie hier nie. Die laaste twee ou lemoenbome het weens die wortelvrot steeds verder afgesterf totdat daar slegs ’n paar groen blare aan die bome was. Hulle moes ook afgesaag word. Aangesien die bome ouer as 60 jaar was, moes vooraf eers ’n permit van die Vrystaatse Erfenishulpbronagentskap bekom word. Nadat die permit ontvang is, is hierdie twee bome, soos reeds genoem, op 5 Junie 2020 tot op die grond afgesaag. Die oorblywende ondergrondse stamme met wortels sou later verwyder word. Dit is op 27 Oktober 2021 gedoen. ’n Diep gat is om die ondergrondse stamme gespit. Alles is uitgehaal, dit wil sê die laaste stuk van die stamme met wortels asook die besmette grond met wortelvrot waarin hulle gestaan het. Daarna is die besmette grond met nuwe grond vervang. Alles was nou reg vir die oorplant van die nuwe boompies.

...
Op 11 November 2021 is twee van die jong lemoenboompies uit hulle potte gehaal en in die plek van die ou bome geplant.
...

Op 11 November 2021 is twee van die jong lemoenboompies uit hulle potte gehaal en in die plek van die ou bome geplant. Die een boompie is in die noordoostelike hoek geplant en die ander een in die suidwestelike hoek. Dit is gedoen om die historiese karakter van die binnehof te behou soos wat dit eens gelyk het.

Dit was ’n duur proses, maar gelukkig het die Vriende van Naln, onder voorsitterskap van Paul Colditz, al die fondse verskaf. Die hele operasie is onder toesig van Marius en Marlize Momberg van Benchmark Projects gedoen.

Die laaste twee lemoenboompies sal later in groter potte oorgeplant word en weer in die binnehof teruggeplaas word.

Wyno Simes, kurator van Naln, met Mariana le Roux en een van die boompies (Bron: Naln)

Die oorplant van die laaste vier lemoenboompies is spesiaal op 29 November 2021 gevier. Mariana le Roux, weduwee van Hennie le Roux, het spesiaal gekom om die linte te knip. Hierdie boompies sal, soos hul voorgangers, ook groot word en wintertyd goue vrugte dra – diep in die hart van die Vrystaat, die bakermat van die Afrikaanse letterkunde.

Vele persone was verantwoordelik vir die voortbestaan van hierdie ses jong lemoenboompies, maar twee persone se bydrae staan bo die ander s’n uit. Die eerste persoon is Otto Liebenberg, wat die eerste stappe gedoen het om hulp te soek vir die ou bome wat begin doodgaan het. Dit het alles begin met ’n enkele telefoonoproep na die CGA.

Daarna het Hennie le Roux die aflosstokkie by Liebenberg oorgeneem. Hy het letterlik uit sy pad gegaan om te sorg dat nuwe boompies van die oues se genetika gekweek word en na Naln gebring word. Dit was ’n proses wat tyd geneem het en ander persone betrek het.

Nadat die eerste twee boompies in 2014 geplant is, het Hennie le Roux hulle nooit weer gesien nie, want op 4 Oktober 2016 is hy oorlede – minder as twee weke nadat Otto Liebenberg self op 24 September 2016 oorlede is. Tog sal elke besoeker aan Naln vandag nog steeds herinner word aan sy en Liebenberg se bydrae om die geskiedenis van die Ou Goewermentsgebou uit te bou en vir die nageslag te bewaar.

Met lemoenbome. ’n Lewende monument vir hul albei.

Bronne

 Boeke

  • Brink, André P (samest), Groot verseboek 2000, Kaapstad, Tafelberg, 2000.

Dokumente

  • Botes, Marianna S, “Die Ou Goewermentsgebou in Bloemfontein: van regeringskantore tot letterkundige museum” in Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Kultuurgeskiedenis, vol 5, nr 3, Julie 1991, ble 143–60.

Koerante en tydskrifte

  • “Engelse se ‘mistasting’ destyds baat inwoners vandag” in Volksblad, 4 Junie 2020 (www.netwerk24.com).
  • “Soete misverstand voordelig” in Bloemnuus, 24 Junie 2021 (www.netwerk24.com).
  • Weare, Gloria: “Historic citrus tree planting at the old Raadsaal” in South African Fruit Journal, vol 13, deel 3, Junie/Julie 2014, ble 12–3.

Ander

  • Foto’s uit Naln se digitale fotoversameling.
  • Persoonlike herinneringe van Annelien Diedericks en die skrywer.

Vir die geskiedenis en heraldiese beskrywing van die wapen, sien ook:

  • https://af.wikipedia.org/wiki/Wapen_van_die_Oranje-Vrystaat
  • http://www.ngw.nl/heraldrywiki/index.php/Orange_Free_State.

Die stuk is oorspronklik opgestel op 6 Februarie 2018 en is toe hersien en bygewerk vir die plant van die laaste vier bome, wat op 29 November 2021 plaasgevind het.

[1] ’n Afbeelding van die korrekte wapen is by die Suid-Afrikaanse Buro vir Heraldiek geregistreer.

[2] Dit is ’n skatting. Niemand het nog ooit die bome akkuraat gemeet nie.

[3] Brink, André P (samest), Groot verseboek 2000, bl 181.

The post Die geskiedenis van die lemoenbome in die binnehof van die Ou Goewermentsgebou in Bloemfontein appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20660

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>