René van Rooyen, een van die skrywers van Alles Malan, praat met Naomi Meyer oor die tweede seisoen van dié reeks wat op 30 November 2021 op kykNET (DStv-kanaal 144) begin wys het.
Hallo René! Die tweede seisoen van Alles Malan, ’n reeks wat gesinne en families sáám laat TV kyk, het pas begin. Begin asseblief voor. Waar is die idee vir hierdie reeks gebore?
Corne [die ander regisseur; die reeks is deur René en Corne en saam met Leon Kruger en Retief Scholtz geskryf] , wat self van ’n groot gesin kom, wou baie graag ’n verhaal vertel wat die hele gesin, van oud tot jonk, saam voor die televisie sit. Iets alledaags, waarmee die algemene kyker hulself kon vereenselwig en hul families raaksien. Ons het al in 2016 begin ontwikkel aan die reeks!
........
Iets alledaags, waarmee die algemene kyker hulself kon vereenselwig en hul families raaksien. Ons het al in 2016 begin ontwikkel aan die reeks!
........
Vir mense wat die eerste seisoen misgeloop het: Kan julle in ’n paar sinne vertel wat gebeur het?
Derik het sy besigheid aan sy oudste seun, Frik, oorgelaat en afgetree om so sy tyd ten volle met sy geliefde Brenda te benut. Hy het egter ’n verswakte hart en in die laaste episode moes hy ’n hartoperasie ondergaan. Frik het die sukkelende Malan Vervoer by sy pa oorgeneem terwyl sy vrou Tessa smag om ook weer die besigheidswêreld te betree. Reeds vroeg in die eerste reeks vind die kykers uit dat Elani swanger is met haar kêrel in Engeland, Allen (Tristan de Beer), se kind. Dit is ’n skok vir haar ouers, maar hulle besluit om haar te ondersteun en te help om die baba groot te maak. Elani ontmoet vir Johan en raak smoorverlief op hom, veral omdat Allen haar nie wil ondersteun nie. Sy kies om haar verhouding met Allen finaal te laat gaan. Freek gaan op ’n soektog om sy biologiese ma te vind, en soos hy sy eie identiteit kry, moet hy sekere besluite neem.
- Wie is julle karakters en is hulle gebaseer op mense wat julle ken?
Hier onder is die karakters en die akteurs wat die rolle vertolk, se name:
Derik Malan (67)
Albert Maritz
Derik (67) is die hardkoppige, liefdevolle patriarg van die Malan-familie. Hy is getroud met Brenda en pa van twee seuns, Frik en Nico. Hy het die familiebesigheid, Malan Vervoer, self van die grond af opgebou en oorgegee aan sy oudste, Frik Malan. Na 43 jaar se getroude lewe wil hy graag sy goue jare saam met sy geliefde vrou geniet.
Brenda Malan (64)
Elsabe Daneel
Brenda (64) is die ruggraat van die familie en sal alles vir haar gesin opoffer. ’n Moderne, sterk vrou en knap tuisteskepper. Sy weet presies hoe om elke lid in haar gesin te hanteer. Terwyl sy baie ondersteunend is, besef Brenda dat sy ook vir die eerste keer iets vir haarself moet doen en haar eie passies moet ontdek.
Frik Malan (42)
Ivan Zimmerman
Frik (42) is ’n perfeksionis wat die lewe in swart en wit sien. Hy is die eersgeborene, asook Tessa se man en Freek en Elani se pa. Hy het van Londen teruggekeer om Malan Vervoer oor te neem en sien dit as ’n groot verantwoordelikheid om van sy pa se besigheid ’n sukses te maak. Frik soek die perfekte gesin, maar sukkel om sy eie ideale uit te leef, veral wanneer die falende Malan Vervoer erge druk op sy huwelik begin plaas.
Tessa Malan (42)
Nadia Valvekens
Tessa (42) is ’n baie gedrewe beroepsvrou wat as prokureur in die Paarl werk. Sy is getroud met Frik en hulle het twee kinders, Elani en Freek. Tessa is ’n sterk en dinamiese vrou, maar voel onseker oor haar rol as ma en vrou soos wat haar loopbaan begin floreer en dié van haar man sin begin faal.
Elani Malan (21)
Greteli Fincham
Elani (21) is ’n grafiese-ontwerp-student by Stellenbosch-universiteit. Sy het ’n driejarige seuntjie, Junior (Derik Malan) en is vanaf matriek in ’n ernstige verhouding met haar hoërskoolliefde, Johan Brits. Sy is vasbeslote om op haar eie voete te staan, maar wanneer Johan skielik moet weggaan, word haar wêreld omver gegooi.
Freek Malan (16)
Matteo Olivier
Freek is Tessa en Frik se aangenome seun en ’n graad 11-leerling by Hugenote Hoërskool. Hy het aanvanklik gesukkel om daar aan te pas, maar het nou vier goeie vriende saam met wie hy hope pret het. Hy is smoorverlief op die skool se populêrste meisie, Jessica de Villiers, maar moet haar eers uit die kloue van ’n gevaarlike matriekseun, red.
Nico Malan (36)
Sean Marco Vorster
Nico is die sportiewe, loskop jongste Malan-seun en rugby-afrigter van Boland Rugby. Hy is getroud met Lee Anne Isaaks en hulle verwag hul eersteling, maar nuwe ouerskap bring hope uitdagings, wat sy huwelik tot die uiterste beproef.
Lee Anne Isaaks (33)
Nicole Fortuin
Lee Anne is ’n pragtige, saggeaarde Afrikaans-onderwyseres, asook die dramajuffrou by Hugenote Hoerskool. Sy is getroud met Nico Malan. Teater is haar groot passie, maar sy besluit om dit vir eers opsy te skuif sodat sy ten volle op haar swangerskap kan fokus.
Al die karakters is uittreksels en karaktereienskappe uit ons eie families. Die stories is ook werklike gebeurtenisse. Dit is al hoe ons dit eg en rou kan hou, maar niemand is op iemand spesifieks gebaseer nie. Ons het meer gekyk na elke ouderdomsgroep en kenmerkende eienskappe wat eenders is, ondersoek.
Die eerste seisoen is in 2019 uitgesaai. Die wêreld was nog virusvry. Het enigiets van onlangse gebeure julle verhaal beïnvloed?
.......
Alles Malan is ontvlugting ... ons wil die gehore ’n storie van hoop gee. Effe wegtree van ons harde realiteit. Ons het wel na sekere idees gekyk wat Covid beïnvloed – soos wat gebeur as jou ouers siek word? Watter druk plaas dit op ons finansiële sekerheid?
.........
Ons het baie gewik en geweeg of ons Covid moes insluit, maar daarteen besluit. Alles Malan is ontvlugting ... ons wil die gehore ’n storie van hoop gee. Effe wegtree van ons harde realiteit. Ons het wel na sekere idees gekyk wat Covid beïnvloed – soos wat gebeur as jou ouers siek word? Watter druk plaas dit op ons finansiële sekerheid? Ensovoorts. Dit was natuurlik baie moeiliker om te skiet. Ons kan ons sterre dank dat ons deur die drie maande gekom het sonder een geval!
Waarna kan kykers in die tweede seisoen uitsien? Gee ons tog ’n paar lusmakers.
Ons toets en beproef die Malans se familieverhoudings nog dieper. Brenda betree die besigheidswêreld en Derik moet leer om haar te ondersteun, soos sy gesondheid verswak. Nico en Lee Anne het ’n eersteling op pad en Frik sukkel met ’n falende Malan Vervoer terwyl Tessa se loopbaan floreer.
.......
Daarmee ondersoek ons die veranderende manlike rol in baie hedendaagse Afrikaanse gesinne. Wat is die rol van die moderne pa? Wat gebeur as ’n vrou meer as haar man verdien?
........
Daarmee ondersoek ons die veranderende manlike rol in baie hedendaagse Afrikaanse gesinne. Wat is die rol van die moderne pa? Wat gebeur as ’n vrou meer as haar man verdien? Elani se hart word in twee geskeur tussen twee mans en Freek is verlief op die gewildste meisie in die skool, maar hy moet haar eers uit die kloue van die skool se grootste boelie kry.
Lees ook:
The post <em>Alles Malan 2</em> op kykNET: ’n onderhoud met René van Rooyen appeared first on LitNet.