Agtergrond
Toe my goeie vriend Frikkie Lombard tydens die Woordfees sy aanbieding in die WAT-Gesprekreeks oor humor in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal na die volgende uitdrukking verwys: “Vandat die dood in die lewe gekom het, is ʼn mens nie meer seker van die lewe nie”, het dit my onmiddellik weer laat nadink oor die onafwendbaarheid van die dood. Wat behels die volle omvang en implikasies van palliatiewe sorg? Behoort die pasiënt enigsins aanspraak te kan maak op die reg om sy eie dood te bestuur? Volgens die Christelike teologie skep God die lewe en daarom word die dood van die mens nie aan blote toeval oorgelaat nie. Menslike wilsbesluite om beheer te wil neem oor die dood dmv metodes soos waardigheidsdoding en hulpselfdoding word egter dus op dogmatiese gronde deur ʼn teologiese paradigma genegeer.
Menslike lyding en die individu se reaksies daarop dien meermale as voorbeelde vir naasbestaandes en vriende waarop gemodelleer kan word. Aan die ander kant word dikwels simplisties geredeneer dat ʼn persoon wat waardig lewe, dalk sou verdien om waardig te sterf; en sou ʼn persoon wat onwaardig lewe, nie juis verdien om sy laaste asem op ʼn waardige wyse uit te blaas nie?
Uit ʼn regsoogpunt is waardigheidsdoding onwettig in Suid-Afrika en kom uitvoering van die praktyk op moord neer, waarvan die Hartmannsaak in 1975 ʼn voorbeeld is. Nederland, België, Switserland, Kanada en sekere state van die VSA is voorbeelde van lande en owerhede wat reeds hul wetgewing in hierdie verband aangepas het.
In die praktyk kom moreel-etiese dilemmas wat met waardigheidsdoding en hulpselfdoding verband hou, gereeld voor. Het Sean Davidson se moeder moreel-eties korrek opgetree deur te verwag dat haar seun haar moes bystaan tydens haar selfdood? Craig Schonegevel as gelowige Christen se stryd om met waardigheid te sterf was traumaties en tevergeefs. Indien Dignitas die spreekwoordelike “groen lig” sou gegee het, kon die gebeure dalk anders verloop het? (Davidson 2009 en 2012; Thamm 2013).
Begripsomskrywing
Waardigheidsdoding of eutanasie is die “pynlose doodmaak van lyers aan ongeneeslike siektes” en verwys dus na ʼn “maklike, rustige dood as gevolg van maatreëls deur die geneesheer”. Die meer bekende sinoniem hiervoor is genadedood (Botha, Lombard, Van Wyk, Rademeyer en Blair-Fourie 2014).
Wanneer die praktisyn/persoon self die middel toedien wat tot die dood van die pasiënt lei, word na waardigheidsdoding verwys (Bramstedt 2015), en wanneer ʼn praktisyn die middel(s) beskikbaar stel, maar die pasiënt die dodelike dosis self administreer, hetsy deur inaseming, insluk of inspuiting, word van praktisyn-geassisteerde-selfdood of -selfdoding (PGS) gepraat.
Waardigheidsdoding kom in verskillende vorme voor, waarvan elkeen ʼn unieke stel regs-, mediese en religieuse en moreel-etiese implikasies meebring.
Daar is veral drie tipes, wat gebaseer is op die aard van pasiënttoestemming.
(a) Waardigheidsdoding kan vrywillig wees indien die bevoegde toestemming van die pasiënt verkry word wat as gevolg van die optrede sal sterf.
(b) Onwillekeurige waardigheidsdoding is van toepassing wanneer die persoon se wense met betrekking tot waardigheidsdoding onbekend en nievrywillig is.
(c) Gedwonge waardigheidsdoding vind plaas wanneer die persoon wat as gevolg van waardigheidsdoding sal sterf, die prosedure weier, maar waardigheidsdoding gebeur in elk geval.
Op grond van die prosedure wat gebruik word om die dood te veroorsaak, kan waardigheidsdoding óf aktief óf passief wees – dit is die mees algemene en bekende manier om waardigheidsdoding te klassifiseer. Aktiewe waardigheidsdoding vind plaas wanneer 'n dokter/persoon direk en doelgerig die dood van die pasiënt veroorsaak, maw waardigheidsdoding is die direkte oorsaak van die dood van die pasiënt. Passiewe genadedoding vind plaas wanneer die dood meegebring word deurdat 'n lewensondersteunende handeling nie uitgevoer word nie. Dit kom daarop neer dat die verskaffing van weerhouding, of die staking (onttrekking) van ʼn behandelingstrategie wat redelik effektief in die voorkoming van die pasiënt se dood sou wees (Khan ea 2015:184).
Enkele nuwe ontwikkelings
ʼn “Moet kyk” Australiese film, Last cab to Darwin, is onlangs internasionaal beskikbaar gestel (Bramstedt 2015), waarin ʼn gebalanseerde standpunt teenoor ‘n pasiënt/persoon se hulpselfdoding ingeneem word. Die film word aanbeveel as uitstekende kykstof vir onkoloë, medici, psigiaters, sielkundiges en maatskaplike werkers.
Die Australiese Mediese Vereniging (Gannon 2015) is tans besig om hul amptelike beleidsdokument oor waardigheidsdoding te hersien. Die huidige beleid spel uit dat medici nie betrokke moet raak by ingrepe waarin lewens beëindig word nie. Die volgende vier spesifieke handelinge verteenwoordig nie waardigheidsdoding nie: (i) die nie-implementering van lewensverlengingsmaatreëls; (ii) die staking van lewensverlengingsmaatreëls; (iii) die nie-aanbieding van futiele behandeling/sorg ("futile care"); en (iv) die toepassing van dubbele-effekbehandeling.
Uiteenlopende navorsing oor waardigheidsdoding word wêreldwyd gedoen. Die resultate van ‘n studie onder Pakistanse dokters (Khan ea 2015) dui onomwonde daarop dat die mens homself nie die outoriteit kan toe-eien om die lewe van 'n ander mens te beëindig nie.
Op 13 Februarie 2014 is België se wetgewing aangepas om waardigheidsdoding-aansoeke vir terminale siek kinders ouer as 12 jaar moontlik te maak (Samanta 2015).
Kenmerke van ‘n waardige dood
Wat sou die kenmerke van die proses wees as ‘n basis vir ‘n goeie/waardige dood? In ‘n Nederlandse studie (Goldsteen, Houtepen, Abu-Saad, Spreeuwenberg en Widdershoven 2006) word 13 terminale pasiënte se narratiewe deur middel van ‘n hermeneutiese benadering ondersoek. Die belangrikheid van die bewustheid by die pasiënt van sy/haar onafwendbare dood en die aanvaarding van die feit van die sterwensproses staan uit as die mees prominente bevinding. Daarbenewens blyk oop kommunikasiekanale, hantering van finale verantwoordelikhede, emosionele beheer, asook die lewe tot aan die einde van deurslaggewende belang te wees.
Kehl (2006) maak gebruik van Rogres se evolusionêre metode van konsepontleding om die inhoud van akademiese-joernaal-artikels te ontleed. Nadat verskeie databasisse geraadpleeg is, is ‘n finale groep van 42 verwysings vir ontleding geselekteer. Die resultate dui op die volgende hoofkenmerke: om in beheer te wees; om gemaklik te wees; bewustheid van sluiting of finaliteit (sense of closure); ervaring van eerbied/waardigheid as sterwende persoon. Elke hoofkenmerk word verder in ʼn reeks spesifieke elemente onderverdeel.
Gevolgtrekking
Waardigheidsdoding word deeglik nagevors en het as verskynsel gekom om te bly, maar die volle omvang van die implikasies van die uitvoering van die proses is allermins duidelik en volledig geboekstaaf. Watter effek het die voorbereiding van die dodelike eutanatikum byvoorbeeld op die geneesheer, en wat weet ons van die sielkundige lyding van die pasiënt (benewens sy/haar fisieke lyding) wat die waardigheidsdodingaansoek onderteken?
Die kenmerke wat met die belewing van ‘n waardige dood verband hou, kan hetsy direk dmv sterwende pasiënte ondersoek word (alhoewel hierdie metode etiese implikasies kan inhou) of kan dmv literatuurstudies geïdentifiseer word.
Waardigheidsdoding is nie noodwendig gelyk aan die belewing van ‘n waardige dood nie. ‘n Waardige dood is ‘n individuele interaktiewe proses waartydens die optrede van professionele-diens-leweransiers, naasbestaandes, vriende en ook die pasiënt self ‘n deurslaggewende rol speel.
Oop kommunikasie, ervaring van eerbied, emosionele beheer en voluit lewe is verder nie prosesse wat uitsluitlik tydens die terminale fase “geaktiveer” kan word nie, maar is attribute wat oor die totale lewensloop ontwikkel en deurlopend verder uitgebou moet word.
Bibliografie
Botha, WF, FJ Lombard, GJ van Wyk, L Rademeyer en H Blair-Fourie. 2014. Elektroniese Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Stellenbosch: Buro van die WAT.
Bramstedt, KA. 2015. Last cab to Darwin. Journal of Bioethical Inquiry, 12(4):725-6.
Davidson, S. 2009. Before we say goodbye. Penguin Books, Auckland, New Zeeland.
—. 2012. After we said goodbye. Auckland, New Zeeland: Penguin Books.
Gannon, M. 2015. Review of AMA policy on euthanasia and physician assisted suicide. Australian Medicine, 27 (10), 19.
Goldsteen, M, R Houtepen, HH Abu-Saad, C Spreeuwenberg en G Widdershoven. 2006. What is a good death? Terminally ill patients dealing with normative expectations around death and dying. Patient Education and Counselling, 64(1–3), 378–86.
Kehl, K.A. 2006. Moving toward peace: An analysis of the concept of a good death. American Journal of Hospice & Palliative Care, 23(4), 277-286.
Khan MA, A Javaid, H Sajjad, F Ahmad, A Khattak, N Khan en MAR Adnan. 2015. Clinicians approach to euthanasia in the province of Khyber Pakhtunkhwa. Journal of Postgraduate Medical Institute, 29(3):184–8.
Samanta, J. 2015. Children and euthanasia: Belgium’s controversial new law. Diversity and Equality in Health and Care, 12(1):4–5.
Thamm, M. 2013. The last right. Craig Schonegevel’s struggle to live and die with dignity. Jacana Media, Johannesburg.
The post Waardigheidsdoding (Eutanasie) appeared first on LitNet.