Sommige Suid-Afrikaners is nie net behep met ras nie, maar ook met titels of kwalifikasies – soos doktorsgrade – wat hulle status ʼn hupstoot kan gee. In die onlangse verlede het ons menigte Suid-Afrikaners met hoë aansien op verskeie vlakke van ons samelewing uitgetrap dat hulle vir jare gelieg het oor hul kamtige doktors- en ander nagraadse kwalifikasies by gesiene plaaslike en/of oorsese universiteite.
Dink aan oudminister Pallo Jordan, wat sedert sy ballingskap vir jare bekend gestaan het as “dr Jordan”. Toegegee, die man is ʼn skerpsinnige intellektueel, maar dat hy voorgegee het hy het ʼn doktorsgraad is totaal oneties en onaanvaarbaar.
Dat Suid-Afrikaners so in die omgang wonder of iemand wat bekend staan as “doktor dit” of “professor dat” regtig ʼn “regte” doktorsgraad aan ʼn legitieme universiteit verwerf het, is nie meer ongewoon nie.
Ons wonder hardop en spot en lag sommer lekker daaroor.
ʼn Kollega het onlangs sy PhD-graad na sewe jare van baie sweet verwerf. Die stomme man het ons so gekoggel dat hy net soos ons lekker daaroor gelag het.
Die kwessie van titels in Suid-Afrika is glad nie net ʼn kontemporêre verskynsel nie. Dit is ʼn ou kwessie wat nou en dan kop uitsteek.
In 1994 toe wyle Jakes Gerwel aangestel was as direkteur-generaal in president Nelson Mandela se kantoor het dié kwessie weer eens na die oppervlak geborrel.
Die vraag was toe: Gaan ons voortaan nog altyd praat van “prof Jakes Gerwel”, of is dit “dr Gerwel”?
In die akademie is dit ʼn feit dat ʼn professoraat nie ʼn titel of ʼn graad is nie, maar ʼn amp.
Die ouduitgewer Koos Human het geskryf: “As 'n professor in die gewone gang van sake met pensioen aftree, word hy of sy deur 'n besluit van sy universiteitsraad 'n professor emeritus, en kan die titel en aanspreekvorm professor behou word. Bedank hy voor sy normale aftrede om 'n ander beroep te gaan beoefen, het hy geen aanspraak meer op die titel nie.
“'n Universiteitsraad mag glo nog altyd besluit om aan die uitgetredene as gebaar die titel toe te ken, maar vermoedelik (en hopelik) geskied dit baie selde. Met 'n predikant is dit dieselfde gesteld. As jy aftree, word jy 'n emeritus, maar as jy bedank om iets anders te gaan doen, verbeur jy die titel dominee, en is jy gewoon meneer (of indien geleerd genoeg, doktor).”
Voorbeelde hiervan is daar baie. Oudpres Woodrow Wilson van Amerika was 'n professor aan Harvard voordat hy tot president verkies is.
Hedendaags het ons ‘n klomp mense wat oor geen doktorsgraad beskik nie, maar wel ʼn eregraad, wat “doktor” voor hul name skryf.
Die vraag is, is dit ʼn vorm van snobisme?
Ek sou sê as jy ʼn titel gebruik waarop jy nie geregtig is nie, of toelaat dat dit gebruik word, reflekteer hierdie wanvoorstelling van eie waarde sleg op jou karakter.
The post Hotnotsgot: Doktors en professore appeared first on LitNet.