Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Gehoorsaamheid aan ’n hoër gesag

$
0
0

"Die vraag oor burgerlike ongehoorsaamheid ten einde ’n regering te beïnvloed of selfs omver te werp, en spesifiek of Christene en geloofsgemeenskappe daaraan mag deelneem, is nie ‘n vraag waarop ons die spesifieke antwoorde in die Bybel sal vind nie," skryf Reggie Nel. Hierdie bydrae is deel van ʼn seminaar oor 'n LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe)-artikel deur Bernard Lategan.

reggienel650

Reggie Nel

Julius Malema en sy rooi brigade is nou al ’n paar keer uit die parlement gedra vanweë hulle beweerde oortreding van die parlementêre gedragskodes. Van my lidmate in die gemeentes, en selfs predikante, ondersteun hulle pogings om op onortodokse maniere die mag van die regerende party te ondermyn – veral ten opsigte van die skandelike besteding van publieke fondse vir die president, asook die misbruik van mag by Marikana om die Lonmin-myn en vakbondbase te beskerm.

’n Mens sou kwalik die optredes van Juju en die EFF op dié stadium as burgerlike ongehoorsaamheid beskou, en tog is dit moontlik dat hul oortreding van parlementêre reëls miskien ’n voorbode is van iets meer omvangryk. Onderwerping aan die staat kan tog nie beteken ’n meedoen aan praktyke wat as onregverdig en gewelddadig ervaar word nie.

Die vraag oor burgerlike ongehoorsaamheid ten einde ’n regering te beïnvloed of selfs omver te werp, en spesifiek of Christene en geloofsgemeenskappe daaraan mag deelneem, is nie ‘n vraag waarop ons die spesifieke antwoorde in die Bybel sal vind nie. Bybelse figure soos Moses, Daniël, Jeremia, Petrus en Paulus, wat soms erg met owerhede gebots het, het binne hulle spesifieke situasies gewetenskeuses gemaak en dan so gepraat en gedoen. Die vraag is dus eerder: Wat is ons spesifieke omstandigheid of redes hoekom die vraag juis nou sy kop uitsteek en wat is ons eie belange en keuses in hierdie gesprek?

Die tipe van tradisie van waaruit ek hier praat, is van belang. Dit is ’n tradisie wat die aanspraak op die “god van wet en orde, en die “God van Romeine 13:1-7” wat blinde gehoorsaamheid aan die staat verwag, verwerp het.

Uiteraard is die artikel van Bernard Lategan, “’n Verskuiwing na ’n oper en meer ‘pragmatiese’ lees van Romeine 13:1–7?” verhelderend om die dwaling van die teologie agter die ideologie van die god van wet en orde en die afgod van blinde gehoorsaamheid te ontmasker. Ek kom later terug na hierdie teologie.

Oor hierdie tradisie waarvandaan ek praat, moet ’n paar goed vooraf gesê word. Eerstens moet ons erken dat alle denke en uitsprake oor God (ons teologie) en ook dan oor ons verstaan van ons menslike roeping en optredes ten opsigte van sake soos geregtigheid, medemenslikheid, verantwoordbaarheid en dies meer (ons missiologie) nooit finale, absolute dekrete kan wees nie.

Ons dink, praat en doen ten dele – ons kyk nog in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld – maar ons is tog gewillig om te waag, om op te tree in terme van wat ons hoor. Daar is dus ’n tweede erkenning, naamlik dat ons ons waagstukke saam met mekaar doen – ons staan in ’n verhouding tot andere. Ons denke, uitsprake en optredes word ontvang en uitgedaag in gemeenskap.

Laastens is dit vir ons belangrik om dan ook vas te hou daaraan dat ons keuses aksies oproep. Ons word nie geken bloot in dit wat in boeke en selfs geloofsbelydenisse oor onsself of deur ons self geskryf is nie – ons word geken aan ons handelinge – dit is ’n verstaan van ortopraksie as ortodoksie.

Die bekende Kairos Dokument (KD) is in September 1985, presies 30 jaar gelede, bekendgestel en is ’n sprekende voorbeeld van hierdie tradisie. Die eerste uitgawe bevat hierdie woorde: “Daar is niks finaal aan die dokument nie” (bl 25; sien ook Saayman 2008:18), en later: “Ons, die ondergetekendes, neem medeverantwoordelikheid vir wat deur hierdie dokument bekend gestel word, nie as ’n finale waarheid nie, maar as die rigting waarin God ons lei in hierdie oomblik van ons geskiedenis” (bl 26).

Dit verbaas dus nie dat die KD nie vir almal tevrede kon stel of wil stel nie. Vir sommige was dit egter ’n verdelende mag in die kerk, en ’n struikelblok vir versoening en vrede. Dit was vir die opstellers van die KD eerder belangrik om vanuit die spesifieke (beperkte) situasie na antwoorde te soek. In die KD word daar dus keuses gemaak, en spesifiek om in die verhouding met ’n gewelddadige en magtige staat en ideologie te staan by die armes en verdruktes en om dus saam met diesulkes deel te neem aan die stryd vir bevryding en ’n regverdige samelewing. Hulle kies ook om kerklike aktiwiteite op so ’n wyse te transformeer dat dit relevant word vir die armes en verdruktes en belangrik vir die gesprek, om dan ook selfs burgerlike ongehoorsaamheid te oorweeg.

Uit die bespreking oor burgerlike ongehoorsaamheid kan die volgende belangrike oorwegings ook relevant bly vir sodanige gesprek vandag. ’n Sleutelvraag was of die regering van die dag nog steeds morele legitimiteit het en of dit verstaan kan word as ’n tirannie. Die antwoorde op hierdie vrae was vir die opstellers van die KD belangrik ten einde die handelinge van die kerk teenoor die staat te bepaal. Bandeloosheid was nie die hoofdryfveer nie. Dit het gegaan om die gehoorsaamheid aan ’n hoëre morele kode.

Tweedens is dit gestel dat die kerk nie meer maar net moet bid vir die verandering van regering nie – dit moet voortgaan, maar in ’n spesifieke situasie waar die regering sy morele legitimiteit prysgegee het en met geweld regeer, moet die kerk eerder sy lede mobiliseer om te dink, beplan en werk vir ’n verandering van regering. Die klem hier val op ’n toekomsvisie, gebou op ’n stewige hoop en geloof vir ’n beter toekoms – nie anargie of bloot magsug nie.

Vir die opstellers van KD was dit al hoe meer duidelik dat die morelegesagskrisis van spesifiek die apartheidsregering gemaak het dat daar wel by tye betrokkenheid sal wees by burgerlike ongehoorsaamheid. Die gedeelte eindig dus met die stelling: “’n Kerk wat sy verantwoordelikhede ernstig opneem in hierdie omstandighede sal somtyds die staat konfronteer en verontagsaam, ten einde aan God gehoorsaam te wees” (bl 24).

Uiteindelik gaan dit dus oor die vraag hoe om God in ’n spesifieke situasie te gehoorsaam. Waar magsvergrype, geweld en die staat se morele legitimiteit op die spel geplaas word vir persoonlike of eksklusiewe groepsbelang, ten koste van die beginsels van regverdigheid en ubuntu, en waar die uitroepe om bevryding van mense in die strate weerklink, dan moet die tekens van die tye weer gelees word ten einde opnuut eerder aan God gehoorsaam te wees as aan die owerhede en magte. Miskien is dit juis omdat die kerk nie meer luister en gehoorsaam nie waarom ander stemme opkom vir die armes en die families van die gevalle mynwerkers van Marikana.

  • Reggie Nel doseer teologie aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) en is ’n gelegitimeerde predikant van die Verenigende Gereformeerde Kerk.

The post Gehoorsaamheid aan ’n hoër gesag appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!