Aan wie dit mag aangaan
Laat hierdie brief dien as my amptelike van die hand wysing van die Sala-poësieprys vir 2021.
Die toekenning van literêre pryse is ’n poging om die allerbeste werk van ’n skrywer of genre te beloon. Dit is egter nie die geval met die Sala-pryse nie. Uit ’n skrywe van Sala aan my vandag blyk dit nou dat ons álmal wenners is, en dat die prysgeld gelykop tussen my en my “medewenners” verdeel sal word. Dit strook nie met die publisiteit vooraf waar pertinent genoem word dat die prysgeld R60 000 is nie. Dit is misleidend en oneerlik.
Dit word duidelik dat die Sala-bestuur nie in beheer van die prosesse is nie, dat hulle geen benul het van wat pryse en bekroning behels nie. Dit is alreeds problematies om verskillende tale teen mekaar te wil vergelyk.
So was in my kategorie inskrywings in Afrikaans, Engels, Xhosa, Setswana, Tshivenda en Sepedi. Die logiese sou wees om die veeltaligheid van ons land in ag te neem en in elke taal ’n wenner aan te wys. In stede daarvan wil dit voorkom of die keurders ’n probleem gehad het om ’n enkele wenner aan te wys, en elk hulle taal as wenner wou sien. Dié situasie is vererger deur die Sala-bestuur se besluit om dan maar almal gelukkig te hou en die prysgeld soetjies-soetjies onder al die “wenners” te verdeel. Die faling van vanjaar se bekronings het onder meer te doen met keurders se onbekwaamheid om ’n duidelike wenner aan te wys.
Ek het simpatie met die ander digters en skrywers. Hierdie tameletjie is nie hulle maaksel nie, maar dié van die lomp, onkundige administrasie van Sala. As gevolg hiervan is die Sala-pryse betekenis- en waardeloos, en behoort dit nie met enige erns bejeën te word nie.
Vriendelik
Johann de Lange
Lees ook:
Press release: 16th South African Literary Awards, the 2021 winners
Fanie Olivier resenseer Die meeste sterre is lankal dood deur Johann de Lange
The post Aan die Sala-bestuur: My redes waarom ek nie die poësieprys aanvaar nie appeared first on LitNet.