Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik. Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za.
Kort na halftien op Saterdagaand 14 Junie 1986 is 'n poeierblou Ford Cortina voor die Parade Hotel in Marine Parade, Durban geparkeer. 'n Paar minute later is die hotel en omliggende geboue deur 'n geweldige ontploffing geruk.
Vroeër die aand het die 23-jarige Robert McBride, 'n lid van die ANC se militêre vleuel, Umkhonto we Sizwe, 'n bom – bestaande uit 'n groot hoeveelheid plofstof, 200 AK 47-patrone en 'n aantal ysterstawe – agter in die Cortina se bagasiebak geplaas. Sy uitgesproke motief was om soveel blankes as moontlik dood te maak of te vermink.
Die effek van die latere ontploffing was vernietigend. Drie blanke dames is gedood en 89 mense is beseer. Die Parade Hotel is baie ernstig beskadig. Deure en vensters is uitgeruk en daar was strukturele skade aan al die verdiepings van die hotel. Ander geboue in die omgewing is ook ernstig beskadig. Die feit dat wrakstukke en ander puin versprei was oor 'n gebied van 500 m van waar die Cortina gestaan het, het daarop gedui dat dit 'n baie kragtige bom was.
Fyn speurwerk het daartoe gelei dat Robert McBride uiteindelik deur die polisie aangekeer is. In Februarie die volgende jaar het hy in die Natalse hoër hof in Durban tereg gestaan op 18 aanklagte, wat ingesluit het drie moordklagtes, die plant van kleefmyne, die gooi van handgranate en dies meer.
Dit is een kant van die verhaal.
Die ander kant is nie minder ontstellend nie. Dit is McBride se eie persoonlike geskiedenis wat die afskuwelike daad van 14 Junie voorafgegaan het. Dit begin eintlik by sy vader, Derrick, wat as 'n kleurling geklassifiseer is terwyl een van sy broers weer as 'n blanke geklassifiseer is. Derrick McBride se ma het hom verwerp juis omdat hy donkerder van kleur was as die res van die familie. Hy is uiteindelik getroud met ene Dorris van Niekerk, die dogter van 'n blanke vader en 'n gekleurde moeder. Robert was hulle enigste kind. Hy is van kleins af deur sy verbitterde pa aangemoedig om geskiedenis- en politieke boeke te lees. By sy pa het Robert ook geleer om blankes te haat.
As jong student aan die Universiteit van Natal het Robert egter probeer om deur die blanke gemeenskap geassimileer te word. Hy het immers aan 'n blanke universiteit gaan studeer; vir 'n blanke rugbyklub uitgedraf; sy vriendin, hoewel gekleurd, het baie na 'n blanke meisie gelyk, ens. Maar oral waar hy gegaan het, moes hy vernederende opmerkings van blankes verduur. Sy studies aan die Universiteit van Natal het misluk en uiteindelik het hy hom weer bevind in Wentworth, Durban, waar hy grootgeword het. Wentworth is beskryf as 'n kleurlingghetto – een van Durban se mees verwaarlooste en agtergeblewe gemeenskappe. Misdaad, alkoholisme, armoede en onsedelikheid het daar hoogty gevier.
Maar steeds het die jong McBride probeer om bo sy omstandighede uit te styg. Hy het op 20-jarige ouderdom onderwys begin studeer aan 'n onderwyskollege in Wentworth. Die omstandighede aan die kollege was haglik en as lid van die studenteraad het McBride al hoe meer ontnugter en verbitterd geraak. Geen wonder nie dat hy soos 'n ryp vrug in die skoot van Umkhonto we Sizwe geval het toe hy deur die ANC vir dié organisasie gewerf is.
Tydens sy latere moordverhoor moes die hof oor die vraag beslis of daar versagtende omstandighede bewys is wat sou verhoed dat die hof verplig sou wees om die doodstraf op te lê. Die regter het daarop gewys dat ons in 'n land leef waar die normale menslike vryhede oor 'n lang tydperk deur wetgewing ingekort is. "White domination," het die regter bygevoeg, "has blurred the fine edges of moral judgment." Maar, het die hof beslis, in geen beskaafde land word dit as moreel aanvaarbaar beskou dat onskuldige persone gestraf mag word vir die sondes van ander nie. Die drie blanke dames wat gesterf het se politieke verbintenisse was onbekend. Om hulle dood te maak net omdat hulle blankes was, was net so rassisties as die stelsel wat McBride beveg het. Die hof kon geen versagtende omstandighede bevind nie en het hom drie maal die doodstraf opgelê en vir sy ander misdrywe etlike jare gevangenisstraf.
McBride het teen sy doodstraf geappelleer, maar ook die appèlhof kon geen versagtende omstandighede bevind nie.[1]
Oplaas was daar egter wel vir McBride genade. Vanweë politieke verwikkelinge is 'n moratorium op die voltrekking van die doodstraf deur die regering van president De Klerk uitgevaardig en nog later is hy uit die gevangenis vrygelaat. (Dieselfde het met Barend Strydom gebeur, wat sewe swart mense koelbloedig in Pretoria afgemaai het.)
McBride is tydens die algemene verkiesing van 1994 tot ANC-parlementslid verkies. Nie te lank daarna nie het hy opslae gemaak toe hy opleiding ontvang het om Suid-Afrika as diplomaat in die buiteland te verteenwoordig. Daarna was hy na bewering betrokke by ‘n bisarre wapensmokkelvoorval in Mosambiek. Sy ernstige motorbotsing terwyl hy hoof van die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit se verkeerspolisie was – en sy daaropvolgende opspraakwekkende dronkbestuurverhoor - is ook nog vars in die geheue.
Robert McBride se verhaal, maar ook die verhaal van sy slagoffers, vorm onlosmaaklik deel van die geskiedenis van hierdie "wye en droewe land", soos Van Wyk Louw dit by geleentheid beskryf het.
[1] Vgl S v McBride 1988(4) SA 10 (AD)
The post Regsalmanak: Robert McBride appeared first on LitNet.